Boek van die maand: ‘As die Cape Flats kon praat’ deur Brian Fredericks

Die titel vir sy debuutbundel kortverhale, As die Cape Flats kon praat, het Brian Fredericks ontleen aan die titel van James Baldwin se roman van 1974, If Beal Street Could Talk. Dit is albei titels wat werk met die versugting dat die plek waar die verhaal/verhale afspeel as’t ware self aan die woord sou kon kom. In Baldwin se geval Harlem, New York. Vir Fredericks is dit die Kaapse Vlakte.

Ironies is dit in albei gevalle. Want soos Harlem is die Vlakte onmiskenbaar aan die woord – tot só ʼn mate dat as die karakters sou dink of sou waag om die plek te verlaat – om ʼn beter plek te oorweeg – sou Beale Street soos Elsies harder terugpraat en hulle sodoende van ontsnapping weerhou.

By die lees van Fredericks se verhale, wat ʼn mens nie verskree nie maar net so uiters woordeloos laat, het twee ander boeke, uit die Skotse wêreld, by my opgekom. Irvine Welsh se Trainspotting (1993) en How Late It Was, How Late, die roman waarmee James Kelman in 1994 die Bookerprys verower het. Dié twee boeke omdat albei die geykte Engels-taalregisters aansienlik verruim het en boonop die leser (wat nie aldag Skots hoor en lees nie) genoop het om deur middel van ʼn noukeurige omgang met die taalgebruik (benewens die “dialektiese vorm” in die geval van Welsh is gepraat van ʼn “kinetic rush of vocal spectacle” en in dié van Kelman van ʼn “stream of consciousness”) soort van deel te word van die omgewing én die omstandighede.

Met dit alles in gedagte is nie een van dié boeke les bes die soort leesstof wat jou onmiddellik in ʼn hoopvolle luim kry nie. Maar, soos Baldwin destyds by die bekendstelling van Beale Street gesê het: “Every poet is an optimist… But on the way to that optimism you have to reach a certain level of despair to deal with your life at all.”

Dié mengsel van wanhoop en optimisme word as’t ware die klankbaan wat Fredericks vir die nege verhale aanbied – in die vorm van die Amerikaanse kletsrymer 2Pac se Better Dayz-playlist en dié motto: “Too many murders, too many funerals, and too many tears / Just seen another brother buried, plus I knew him for years / Passed by his family, but what could I say? / Keep yo’ head up and try to keep the faith / And pray for better days.”

Dat die Kaapse Vlakte mank gaan aan armoede en geweld, dat dit ʼn plek is wat baie mense soos die pes sou wou vermy, is ʼn feit. Dat gesinne verbrokkel is, dat dwelms en diefstal alledaagse euwels (of bronne van inkomste) is, is algemene kennis. Dit alles verbeeld Fredericks flink. Maar die wanhoop wat hy wil uitwys, vind hy in die persepsies waarmee sy karakters lewe en nie van kan afsien nie. Vooropgestelde idees oor die lewe (soos verwoord deur 2Pac), oor sosiale status (waar jy woon en wat jy aantrek), oor gelaagheid in die samelewing (ook in die tronkopset waar franse geen aansien het nie), oor ras (ʼn man met ʼn ligte vel heet Whitey en het aansienlik meer sukses as sy broer met ʼn vel die kleur van rooibostee, sonder melk) en wat nie al nie.

Die diepste vorm van wanhoop wortel, so lyk dit, in die stereotipes (waarvolgens ons almal leef en oordeel – en dit is dalk een van die skrikwekkende gewaarwordings wat ʼn mens het by die lees van die boek) en wat ons gevange hou. Of jy nou op die Vlakte woon of in Faerie Glen.

Hoewel die Kaapse Vlakte in talle gedaantes in dié verhale aan die woord kom – en Fredericks skryf dele van die Vlakte óóp – is dit meer as die gebruik van byvoorbeeld tronktaal (Sabela) wat daartoe lei dat baie lesers nie alles sal begryp nie. Slim om nie dié woorde en terme te verklaar nie, want ʼn buitestander kan kwalik volle begrip vorm van lewe op die Flats. As jy nie die attraction vannie Nomme snap nie, is en bly jy immers ʼn outsider.

Vir die leser is nie alles wanhopig nie. Fredericks se onopgesmukte en priemende manier van kyk word dikwels weergegee in sinsnedes wat vermaaklik is. Daarby laai hy sy sinne net so maklik met ʼn woedende energie. Met die taal wat die Cape Flats praat.

As die Cape Flats kon praat – Green Eyes en ander stories deur Brian Fredericks word uitgegee deur Human & Rousseau. Die boek kos R245.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.