Boek van die maand: ‘As in die mond’ deur Nicole Jaekel Strauss

Nicole Jaekel Strauss het met Maal, haar debuutbundel kortverhale, in 2011 die Eugène Marais-prys en die Universiteit van Johannesburg (UJ) se debuutprys vir skeppende skryfwerk verower. Onlangs was sy op die kortlys vir die 2017 UJ-prys met haar jongste bundel kortverhale, As in die mond.

Soos die geval met Maal was en in die tweede bundel meer so, staan die verhale nie los van mekaar nie, en kom die leser mettertyd en dieper die bundel in dieselfde karakter meermale teë. Verskeie fasette van karakters kom in verskillende verhale na vore en stelselmatig vorm daar ʼn legkaart in die leser se verbeelding.

Dié “speurwerk” is een van die aspekte wat die lees van Jaekel Strauss se bundels so ʼn aangename ervaring maak. Haar leidrade plant sy met sorg.

Sorgsaamheid is immers ʼn algemene kenmerk van haar skryfwerk. Dit blyk uit die karakters wat sy kies, die plekke waar die verhale afspeel, en bowenal die klein detail, waar ʼn mens maklik bó-oor kan lees, wat die bindingsmateriaal vir die stories word. Op ʼn opvallende vlak as, soos in die titel, en vuur (om by as uit te kom), klippies en kerkklokke; en op ʼn minder opvallende vlak katte, honde en swane, eierwit (en suurlemoen-meringue), skoensole en die kleur blou.

“’n [M]ond vol as is wraggies nie lekker nie. Die snykant van die lewe,” het Jaekel Strauss in ʼn onderhoud oor die titel van die bundel gesê. As kan ʼn mens op verskillende maniere interpreteer, en in elke betekenismoontlikheid skuil daar ʼn verruiming van die titel. Mond het te doen met voeding, geboorte, moederskap en eindelik ook in segging as ʼn kunsuiting. Dat ʼn mens jou herhaaldelik soos ʼn feniks uit die as in die lewe kan in praat, hou verband met die motto van Gabriel García Marquez wat Jaekel Strauss voor in haar bundel gebruik: “… life obliges them [human beings] over and over again to give birth to themselves”.

So noukeurig as wat sy met teksture omgaan, is sy ten opsigte van die toonaard van die 12 verhale. Onderliggend is daar ʼn melancholie wat sy draaglik maak én aksentueer met aangrypende beelde en taalgebruik, baie soos wat Leonard Cohen dit doen – na wie se musiek en lirieke direk verwys word.

Die leser kom in die eerste verhaal die ma teë van ʼn dogter wat ten onregte moes boet vir haar dade. Moontlik is dit die histories verwyderde gegewe in die verhaal wat daartoe bydra dat ʼn mens hier nie dieselfde onmiddellike assosiasie as in ander verhale kry nie. Nietemin kom vuur sowel as die ma-dogter-verhouding hier reeds kragtig aan die orde. Dié aspekte neem talle vorme aan totdat die leser eindelik in die laaste verhaal die kloutjie by die oor kry.

Hoewel sommige van die karakters dalk vlietend ʼn verskyning maak in van die verhale, beliggaam hulle idees wat die verhaallyne aanvul en bydra tot die kleur en geur (veral van gebak) in die bundel. As in die mond bied die leesplesier wat ʼn roman het. Dit is ʼn boek wat spook lank nadat jy dit finaal neergesit het.

As in die mond deur Nicole Jaekel Strauss word uitgegee deur Queillerie. Dit kos R249.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.