Boek van die maand: Die biblioteek aan die einde van die wêreld

Die geweld en inhaligheid van die jare tagtig wat Etienne van Heerden in die oog gehad het in Casspirs en Campari’s, sy roman van 1991 (wat hy “ʼn historiese entertainment” noem), leef bykans 30 jaar voort in Die biblioteek aan die einde van die wêreld. Dalk net met minder ratelende konvooie. En Biblioteek is dalk minder van “entertainment” as Casspirs, maar nie minder histories van aard nie. Bowenal is die groot ooreenkoms die sug na betekenis.

In sy agterkop het Ian Brand ʼn biblioteek iewers in die Karoo. ʼn Plek waar alles wat al oor die Karoo in die een of ander vorm van taal voortgebring is, boeke én skilderye, veilig versamel kan word. Ian Brand is ʼn suksesvolle Kaapstadse prokureur van bykans 50. Hy het ʼn LLM van Oxford én een van Cambridge, en sy spesialisasieveld is regskwessies rondom kunsmatige intelligensie, masjiengeleerdheid, privaatheid, kubersekuriteit en biotegnologie.

Hy het in Welgemoed grootgeword, het diensplig op die grens gedoen, was ʼn Mandela-Rhodes-beurshouer, en het pas, met #FeesMustFall in volle swang op die kampus, ingeskryf vir ʼn kursus in vertaalkunde aan die Universiteit van Kaapstad.

Thuli Khumalo, dogter van die aktivis en deesdae “Fat Cat” Khumalo, is saam met Brand in dié klas. As een van die voorste Valliste word daar na haar verwys as die “nuwe Winnie Mandela”. As haar ouers se enigste kind het sy in ballingskap in Kensington, Londen, grootgeword. Onder die voorwendsel dat sy navorsing gaan doen as deel van die kursus, reis sy na Sjanghai in China om agter die kap van die byl te probeer kom van planne waarmee haar pa besig is.

Saam met dié welgesteldes is Jerome Maarman ook ʼn medestudent. Hy kom oorspronklik uit die Noord-Kaap, woon naweke in ʼn hok agter sy oom se blyplek in Fagan’s Farm, en in die week in Futsek, “ʼn paleisie op die eiland tussen die highways” (p. 222). Sy oom is ʼn UDF-veteraan en roem hom, teenoor die onordelike protes van hedendaagse UK-studente, in die gestruktureerdheid van die struggle. Ondanks dié aktivisme het die koms van die demokratiese bestel nie vir die oom óf vir Jerome ʼn beter lewe gebring nie.

Dit is inderdaad Etienne van Heerden se geronde karakters en die intrige wat die leser op ʼn reis neem, van Boedapest tot Beijing, en die leser wat wil volstaan met ʼn gawe leeservaring meer as genoeg bied. Maar daar is meer aan Die biblioteek aan die einde van die wêreld: à la Umberto Eco word dit eerder ʼn kwessie van wat die boek beteken as wat dit . Soos Van Heerden self daarna verwys, is dié boek ʼn “ideeroman” wat, borduur en torring, lostorring en ontrafel, op die keper beskou, betwyfel en vra na betekenis wat maklik so maklik vervloei in vertaling.

Vergelyk byvoorbeeld maar net die verhulde betekenisse in die name van karakters. Daar is die vurige hoofkarakter, ene Ian Brand, wat dalk soos Jan Brand ʼn hoop koester dat alles sal regkom, maar wat diverse brûe agter hom aan die brand steek; Jerome die maer man wat soos St. Hieronymus die vertaler ʼn soort grotskuiling bewoon; Elizabeth Gunther, die vrou met wie Brand in ʼn “slordige” verhouding is, wat meer gunter as hier is; en dan is daar die magdom newelkarakters wat Brand veral op vliegtuie ontmoet – van Piekenier Leqluerck, die plastiese chirurg, tot die speelgoedman Jack Lemkus.

Die wêreld van kunsmatige intelligensie, die afwesigheid van privaatheid en die vermoë om alles en almal dop te hou, is nie meer ʼn toekomsskim nie. Die “stad sonder naam” wat Thuli in China besoek is klinkklare aanduiding dat Aldous Huxley se Brave New World nie meer ʼn toekomsvisie is nie. Dit het nou aangebreek.

Data en alles wat met data gedoen kan word die spil en die roman verken die plek wat data het in die samelewing (van kuns as vorm van data tot sosiale media), die ontwikkeling van kennis en die invloed van algoritmes. Dit is immers ʼn onbewaakte twiet wat Brand se lewe in ligte laaie het.

Van Heerden se jongste roman is ʼn heerlike dog onthutsende verkenning van lewe in die woke era. Terloops, “woke” word pikant gedefinieer as “politieke korrektheid op steroïde”.

Etienne van Heerden se Die biblioteek aan die einde van die wêreld word uitgegee deur Tafelberg en kos R320. Koop die boek by Graffiti Boeke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae