Boek van die maand: ‘Die daggaboer’ deur Jean-Pierre de Kock

Die daggaboer, Jean-Pierre de Kock se debuutroman, is die verhaal van Lennet Loots, ʼn jong man wat in ʼn Sprinter-woonwa en ʼn pondok op ʼn kleinhoewe naby Baardskeerdersbos ʼn bestaan maak uit die grond. Sy voorstedelike bestaan en werk as rekenmeester het hy op ʼn dag vaarwel toegeroep en die stilte van ʼn eenvoudige en landelike omgewing gaan opsoek. Daar voer hy ʼn frugale bestaan deur met vrugte en groente te boer.

Benewens die woonwa waarin hy woon is daar ʼn gebou wat hy as akkommodasie verhuur en ʼn kweektonnel waar hy, afgesien van groete en vrugte, ook dagga troetel en droog.

Vroeg in die roman kom ʼn mens onder die indruk dat Lennet as’t ware voldoen aan al die vereistes van die klassieke buitestander: Hy onttrek hom aan ʼn stadslewe én familie en gaan woon in afsondering (kaftandraend word hy as hippie getakseer); hy vermy kommunikasie sover moontlik (hy beantwoord nie sy foon nie); hy word as randfiguur deel van ʼn gemarginaliseerde omgewing (sy enigste gereelde kontak is met ʼn ou man met die naam oom Loeser wat ʼn gehawende Datsun-bakkie ry); hy is ʼn sensitiewe siel wat homself kan vind (en verloor) in musiek; en tegelyk is hy ongeërg en bra ongevoelig wanneer dit hom pas (soos met Everest, die man wat hy as lastig beskou). Bowenal is hy Cecilia kwyt (heeltemal kwyt sedert sy van Facebook verdwyn het) en wat van haar oorgebly het, is dalk net Cecilia as beskermheilige van musici. En sy seksuele eskapades is gereduseer tot solo-uitvoerings.

“Ver weg van advertensieklingels, agtergronddeuntjies wat in openbare plekke op jou neerreën, televisies en radio’s se geblêr en die buurman se seun wat weer sy dromstel bliksem…” kweek hy op Tierkloof in stilte ook waardering vir klank. Trouens, dit is juis die stilte wat die waardering kweek, sê Lennet.

Dié ontvlugting, dié sug na die wegkom van alles, wat so baie mense op hul wenslysie het, eis egter sy tol. Die verkeer is weliswaar nie druk nie op Tierkloof nie, maar nietemin raak Lennet in ʼn voertuigongeluk betrokke. In aller yl om weg te kom van ʼn situasie wat ontstaan het op sy voorstoep rol hy ʼn kruiwa op pad na die bloekombos waar hy gewoonlik hout kap.

En die ontvlugting beteken ook nie dat mense wat jou wíl opspoor dit nie sal doen nie. Nie net die glibberige Everest nie, maar ook sy broer Konrad, wat deesdae met sy vrou, Chloe, en hul kind, Daniel, in Kanada woon. Met dokter Konrad het Lennet ʼn krapperige verhouding. Wat ten diepste dalk gaan oor Lennet se verhouding met hul pa wat in Kaapstad in ʼn tehuis woon.

Duidelik beteken ontvlugting allermins dat jou lewe rimpelloos of sonder spanning gaan verloop. Veral as jy boer én handelaar wil wees. Én buitestander.

Die musiek, veral dié van Dvořák wat deur die roman spoel, bly egter kwalik meer as ʼn klankbaan in Lennet se binneoor (dink aan wat Milan Kundera met Beethoven gedoen het in The Unbearable Lightness of Being).

Wat De Kock se distopiese blik soveel treffender maak, is sy gestroopte humor, en sy eerlikheid tot op die been. Die daggaboer is ʼn kranige debuut.

Die daggaboer deur Jean-Pierre de Kock is uitgegee deur Human & Rousseau. Die boek kos R265.
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae