Boek van die maand: Die dame met die hondjie

In 1898 het die 38-jarige Anton Tsjechof, toe op die kruin van sy sukses as dramaturg en kortverhaalskrywer, hom in Jalta aan die Swart See gaan vestig. Tuberkulose was besig om sy tol te eis en ses jaar later is die skrywer op 44 dood.

Dit was in Jalta, in die huis wat hy daar vir homself laat bou het, waar hy die kortverhaal “Die dame met die hondjie” geskryf het; een van sy meer as 200 kortverhale en die een wat Vladimir Nabokov uitgesonder het as “een van die wêreld se beste kortverhale”. Nabokov was veral gaande oor die einde wat “alle reëls oortree het”, juis vanweë sy matelose oop einde.

Dit is die verhaal van die 40-jarige Dmitri Dmitritch Gurov (soos die naam geskryf word in Engels-vertalings) wat ʼn tenoor is in sy drome en ʼn bankier om den brode, en die jong vrou, Anna Sergeyevna, wat van die platteland kom. Albei is getroud en albei is met vakansie in Jalta – sonder hul eggenotes. Dit is waar die flirtasie begin.

Dit is dié verhaal van Tsjechof wat William Oosthuizen gebruik as aanknopingspunt vir sy roman met dieselfde titel as die kortverhaal.

Die jarelange spekulasie of Tsjechof met dié verhaal eintlik outobiografies te werk gegaan het, word as’t ware Oosthuizen se vertrekpunt en hy verken in sy roman dié veronderstelling deur gebruikmaking van aanhalings uit die kortverhaal en briewe aan Olga Knipper, ʼn aktrise in Moskou wat in daardie stadium die vrou in Tsjechof se lewe was.

Raakvlakke tussen Tsjechof en Gurov is daar: Albei om en by 40, en albei met ʼn magdom verhoudings agter hulle. Gurov was wel getroud, maar sy gunsteling-tenoorrol is nie verniet dié van Don Giovanni nie. Uit Tsjechof se nagelate dokumentasie blyk die name van 33 vroue met wie hy korter of langer verhoudings gehad het, afgesien van dié wat naamloos gebly het.

Oosthuizen is vernuftig en oortuigend in sy ooreenskuif van Tsjechof se omstandighede en gemoed met dié van Gurov. As hy wat Tsjechof is Dmitri en Anna in ʼn boekwinkel teëkom is dit nie net haar jasmyngeur wat hom opval nie, maar “in daardie oomblik sou hy geredelik plekke met die Moskowiet geruil het” (59). En dieper die verhaal in wonder Tsjechof meer en meer oor die ooreenkomste: “Maak hy nou soos Dmitri, probeer hy die wêreldreisiger wees net om sy meerderwaardigheid te bevestig” (136)?

Daar is nog ooreenkomste, maar om dit nou uit te wys sal die leeservaring bederf.

As Nabokov oor die einde van die kortverhaal gesê het daar is geen probleem in nie, en geen spanning nie, juis omdat dit so oop is, gebruik Oosthuizen dié gegewe om spanning in sy roman te bewerkstellig: die karakters bevraagteken die slot en een van hulle wil van die skrywer weet: “Wat moet ek doen vir ʼn beter einde” (129), en “Mense hoef tog nie so lank ongelukkig te wees nie, daar is tog ʼn ander manier” (130)?

Boonop verruim Oosthuizen die Anna-karakter as “haar eie mens wat haar eie besluite neem, al verdoem sy haarself in die proses” (16). Soos Joyce Carol Oates in haar kortverhaalverwerking, “The Lady with the Pet Dog”, ook doen.

Oosthuizen se verhaal is boeiend en nie sonder drama nie. Hoewel Die dame met die hondjie sy debuutroman is, het hy reeds sy staal in die skryfwêreld gewys deur met “Ons gaan huis toe” die eerste plek te verwerf in RSG en Sanlam se radiodramaskryfkompetisie in 2013.

Dat die boek mank gaan aan oneffenhede wat maklik deur ʼn bekwame taalpraktisyn uit die weggeruim sou kon word, is ʼn jammerte.

William Oosthuizen se Die dame met die hondjie is uitgegee deur Naledi en kos R220. Koop die boek by Graffiti Boeke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.