Boek van die maand: Die dao van Daan van der Walt

Twee leeservarings van dieselfde boek het raakvlakke, maar ook heelwat verskille. ʼn Boek wat jy as kind gelees het en wat destyds so ʼn groot indruk op jou gemaak het kry dit soms by herlees kwalik reg, of andersom. Soms is ʼn mens gewoon nie ryp vir ʼn betrokke boek nie.

Maar so is voorkennis, of agternakennis, medebepalend in die leesproses.

By die herlees van Die dao van Daan van der Walt het ek bly wonder oor die skuif in my leeservaring noudat ek weet wie die eintlike skrywer is. Noudat ek anderkant die enigmatiese skuilnaam van Lodewyk G du Plessis ʼn prentjie kan vorm van Andries Buys. Noudat ek weet Lodewyk G is die voorname van sy pa en Du Plessis die nooiensvan van sy ma.

Daar is wyd bespiegel wie die skrywer kan wees, en dié wat geweet het, het geswyg. Onlangs het Buys homself ontbloot as die skrywer toe die UJ-debuutprys aan hom toegeken is.

Dié voorreg het die skrywer Elena Ferrante nie gehad nie. ʼn Jaar of drie gelede het ʼn Italiaanse joernalis met die ware identiteit van dié skrywer van die vier boeke in die Neapolitan-reeks vorendag te kom. Die joernalis, ene Claudio Gatto, het aangevoer die wegholsukses van haar boeke maak die onthulling van haar identiteit onafwendbaar. Dié sukses het ook finansiële leidrade gelaat wat boekdele spreek, en wat hy opgevolg het. Gatto het inderdaad finansiële state, eiendomstransaksies en tantièmebetalings – alles van onkreukbare aard – nagegaan en dit het hom na Anita Raja, ʼn vrou in Rome, gelei.

Nog voor die sukses van haar eerste roman in 1992 het Ferrante al opgemerk: “Ek glo dat ʼn boek, as dit klaar geskryf is, nie die outeur meer nodig het nie. Indien ʼn boek iets te sê het, sal hy self een of ander tyd sy lesers bereik.”

Duidelik is Die dao van Daan van der Walt só ʼn boek. En het Lodewyk G du Plessis sy lesers weer dié les kom leer.

Die wins van ʼn skuilnaam spruit volgens Ferrante “uit die wens om jouself los te maak van alle vorme van sosiale druk of verpligting. Om nie geboei te voel aan jou openbare beeld nie. Om met volledige vryheid uitsluitlik te konsentreer op skryf en skryfstrategieë.”

Hoe groot die druk van “die gebaande weg”, dié van die dopperdom is (of aangevoel word), blyk onder meer uit Buys se keuse om Du Plessis aan die woord te kry. Dié afstand, of vryheid, word strategies aangewend in die vorm van humor wat grens aan “heiligskennis”: om dié weg gelyk te stel met die “afgodiese” dao (wat eweneens weg beteken).

Terugskouend en in sy spartaanse vertrekkie in ʼn monnikeklooster in China skryf Daan van der Walt (in die mond van sy Chinese meester Da Ni Eu) sy “Historia”, sy lewensverhaal briefgewys aan Magrieta, sy oorlede vrou, en tree tegelyk mymerend op skrif in gesprek met Kaspaas, sy oorlede hond. Die boek is aan dié twee opgedra.

In sy belydenisse wat à la Augustinus neerkom op “maak my kuis en rein, maar tog nie dadelik nie”, pluis Daan die pad uit waarlangs hy gekom het – dikwels pynlik en breekbaar broos, juis weens ingeprente dogmatiese beperkings.

Hoe het ʼn mens alles wat jy beleef het nietemin oorleef, is die vraag wat bly huiwer nadat jy die boek klaar gelees het. Of dit Daan van der Walt is wat die vraag sou vra, of Lodewyk G du Plessis of Andries Buys, die vraag is die belangrike.

Die dao van Daan van der Walt deur Lodewyk G du Plessis is uitgegee deur Tafelberg en kos R310.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae