Boek van die maand: ‘Die getuienis’ deur Francois Smith

Kort op die hakke van Die kleinste ramp denkbaar wat verlede jaar verskyn het, het Francois Smith ʼn nuwe roman uit – Die getuienis. Dié jongste roman het nie net die kortlys van NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd gehaal nie, maar ook met die tweede prys weggestap.

So ironies as wat “die kleinste ramp” in genoemde titel dalk bedoel is, is dit ook die geval met dié jongste roman – in klein formaat en 40 000 woorde, wat die minimum vereiste is vir dié groot romanwedstryd.

Laat ʼn mens dus kort gaan en klaarspeel met groot en klein. In die bestek van 160 bladsye voltrek Smith ʼn reis, kompleet met gewaande paradys, purgatorium én swaeldampe van die hel, en boonop ʼn reis die verlede in en een waarin die verhouding tussen ʼn man en vrou, en hul Vader, gepeil en geweeg word.

Retha en Gerbrand is op reis van Naboomspruit na Ventershoop, in die omgewing waar Gerbrand grootgeword het. Op dié reis in ʼn geleende Figo is dié twee op mekaar aangewese, hoewel hulle binne hul geloofverwysingsraamwerk etlike insette van buite kry – noem dit boodskappe, manifestasies en waarskuwings. Dié kom op haas enige manier, van drome tot WhatsApp-boodskappe.

Die reis strek verby Pretoria waar hulle vroeër gewoon het, via Winburg, waar Gerbrand se ma deesdae woon, en die laaste herkenbare plek is Bloemfontein. Van daar lei die reis die leser na plekke wat nie op enige kaart te vind is nie (iets van “hic sunt dracones”). Waarskynlik is Ventershoop in die Noordoos-Kaap (nie te verwar met Venterstad nie), omdat mense van Dordrecht en Maclear kan oorry na die naweekseminaar waarheen Gerbrand genooi is as spreker. Hoe ook al.

Dat dié reis vir Retha en Gerbrand van belang is, blyk uit die feit dat Retha, soos die Nuwe Testamentiese Lukas, “wil getuig en dit vertel presies soos dit was”. Daarby word hierdie getuienis as ware bevestig deur Gerbrand se weergawe, hoewel hy “omtrent nie ʼn woord reg (kan) spel nie”.

Die gebeure kry die leser dus aan die hand van dié twee vertelperspektiewe, onaangekondig al om die beurt, maar sonder twyfel kan ʼn mens onmiddellik hoor wie aan die woord is. Retha praat vinniger as Gerbrand, sy het heelwat binnepraat, en haar trant is jovialer as dié van haar man. Gerbrand is meer besinnend, vraend. En dalk ʼn raps meer bestraffend as dit by die grys gebied kom waar dinge nie wit of swart is nie.

Waarvan albei bewus is, is die innerlike vrede wat hulle het – nie net met God, wat hulle Vader, of ook Abba noem, nie, maar ook met mekaar. ʼn Paar bladsye weg raak ʼn mens egter kriewelrig bewus van dié vrede as ʼn soort oëverblindery. Of die vrede diepgewortel is, daaroor het ʼn mens van meet af vrae, maar, die reis is nie bedoel as nét ʼn reis per motor van dorp tot dorp nie.

Smith staan volledig terug vir sy karakters en laat hulle die praatwerk doen (getuig). Hy hanteer hulle nie net met mededoë nie, maar weerhou hom van die geringste sweem beterweterigheid. Hy spot nêrens met hulle vooropgestelde opvattings nie, maar slaag daarin om met humor hulle voor te hou as mense wat ons almal al teëgekom het.

ʼn Mens kan met ʼn glimlag taamlik ver regkom, hoewel die teks meermale ʼn lagbui (dalk as ontlading) regverdig. Smith bemeester in dié roman by uitstek sy fyn vermoë om teruggehoue “snaaks” te skryf.

Spannend verloop die reis en verhaal wel. Dink maar aan die deurgaans teenwoordige lem – of dit in die vorm van ʼn mes, ʼn OneBlade of ʼn skêr is, of die skrik van die nag, die pyl wat bedags vlieg, of die pes wat in die donker wandel.

Dat die woord “getuig” of “getuienis” die vertaling is van die einste woord waarvan “martelaar” ook ʼn vertaling is, weet Retha en Gerbrand dalk nie. Nietemin is hulle bereid vir hulle martelaarsopdrag – wat die “gereed vir uitstuur” reg aan die einde dalk ʼn gelade betekenis gee.

Die getuienis is die neerslag van die mens se soeke na sin – of dit nou die swart-wit vergestalting van sin is, of in terme van ʼn goddelike komedie. Smith boei enduit met daardie ingehoue krag wat hy reeds in Die kleinste ramp denkbaar so netjies aan die orde gekry het.

Die getuienis hoort net so min op die rak vir geestelike lektuur as wat Zen and the Art of Motorcycle Maintenance sou kon deug op  ʼn rak vir boeke oor motorfietse.

Francois Smith se Die getuienis word uitgegee deur Tafelberg. Die boek kos R257.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.