Boek van die maand: ‘Die heelal op my tong’ deur Anoeschka von Meck

Ná talle togte, die meeste daarvan omdat sy haar lewe lank deur ander mense en omstandighede daartoe verplig was, onderneem Willemien willens en wetens ʼn reis saam met haar jonger suster en bevind hulle hul in die Richtersveld, in die omgewing van Eksteenfontein. In dié barre en gestroopte landskap het Willemien die gedagte om afskeid te neem van haar pa. En haarself te stroop van ʼn lewe wat agter haar lê.

Anoeschka von Meck se verhaal in Die heelal op my tong, haar jongste roman, speel af in die Subaru waarin die twee vroue, ook bekend as Wille Willemien en Precious Cargo, reis. Hulle vergelyk aantekeninge oor die lewe agter hulle, maar dit is meestal Willemien wat aan die woord is. Sy voer ʼn gesprek wat sy lank gelede al beplan het: “Eendag is eendag, dink ek, wanneer my suster groot genoeg is, dan gaan ek haar hiervan vertel sodat ons kan lag oor alles waaraan ek my blootgestel het” (246). As verslaggewer wat Willemien by geleentheid was, is sy maar te bewus van die krag wat woorde het, ook die stroopkrag daarvan.

Soos in Ridley Scott se Thelma and Louise word die dorre Richtersveld-landskap – soos ook die landskap van Namibië waar die susters se ma vandaan kom en landskappe soos dié van Area 51 in Nevada in die VSA en die omgewing van Palm Springs in Kalifornië waar hulle pa hom in ʼn stadium aan vestig het – die konteks waarbinne Von Meck haar verhaal van verliefdheid en venyn, van vergryp en verwerping plaas, en die konteks vir die katarsis. Boonop is geen landskap kwalik vreemder (“more alien”) nie, soos wat die Area 51-konnotasie wel oproep.

Nog ʼn raakvlak met die fliek sou kon wees die afrekening met oorheersende en bombastiese mans (ook in ʼn liefdesverhouding) en die viering van ʼn susterskap, as “pa se woestynwillewragtags”.

Die pa, self ʼn wildewragtig wat by tye dreig om groter as die lewe self te raak, is ʼn komplekse karakter wat byvoorbeeld geen imperfeksie by sy vrou of dogters duld nie – hy takel Willemien vroeg al oor haar gewig – maar wat sy mollige dogter nietemin leer oor die toevlug wat kos bied. Soos die behoefte aan eet in buitengewone omstandighede: “Vir ʼn ruk lyk dit of Pa genuine stilgeskrik is. Onmiddellik is ek en Pa rasend honger. Jy het padkos nodig om sulke liederlikhede te verteer” (233).

Willemien se ma – ʼn vrou wat op haar beurt paniekaanvalle oor suiwel en selluliet kry en kaas in die huis verbied het – figureer minder in haar vertellings. Haar ouers se vooropgestelde idees oor kos het, benewens ander ouerlike onbeholpenhede, so ʼn bepalende invloed op Willemien dat eetversteuring as geen verrassing vir die leser kom nie.

In plaas van pedanties te raak ook iets soos eetversteuring gee Von Meck ʼn geleefde ervaring van die uiterstes – van brandmaer tot opgestop tot vel en been… en dit alles doen sy met ʼn opdrag aan die leser:  “Hierdie verhaal is bisaro-fiksie. Glo dit op eie risiko.”

Dit is juis hierdie mengsel van absurditeite, satire, feite en die groteske wat gestalte kry in ʼn onopgesmukte skryfstyl, weliswaar nie sonder hinderlikhede of “stylirritasies” nie (“Dis die eerste keer dat ek terugkom in hierdie geweste,” stap ek ʼn ent in die veld in, “vandat ek hier weggejaag het Kaap toe om by Pa uit te kom”, ter illustrasie (197)).

Dat dood en lewe in die mag van die tong is, word in dié roman meer as ʼn Ou Testamentiese spreuk. Voor die hand liggend is dit eet en praat wat direk koppel met dié dood en lewe waarvan Spreuke praat, maar daar is byvoorbeeld ook die onthutsende voorbeeld van ʼn karakter wat as kind die smaak en gevoel van ʼn vuurwapen op die tong ervaar. Inderdaad is daar ʼn heelal op die tong.

Of vas te stel of dié Thelma en Louise se Subaru kan vlieg is daar ʼn lywige bykans 400 bladsye van lekker leeservaring.

Anoeschka von Meck het in 1998 gedebuteer met Annerkant die longdrop, maar dit was met Vaselientjie waarmee se in 2004 haar merk gemaak het. Met dié boek het Von Meck die MER-prys vir jeuglektuur, die Jan Rabie-prys vir vernuwende Afrikaanse prosa en die M-Net-prys ingeoes.

Anoeschka von Meck se Die heelal op my tong word uitgegee deur Penguin. Die boek kos R290.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.