Boek van die maand: ‘Die kleinste ramp denkbaar’ deur Francois Smith

Francois Smith se jongste roman, Die kleinste ramp denkbaar, speel af oor drie dae en omarm deur die eerste en laaste deel van die boek – “ʼn Begin” en “Nog ʼn begin” – is dit die driedeling “Vrydag”, “Saterdag” en “Sondag” wat iets aktiveer van ʼn persoonlike pasga wat eindelik ʼn nuwe begin en straks uitkoms bied.

Dit is die verhaal van ʼn polisieman, Frans Schuin, ʼn man wie se van hom een letter weg van “skuim” plaas, wat in ʼn toestand van halfbewustheid in die dokter op die dorp se spreekkamer lê. In sy vuis is ʼn stukkie papier met ʼn naam en ʼn telefoonnommer daarop.

Die eerste sin van die boek verwys reeds na “ʼn goeie dokter” en “ʼn slegte polisieman”. Die goeie dokter wat Schuin moet ondersoek is Gustav van Aardt, ʼn 55-jarige man wat hom 27 jaar gelede saam met sy vrou gevestig het op die Suid-Vrystaatse dorp waar hy grootgeword het.

Heelwat het intussen verander: Nie net ten opsigte van vervalle voorkoms van die dorp nie, maar ook met betrekking tot sy persoonlike lewe. Sy vrou het hom intussen verlaat en sy seun met wie hy sporadies WhatsApp-kontak het, woon in die buiteland. Aan die lewe buite sy spreekkamer het hy hom so te sê onttrek.

Alleen in ʼn omgewing wat hy as’t ware slegs deur herkenning ken is die een konstante sensoriese prikkel waarop hy reageer die mediese oog waarmee hy vroue takseer en ondersoek. In die spreekkamer en daarbuite. So aftastend benader hy nie net sy nuwe ontvangsvrou, Luna Fraser, nie, maar ook een van sy pasiënte, “die sinusoïdale vrou”, asook ʼn foto van Alma Mahler, vrou van die komponis Gustav Mahler, na wie se musiek hy graag luister.

Met al dié gegewens in gedagte maak Smith by die leser iets wakker van Thomas Mann se 1912-roman, vertaal as Death in Venice, as ʼn soort parallel: In dié roman is dit Gustav von Aschenbach, ʼn man ook in sy vyftigs, wat in Venesië (wat om ander redes ewe onherbergsaam geraak het) herinner word aan jeugdigheid en lewe in die vorm van ʼn jongeling buite sy bereik. Dalk net so ver as wat die aarde van die maan is (vergelyk die name Van Aardt en Luna).

Ná sy mediese ondersoek, diagnosering en behandeling van Schuin begin Van Aardt ʼn ondersoek van sy eie om te probeer vasstel presies waarmee Schuin en sy “sidekick”, sersant Portia Klaas, besig is. In die lugversorgde veiligheid van sy Discovery ontdek hy die dorp wat vir hom selfs nie bekender is as die township waar hy na Klaas gaan soek nie.

Van Aardt se noukeurige waarneming val ʼn mens op, aangevul deur Smith se akkurate en soms verrassend aweregse verbeelding. Hy maak jou bewus van ʼn wêreld wat jy net soms kwetterend hoor en glad nie raaksien nie, en dit doen hy in woordgebruik en uitbeelding wat ʼn mens ʼn gedeeltes onmiddellik ʼn tweede keer wil laat lees. Vergelyk byvoorbeeld dié beskrywing van ʼn kaaskrul: “Dat so ʼn veerligte ding onaangeraak kon bly deur wind of insekte of voëls, of nie raakgetrap is nie, die geel stuk uitgepofte mieliemeel wat in rigor mortis skeloranje lê en bloei het” (96).

Afgesien van konteks wat die skilderkuns bied (tussen kunstenaars soos Jan Veth en Neil Goedhals val die fiktiewe Trudie Klein wel vreemd op?) is dit die spel met die visuele waarmee Smith goël. Voorbeeld is die man wat “met die saamgeknypte vingerpunte van een hand links en regs op sy bors” (196) druk, ʼn beeld wat reeds eggo in die voëlskelette op die voorplat.

In die loop van die naweek snap ʼn mens patrone en familiepatrone wat herhaal en steeds herhaal word. Van sy pa het hy ʼn naam gekry, van sy neurotiese ma ʼn praktyk (en dalk iets van haar neurotiese geaardheid – vergelyk sy ding met potlode). Sy ondersoek bring sy pa en oupa ter sprake, maar ook sy weermagdae. As mevrou Troskie, sy vorige ontvangsdame, na dr. Ojeda, “deel van die regering se projek om Kubaanse dokters in te voer om die krisis in landelike gesondheidsorg te probeer hokslaan” verwys as “ons Kubaan”, trek Smith meteen via Etienne van Heerden se My Kubaan ʼn register grensliteratuur oop.

By meer as een geleentheid is Van Aardt “in gedagtes versonke” of “sy aandag glip” of “hy kan nie onthou nie”. Hierdie groeiende verstrooidheid wat “nie tipies” (199) is nie, is dalk net so ontipies as ʼn groeiende lompheid, ʼn onvermoë om homself sinvol uit te druk. Telkens is die leser magteloos as die dokter keer op keer sy voet dwars in sy mond sit.

Binne die konteks van ellende wat die mensheid ervaar is die krisis wat Van Aardt in dié drie dae deurmaak kwalik meer as “die kleinste ramp denkbaar”. Maar dit is met dié ironisering waarmee Smith woorde gee aan die mens se broosheid in ʼn veranderende wêreld.

Met Die kleinste ramp denkbaar sluit Smith aan by John Miles se Op ʼn dag ʼn hond (2016) en meer onlangs Ingrid Winterbach se Die troebel tyd (2018). Smith het in 2014 gedebuteer met Kamphoer.

Francois Smith se Die kleinste ramp denkbaar word uitgegee deur Tafelberg. Die boek kos R310.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae