Boek van die maand: ‘Die Melkweg en die miskruier’ deur Jeanette Ferreira

Liefde en oorlog is twee temas wat netjies aan die orde kom in Jeanette Ferreira se skryfwerk – dink maar aan Babette (1995), Catharina (1996) en Charlotta (1999), die gewilde trilogie oor die Anglo-Boereoorlog, boeke wat al drie heruitgawes beleef het. En noukeurig nagevorsde geskiedenis, uiteraard, moet ʼn mens byvoeg. Dit is hierdie einste bestanddele waaraan Ferreira in haar jongste roman, Die Melkweg en die miskruier, weer gestalte gee.

Aan die een kant is daar die beskrywing van wat ʼn mens gemaklik as geskiedenis sou beskou – die jare 1914 tot 1919, die tyd van die Eerste Wêreldoorlog en die Groot Griep-epidemie. Maar eweso takseer Ferreira die eietydse, die jaar 2020, die jaar wat mettertyd waarskynlik bekend sal staan as die aanbreek van die Covid-19-pandemie, ook as historiese gegewe – dalk net meer resent.

In albei gevalle is dit die noukeurige navorsing wat ʼn mens in dié roman opval. Al het die skrywer in ʼn onderhoud op LitNet opgemerk: “Ek het sowaar bitter min van daardie navorsing spesiaal vir die roman gedoen. Die meeste daarvan was nog altyd deel van my belewingswêreld; dit het net in die roman byeengekom. Geskiedenis en die toekoms, die natuurwetenskappe, interesseer my toenemend. As mens ver genoeg die toekoms kon inkyk, sou jy die verlede gesien het.”

Die “bindmiddel” wat dié twee tydperke en ook twee narratiewe in die roman (die een getitel “Sabine” en die ander “Henrietta”) laat kleef en oor geslagte bind, is die grond in besit van Sabine se familie. Donkerhoek heet dié grond aan die Nwanedzi-rivier in Limpopo, grond wat grens aan die domein van Modjadji, die Reënkoningin.

“In 2020, tien jaar nadat Sabine uit die Laeveld weggesteier het, keer sy terug om net nog een maal weer hulle familieplaas Donkerhoek te sien en ʼn neersitplek te soek vir die bondel wat sy al so lank saamdra.” Só lui die beskrywing op die agterblad van die boek. In dié tien jaar het die aarde hierlangs geswig voor “grondeise en armoede”. Maar dit is die einste grond wat vroeër “afbakening van lokasies” gesien het, en “grondvervreemding”. Dit was dié grond wat in die 19de eeu volgens die destydse okkupasiewet toegeken is aan wit boere. En op dié manier kom grondbesit as netelige kwessie aan die orde in die roman. Grond in besit van mans én van vroue.

ʼn Raps meer as ʼn eeu gelede is Sabine se ouma Henrietta ook inderhaas terug Donkerhoek toe om weg te kom voor die Groot Griep wat van 1918 tot 1920 verwoesting gesaai het. Maar die griep was nie die enigste doodskleed wat oor die mensdom uitgesprei is nie. Die Groot Oorlog, en veral die letsels wat dié oorlog gelaat het, het ander probleme gebring – wat Henrietta moes oorkom.

Raakvlakke tussen die twee tydperke en die karakters van Sabine en Henrietta benadruk die mens se broosheid in die aangesig van ellendes – of dit nou ʼn virus is, of dit oorlog is, en of dit die mens se gewaande pogings is om van ongemak weg te kom.

Wat opval is hoe die twee tydperke – dié van Sabine en Henrietta – in Ferreira se hantering van taal vorm kry. Die meer historiese dele het ʼn onderhoudende trant wat lees vergemaklik; terwyl die meer resente dele gekenmerk word deur korter sinne en sinsnedes, met iets van ʼn bewussynstroom, wat die leespas soms vertraag en ʼn mens selfs noop om te herlees. Dalk het ons deurgaans te make met herhalende kalamiteite. Wat verskil is dat ons anders daaroor dink en praat.

Wat hiermee saamhang en ʼn mens eweneens opval – hoewel dit as geen verrassing kom nie – is Ferreira se keurige beskrywing van die groter-Tzaneen-omgewing. So word dié roman ʼn ode aan dié streek se oermense en geskiedenisse, die streek se bome en voëls, en bowenal ʼn ode aan ʼn geleefde lewe in dié kol onder die Melkweg. Dié kol waar die mens soos miskruiers liggewers nodig het om koers te kry.

Jeanette Ferreira se Die Melkweg en die miskruier (2023) word uitgegee deur Tafelberg. Die boek kos R340.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.