Boek van die maand: ‘Die nag ruik na spoed’ deur Schalk Schoombie

Ontrafel is ʼn gedagte wat by my opkom as ek aan Schalk Schoombie se skryfwerk dink. Moontlik omdat hy so behendig soveel leidrade in die tekstuur van sy skryfwerk inweef. Wat nie net die skryfwerk heg en gelaagd maak nie, maar die leser lei én tart om natuurlik allerlei afdraaipaadjies laat vat. Om uit te pluis.

So was dit die geval met sy “sprokie vir ʼn stadsmens”, die subtitel van Boomkastele, sy debuutroman in 2015, en twee jaar later met Rooi haring, sy speurroman in 2017. In eersgenoemde, ʼn verhaal wat afspeel in ʼn boomryke buurt wat ook die plek is van “honderde, duisende klein dramatjies” – van inbrake tot familietwis, van misdaad tot afloerdery en vetes en hartseer – tower hy newe-werklikhede op waarin sy karakters aan die voorhande werklikheid kan ontsnap; en in laasgenoemde moet ʼn mens fyn lees om te onderskei tussen vis en vlees, en uiteraard bedag wees op die spreekwoordelike “red herring”.

Wat ʼn mens nie uit die oog moet verloor nie, is Schoombie se werk op en vir die verhoog. In die 1980’s was hy eers vir Kruik en toe vir Truk in menige rol op die verhoog en later was hy dramaturg met stukke soos Gesplete tong (2003), Wetters (2004), Samoerai (2008), Liefde, Anna (2012) en My Japan (2012). Daarby het hy vir TV geskryf.

Vaardighede versamel oor jare weef hy nou in sy eerste bundel kortverhale in wat verlede jaar by Protea verskyn het: Die nag ruik na spoed, wetenskapfiksie vir volwassenes, wat op die agterplat beskryf word as “ʼn versameling blitsige futuristiese verhale in vaartbelynde Afrikaans”. Dit is nie net ʼn “gatskop verteltrant” wat ter sprake is nie, maar ook filmiese kwaliteite wat hy inbring in dié 12 netjies geweefde kortverhale, gereed vir ontrafeling.

Besinnend gaan Schoombie te werk – wanneer hy skryf oor dinge soos dit is, en des te meer wanneer hy skryf oor dinge wat nié met die fisieke en ervaarbare verband hou nie. En dan gaan dit nie soseer oor futuristiese beskrywings nie – Schoombie skryf nie net oor futuristiese outomate sonder vingernaels (“Lotusblom”) nie, maar ook oor die hede (oor ʼn gesin en ʼn hond in “Volle positiewe”) én die verlede, soos oor antieke outomatons (“Sinkronisityd”) en die verskynsel van sinchronisiteit wanneer uurwerke in samehang tik.

Sy besinning sluit egter vir die leser ʼn wêreld van die metafisika oop – ʼn wêreld waarin die leser gepor word om ontrafelend te gaan soek na die verbande tussen bestaan soos ons dit ken en watter bestaan daar nog moontlik is.

“Volle positiewe” is ʼn heerlike en humoristiese verhaal van ʼn pa, ma en seun wat kennis maak met die radikale gedragsterapie van Skinner aan die hand van ʼn meestergraadstudent in sielkunde wat twee weke lank by hulle aan huis vertoef. Of hulle ander moontlikhede as hul disfunksionele bestaan gaan volg, is ʼn ope vraag, maar nietemin is hulle deeglik daaraan blootgestel.

Schoombie se bundel kortverhale is nie bedoel om in een sitting of oor ʼn naweek afgerammel te word nie. Beste is om een verhaal op ʼn slag te lees en ontrafelend en besinnend daarmee om te gaan, om dit te oordenk, soos Proust van “maxims” gesê het: Lees dit stadig, maak die boek en jou oë toe en begin dink.

Die loon is dat ʼn mens op dié manier des te meer onder die indruk kom van Schoombie se fyn visuele waarneming (by uitstek in die laaste verhaal, “Lotusblom”), sy sjarmante omgaan met taal en sy kennis van menslike gedrag. Hy is ʼn skrywer wat fyn weef, en een wat verdien om wyd gelees te word. En om veel wyer erkenning te kry.

Schalk Schoombie se bundel kortverhale, Die nag ruik na spoed, word uitgegee deur Protea. Die boek kos R200.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.