Boek van die maand: ‘Die slaghuis’ deur Cas Wepener

Die slaghuis, Cas Wepener se derde roman, neem die leser na ʼn klein Oos-Kaapse dorpie bekend vir sy slaghuis se boerewors en lewer in netvet. En ʼn slagter wat vaardig is met ʼn mes. Die verhaal speel af in 1997, met terugblikke na 1977 en ook verplasings na 2017. Dit is die hoeveelheid vleis wat in dié 40 jaar verorber is en tegelyk die reste wat een geslag uitgeskei het (of sukkel om uit te skei), wat ʼn groter tema word vir ʼn verhaal van vergrype, ontkenning, onheil en vrese.

Marietta is ʼn uithaler kok met ʼn vleistand. Snags kom resepte in visioene na haar en verbeter sy stelselmatig op Kook en geniet. Sy en haar man, ʼn oudpolisieoffisier met ʼn hoë rang, vestig hulle op dié dorpie ná dié se ontslag uit die mag. Hy lê gereeld in stilte weg aan haar geregte – hy praat nie veel nie – en die leser besef vinnig daar is meer as net ʼn seninkie tussen sy tande waarvan hy nie ontslae kan raak nie.

Die slagter het ʼn dogter, Kylie, wat haar vet kind, Joshua, op gemorskos grootmaak – pienk Weense worsies is sy stapelvoedsel – en dan is daar Moses, ʼn man met ʼn beskadigde “doringoog” wat met een oog meer sien as wat mense met twee kan sien.

Dat “die slaghuis” meer is as HJ Harmse & Seun (sedert 1948) is die ontdekking waarop die leser self moet gaan.

In Johanna, Wepener se tweede roman wat in 2017 verskyn het, was dit die gemak waarmee die skrywer in die vel van ʼn vrou – en op dié manier meteen onder die vel van die leser – kon kom wat opgeval het. In sy tekening van Johanna, haar geliefde, Muriel, en Nonna, die vrou wat vir Johanna werk, beskryf hy vroue op só ʼn manier dat jy nie net as’t ware hul parfuum kan ruik en lyfhitte kan aanvoel nie, maar deins hy ook nie terug om die heteroseksuele en wit wêreld te verlaat nie. Dit doen hy in ʼn tyd van vurige debatte rondom kulturele appropriasie en priemende vrae of ʼn wit man hom in ʼn karakter wat nie ʼn man óf wit is nie kan verbeel.

Natuurlik is daar geldigheid aan dié (soos aan alle) vrae, maar dit is juis die letterkunde se taak om wêrelde oop te skryf en daar is in die wêreldletterkunde talle voorbeelde van skrywers wat met saamgestelde oë en voelhorings die werklikheid fyn registreer, en die verbeelding van lesers aangryp.

In Die slaghuis verbeel hy hom nie net in die wêreld van ʼn vierjarige as verteller in nie, maar verbeeld hy ook ʼn stuk geskiedenis waaroor heftige debatte gevoer word – oor wie wat mag sê. En selfs of party mense nie eerder moet swyg nie. Wepener swyg nie, maar weeg sy woorde én simboliek noukeurig.

Hoewel die boek as fiksie aangebied word, word daar “vry omgegaan met historiese feite soos plekke en datums” wat die teenstelling van “ons” en “hulle”, van oortreder en slagoffer in die sentrum van die verhaal plaas. Dit is juis Wepener se fyn (en selfs objektiewe) waarneming, aangebied as ʼn soort kroniek, onder meer soos verwoord in waarnemings van die vierjarige Joshua, wat ʼn soort naïewe onskuld na vore bring.

Die slaghuis is ʼn boek van verorbering en uitskeiding. Benewens die sensuele omgang met vleis (in die slaghuis én in Marietta se resepte, selfs meer as in verwysings na boerewors en lewerkoekies) word troppe slagvee ook reg deur die boek aangery na die slagpale in die Baai. Al is dit soms net in die verwysing na trokke wat afrat in die hoofstraat.

Vroeg in die boek kom die leser reeds een van die eerste tekens van uitskeiding teë: in die vorm van die lyf van ʼn gemmerkat wat boog in ʼn poging om iets op te bring (21). Dié “poging om iets op te bring”, om uitgeskei te kry, loop eindelik uit op ʼn dokter se opmerking aan ʼn pasiënt met kolonprobleme: “Something that doesn’t have purpose within the totality must be excreted.” Met behulp van ʼn nagwa wat stinkend helderoordag op en af deur die dorp se strate kruie benadruk Wepener nie net dié gedagte nie, maar aktiveer hy meer sintuie as net die oog.

Met Die slaghuis sny Wepener diep, eerlik, én heerlik.

Die slaghuis deur Cas Wepener is uitgegee deur Protea. Die boek kos R206.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

GB ·

Sal graag deur die boek wil blaai om te kyk wie die karakters is wat “liefs niks moet se nie”, wie as die “slag-offers” voorgehou word en wie as die skuldiges. Maar ek het reeds ‘n sterk vermoede wie, wie gaan wees want deesdae is daar maar selde ‘n roman wat werklik die verlede in al sy gryse kompleksiteit voorhou. Al te dikwels is dit maar “the usual suspects” wat die skurke in die verhaal is…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.