Boek van die maand: ‘Die verevrou’ deur Jan van Tonder

Roepman is die roman waarmee Jan van Tonder as skrywer die meeste bekendheid verwerf het – die verfilming van die roman in 2011 én vertalings het hiertoe bygedra. Maar dit was met sy debuutroman van 1987, Is Sagie, waarmee Van Tonder in ʼn skamele 88 bladsye die leser oorrompel het met minder eerder as te veel. Sy bemeestering van “understatement” was toe al opvallend en het bygedra tot die stil sjarme van dié boek.

Net meer as 30 jaar later en ses jaar ná die publikasie van Roepman verskyn Die verevrou, ʼn boek wat wyd byval gevind het as ʼn mens kyk na lesers se reaksie op sosiale media. ʼn Boek wat ʼn mens nie wil neersit nie, is van die algemeenste kommentaar.

Sonder twyfel is Van Tonder ʼn knap wewer van stories. Oor die vaardighede beskik hy; sy belewing van die omstandighede en plekke waaroor hy skryf is só eerstehands dat ʼn mens nie eens van navorsing sou wou praat nie, en die gegewe wat hy as verhaallyn(e) gebruik is eweneens aangrypend.

Die verevrou is die parallelle verhaal van twee vroue, die een aan die Suidpunt en die ander in die Noorde van Afrika, albei getuies van troebel tye met heelwat onrus en geweld, wat weliswaar oorvleuel, en les bes is dit volstruisvere wat hulle bind. En wat van albei in eie reg verevroue maak. Asof hulle vlerke kon hê, het albei die sug om weg te kom van die grond (hierdie aarde), om te vlieg.

Dié twee se paaie kruis die eerste keer in De Rust in die Klein-Karoo.

Dit is egter Liora Papalato, ʼn karakter geskoei op die meesterpluimbereider mademoiselle Luisa Pappalardo wat in 1997 in Oudtshoorn aan haar eie hand gesterf het, wat dié verevrou van die titel word.

Haar verhaal begin in 1948 op haar skoppelmaai op ʼn volstruisplaas op die rand van die Sahara in Algerië. Die plaas is die erfdeel van Liora se ma (Charlotte) en tante (Alessandra), sterk vroue wat as’t ware heeltemal goed oor die weg kom sonder mans. Liora se pa is meer op Korsika as op die plaas, en Moshe Hamid, onder meer ʼn verehandelaar, doen maar sporadies die plaas aan.

Met die hulp van Algerynse mans bedryf die vroue die plaas ten tye van die oorlog in dié land wat van 1954 tot 1962 gewoed het.

Hoewel Suid-Afrika in 1976 geen vreedsame plek was nie, is die parallelle lyn van Candice Amat (ook genoem Kandas) nie aan oorlog onderworpe nie. Later, in 1992, wanneer Liora Oudtshoorn besoek, is daar sprake van militêre oefeninge, maar steeds geen overte geweld nie.

In Candice se leefwêreld bly mans eweneens randfigure. Sy het weliswaar ʼn beter verhouding met haar pa as wat Liora met haar pa gehad het, maar die intense verhoudings met mans blyk in albei se gevalle vlietend.

Waarin Van Tonder uitblink is om onder die vel van vroue – hetero- sowel as homoseksueel, as ʼn mens dan so ʼn onderskeid moet trek – kom en ligvoets omgaan met lyflikheid en erotiek. Meer as aan kulturele appropriasie torring hy heerlik aan gender appropriasie.

Ten opsigte van die lyflike is dit opvallend en ʼn aanwins hoe ver Van Tonder weg beweeg van die idee van die sogenaamde ideale lyf. Dit is die geskende lyf, die onvolmaakte lyf, die lyf met prosteses (van pruike tot stelte tot vere), die aweregse lyf wat seëvier.

Die verevrou word op die agterblad beskryf as “ʼn epiese roman wat strek oor dekades en kontinente heen”. Dit is ʼn wye register en deurgaans interessant. Nietemin is dit ná 30 jaar steeds in sy teruggehoue taksering van situasies waarin Van Tonder skitter. Die klein oomblikke.

Die verevrou van Jan van Tonder word uitgegee deur Human & Rousseau. Die boek kos R302.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae