Boek van die maand: ‘Die vertes in’ deur Zirk van den Berg

Die eerste volksmoord van die 20ste eeu het in die destydse Duits-Suidwes-Afrika plaasgevind toe die Duitse ryk ʼn besluit geneem het om finaal met die Herero’s, die Namas en die San af te reken (om hulle uit te roei, soos ʼn VN-verslag in 1985 bevind het). Soveel as 100 000 Herero’s, 10 000 Namas en ʼn onbekende aantal San het tussen 1904 en 1908 gesterf.

Dit was in hierdie tyd, in 1905 en kort nadat die Nama-leier Jacob Marengo wat bekendgestaan het as “die swart Napoleon”, die Duitsers ʼn gevoelige slag toegedien het, dat Zirk van den Berg se karakter, die bleeksiel Siegfried Bock, by Swakopmund in die protektoraat aankom.

Bock is petieterig, was as kind elke winter siek en het teen alle verwagting in militêre keuring geslaag. “In die algemeen dink hy aan homself as ʼn individu,” skryf Van den Berg, “nie as ʼn lid van enige groep nie, maar die manier waarop sy volk hierdie land [Duits-Suidwes-Afrika] tem, maak Siegfried trots om ʼn Duitser te wees” (24).

By sy aankoms beskryf Bock hoe ʼn perd uit die skeepsruim gehys word, in sy draagband hang en met sy hoewe in die lug trap. Hy sien in die digte mis nie die bopunt van die hyskraan nie, en dit lyk asof die dier uit die hemel hang. Dié beeld waarin mag en onmag, strewe en frustrasie vasgevang word, word uiterstes waarbinne die verhaal ontvou.

Oorlog is ʼn euwel wat as katalisator die beste en die slegste in mense na vore kan bring. Die vergrype wat gepaard gaan met dié euwel wat die 24-jarige Bock moet aanskou, laat hom weer ʼn keer nadink oor sy nasietrots, en die leser kry terselfdertyd geleentheid om te besin oor die Duitse koloniale droom. Veral aan die hand van doktor Albert Pitzer met die Homburg-hoed wat in Duits-Suidwes-Afrika is met die oog op navorsing wat hy glo opspraak kan verwek.

Boosheid setel ook in mense, soos in gefreiter (iets soos ʼn onderkorporaal) Grajek, ʼn man met ʼn goue voortand “om vir die wêreld te wys dat hy rof genoeg is om dié soort goed te doen wat ʼn tand kan breek, en ryk genoeg om dit met goud te vervang” (65). Grajek het ʼn geringe rol in die roman, maar sy brutaliteit bepaal die koers van die verhaal.

Benewens die historiese gegewe en die vernuftige ontwikkeling van die verhaallyn wat ʼn mens deurgaans boei benut die skrywer die geleentheid ten volle om afgesien van onmenslikheid ook elemente van menslikheid te illustreer. In meer as een geval is dit menslikheid wat saamhang met inbors, met optrede wat buite die vermeende perke van die betrokke karakters lê – altans gesien uit die oogpunt van die samelewing.

Mordegai Guruseb is nie sonder rede in boeie en in aanhouding nie, maar dit is hy wat buite die gemeenskap se raamwerk van goed en kwaad sy besluite neem en sy lewe inrig. Dit is die jong Lisbeth Löwenstein wat nog nooit veel gehad het nie, nie in Duitsland nie en op die oog af alles verloor wat sy in dié nuwe land gehad het, wat wys hoeveel karakter sy werklik het.

En dit is die plaaslike onderwyser Alvaus Luipert wat die Duitse leefwêreld in die Duitse letterkunde teëgekom het wat doktor Pitzer sien vir wat hy is.

Die vertes waarna die titel verwys is benewens emosionele streke ook die onherbergsame landskap (vir setlaars minstens) van Namibië, die plek waar Van den Berg gebore is en grootgeword het. ʼn Mens kry die gevoel dat hy nie oor die omgewing skryf nie, maar vanuit die omgewing. Al sit hy hoeveel jare nou al in Nieu-Seeland.

Die vertes in is Van den Berg se vierde roman. Ná sy kortverhaaldebuut van 1989, Ekstra dun vir meer gevoel, het Wydsbeen, sy eerste roman, in 1992 verskyn. Daarna het ʼn Ander mens in 2013 verskyn, ʼn vertaling van sy misdaadroman van 2004, Nobody Dies. Halfpad een ding het in 2014 verskyn en is soos Wydsbeen ʼn historiese roman – Wydsbeen oor ʼn Franse fortuinsoeker wat in 1734 in die Kaap aangekom het as soldaat in diens van die Oos-Indiese Kompanjie en Halfpad een ding ʼn storie oor die Anglo-Boereoorlog.

Dié boek het in 2014 die kykNET-Rapportprys in die rolprentkategorie verower, op sigself aanduiding van Van den Berg se filmiese benadering om ʼn verhaal te vertel. In Die vertes in sit hy hierdie werkwyse voort. Sy beskrywings word terstond prente in die leser se kop, en sy karakters word mense wat jy dalk al teëgekom het.

Zirk van den Berg se Die vertes in is uitgegee deur Kwela en kos R295.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JJS ·

Die eerste volksmoord van die 20ste eeu het so rondom 4 jaar vroeer plaasgevind. Het bekend gestaan as Verskroeide Aarde en het 26000 vroue en kinders dan ook omgekom hierin…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.