Boek van die maand: ‘Die waarde van stil bure’ deur Zelda Bezuidenhout

In ʼn bespreking van ʼn lekker spanningsverhaal bederf ʼn mens nie leesplesier met die weggee van gegewens oor die verloop van die verhaal nie. Dis die voorreg van die leser om agter die kap van die byl te kom in dié tweede roman van Zelda Bezuidenhout. Haar debuutroman was Die dekonstruksie van Retta Blom in 2019.

Laat ek my dus hou by karakters, en daarmee saam kwessies wat in die roman aangesny word.

Magdaleen Verster trek kort ná die dood van haar tweelingsuster, Misha, in ʼn skakelhuis in Melville in. “Hier gaan jy gelukkig wees, my kind,” is haar ma, Alida Verster, wat ook in Johannesburg woon, se gevleuelde woorde reg aan die begin van die roman. Weldra ontdek Magdaleen dat sy onderdak deel (die ander helfte van die skakelhuis) met ʼn buurman, Darius Achenbach – ’n man “met ʼn dik bril wat soos ʼn vergrootglas werk en sy blou oë soos dié van ʼn karakter in ʼn Tim Burton-fliek laat lyk” (17), ʼn man in sy 60’s na wie Zack, Magdaleen se jarelange vriend, verwys as “Victor Frankenweenie”.

Zack en sy vrou, Riska, se huwelik is op die rotse, en hulle het ʼn vyfjarige seun, Ben, wat verlam is ná ʼn motorongeluk.

In die dae toe Magdaleen en Misha nog in Alida Verster se huis gewoon het, was Evalyn Manthoro die vrou wat, afgesien van haar gewone huiswerk, ook dikwels vir Magdaleen en Misha opgepas het. Evalyn se dogter, Puleng, vyf jaar jonger as die tweeling, het dikwels saam met haar ma na die Versters se huis gekom en die drie het vriende geword. Puleng is besig met haar huisdoktersjaar by Helen Joseph. “Puleng het ambisie, hope en hope daarvan” (84).

Soveel ambisie as wat Puleng het, soveel verbeelding het Magdaleen. Sy vryskut as grafiese kunstenaar en boekillustreerder en is besig met illustrasies vir ʼn kinderboek. In haar nuwe alleenbestaan in haar skakelhuis is haar geselskap, benewens ʼn rondloperkat wat sy salm voer, die eenrigtinggesprek wat huishoudelike produkte en kruideniersware met haar voer. “You deserve real chocolate taste! herinner die blikkie kakao haar…” en “Say goodbye to stains, skitter dit in ʼn spierwit ster op die pakkie wasgoedseep.”

Daarby het sy die geringste weerkaatsing van haar eie beeld in die kombuisvenster nodig om haar suster in die ruit te herken. Misha was ʼn model in Milaan en is op 30 dood aan ʼn hartaanval. Twee maande ná Misha se dood het Magdaleen vreemdes (veral op Tinder) begin ontmoet vir seks, ontmoetings waarin fantasie en rolspel nie uitgesluit is nie. Moontlik as bevestiging van lewe, en moontlik as ʼn soort ontvlugting.

Uit die karakters waarmee Bezuidenhout vorendag kom en veral die ratse beskrywing waarmee sy hulle verbeeld blyk haar vinger op die pols van die wêreld waarin sy lewe. Die kwessies wat sy ontgin in dié roman is eweso die byderwetse onderwerp van stamselnavorsing, met al sy mediese voetangels, en die aannames wat ons het (en volhou) oor ander mense se geleefde werklikheid. As ʼn identiese tweeling, met soveel gemeen, verskillende lewens en ervarings het, hoeveel te meer nie mense wat nie dié genetiese band het nie. Vir mense wat met Magdaleen gesimpatiseer het ná Misha se dood met ʼn “ek kan net dink hoe jy moet voel”, wou sy sê: “Nee, Dorette, jy het nie ʼn clue hoe ek voel nie.” Die feit dat ʼn mens nie weet wat in iemand anders se kop aangaan nie, het ook na vore gekom in Die dekonstruksie van Retta Blom.

In Die waarde van stil bure ontgin Bezuidenhout dié gegewe verder en die waarde van die roman, om dit so te stel, is dié verkenning, juis in die lewe van twee mense wat op die oog af alles van mekaar geweet het.

Bezuidenhout slaag daarin om heelwat en dikwels netelige balle met vlugvoetigheid in die lug te hou en Die waarde van stil bure is gewis ʼn spanningsroman.

Zelda Bezuidenhout se Die waarde van stil bure word uitgegee deur Kwela. Die boek kos R280.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.