Boek van die maand: ‘Die wêreld van Charlie Oeng’ deur Etienne van Heerden

As jy op soek is na ʼn lekker dik boek met ʼn storie wat jou meevoer na ander wêrelde, is Etienne van Heerden se jongste roman, Die wêreld van Charlie Oeng, een om te oorweeg.

Die ruie verhaalgegewe neem ʼn mens van die Oos-Kaap na Amsterdam en Kowloon, en speel af in die hede, maar strek terug na 5 November 1964 toe klein Tian Kilian se lewe skielik ʼn ander koers ingeslaan het.

Dis ʼn verhaal wat die grootwordjare van Tian Kilian op ʼn plaas en ʼn dorpie in die Oos-Kaap terugskouend verken en eweso dié van Charlie Oeng, die man wat op die Kilians se plaas opdaag om ʼn vuurwerkvertoning aan te bied.

Tian het ʼn beskermde lewe gelei, gewaarborg deur sy pa, die dorp se prokureur/naweekboer, en sy ma, die eienaar van Boek Oase, ʼn boekwinkel op die dorp. Charlie word groot as ʼn buitestander in Amsterdam, hoewel hy deel vorm van ʼn gerekende Chinese familie buite China, en stelselmatig maak hy kennis met die onderwêreld van dié stad en later ook dié van Hongkong.

Dit is ʼn verhaal wat die leser bewus maak van die verskillende maniere waarop ʼn mens na die wêreld kan kyk, dit is ʼn verhaal van hartstog en moord, een van ontdekking en aanvaarding en les bes is dit ʼn verhaal wat die leser daarvan bewus maak dat daar verskillende maniere is waarop ʼn mens oor die wêreld kan praat – soos in storievertelling.

Vindingryk soos wat Van Heerden is, span hy hiervoor verteltegnieke in wat bydra tot die tekstuur van die roman, en wat die belangstellende leser verder kan verken.

Neem ʼn mens as voorbeeld net die rits name waarby Charlie Oeng genoem word lys, kom daar reeds ʼn blik op dié karakter aan die orde: die Kantonees wat aan die leser voorgestel word as Charlie Ng, as Mnr. Ng (en later ook Oeng), as Koekepan, as die bootchinees, die soutchinees, as Gelatenheid en as Chinaman, soos Tian se pa hom noem.

Reg aan die begin snap ʼn mens dat die swawelreuk wat Tian, ʼn uitgewer in Kaapstad, aan en om hom ruik, verband hou met die vuurwerkvertoning op die plaas en die tragiese gebeure daardie aand. Moord is gepleeg en die verhaal wat hom voltrek op drie vastelande is as’t ware die uitpluis van die aanleiding tot die gebeure, maar ook die verwerking van die trauma wat die dood gelaat het.

Die leser kom karakters teë wat hulle nie aan realisme gebonde voel nie. Met magiese kwaliteite en vermoëns is hulle meteen groter as die werklikheid en nie gebonde aan natuurwette nie. So is Ouma Ogies byvoorbeeld ʼn blinde vrou met ʼn gesig wat herinner aan dié van ʼn dolfyn. Sy het nie gewig nie, gooi nie ʼn skadu nie en sien die onsienlike.

In Amsterdam kom die leser Ouma Voetjies teë. ʼn Matriarg met getooide voetjies – in Chinese tradisie – en wat aan die arms gedra moet word en die voorkoms van ʼn engel kry.

Soms is die magiese element sonder meer geloofbaar. En by ander geleenthede moet die leser dalk meer op intuïsie en goeie trou steun as op gesonde verstand. ʼn Toorwiel kan ʼn mens nog kleinkry, maar prente wat lewe kry en getekende werklikheid word, is iets te dik vir ʼn daalder.

Die wêreld van Charlie Oeng word ook bewoon deur Sy, ʼn naamlose en hakkelende vrou uit die omgewing van Istanboel; Witkant, ʼn albino wat ʼn ongemaklike verhouding met die veiligheidspolisie (die manne met die wit karretjies) het; Mavis Latsky, die Latyn-onderwyseres op die dorp, “uit Oranjezicht, Kaapstad, en met ʼn liefde vir die impressionistiese skilderkuns, die surrealistiese digkuns en die musiek van Vera Lynn en Edith Piaf…”. En ander karakters met hul eie eienaardighede.

Van Heerden kry dit reg om ʼn werklikheid op te rakel wat jy intens mis by die uiteindelike neersit van die boek. ʼn Skrywer wat ʼn mens só kan verplaas, is iemand wat kan skryf.

Die wêreld van Charlie Oeng deur Etienne van Heerden is uitgegee deur Tafelberg. Die boek kos R350.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.