Boek van die maand: ‘Dol heuning’ deur SJ Naude

David Wightman is ʼn Britse skilder wat met muurpapier-collage en akriel op doek fiktiewe landskappe skep wat nie net uit helder kleurvlakke bestaan nie, maar ook getekstureer is. Hoewel dit skilderye is wat op die oog af behaaglik en verwikkeld voorkom, is dit sy vernuf met gelaagdheid wat soveel verrassings bied.

Een van Wightman se landskappe, Ottoline (hy gebruik titels van liedjies, gunsteling-name en woorde wat vir hom interessant is as vertrekpunt vir die titels van sy werk), pryk op SJ Naudé se jongste bundel kortverhale, Dol heuning. Soos in Wightman se kuns is dit gelaagdheid van betekenismoontlikhede, selfs nog meer as kleur en tekstuur en stilte, wat Naudé se verhale so boeiend en onthutsend maak.

Berg en verwysings na berge, soos in die voorbladskildery, duik nie net as geologiese verskynsel in etlike van die verhale op nie (soos die ski-hange van die Italiaanse Alpe of die graniet van Tafelberg of die berge en klowe van Auvergne in Frankryk), maar ook as berg soos in bergplek (ʼn private galery vir kunsskatte), as burg (die Borg-hotel in Reikjavik) of as vesting (ʼn chateau in België, of ʼn klankdigte woonstel met dubbel panele glas in Manhattan, of ʼn klankdigte voertuig eweneens met ruite van dubbele glas), om enkele voorbeelde te noem.

Saam met ʼn soeke na geborgenheid is dit in talle verhale die onherbergsaamheid van die landskap of die omgewing – of die gemoed van die figure in die landskappe – waarmee en waardeur ʼn gevoel van ontreddering geaktiveer word. Ondanks alarmstelsels en veiligheidskameras in ʼn voorstedelike huis in Johannesburg kom ʼn mens in “Die dal van doodskaduwee” (die titel verklap dit reeds) gewoon net nie weg van ʼn knaende agterdog en onsekerheid nie.

Wat Naudé knap vermag is om tussen verhale verbande te lê en subtiel deur herhaling van woorde (dikwels in ander kontekste) eenheid te skep. In die eerste verhaal, “Fawzi al-Junaidi”, kry die leser via ʼn bamboesbos in ʼn Kaapstadse gesin se tuin te make met bamboesmarteling, met “prisoniers wat op ʼn soort bed bokant bamboesplante vasgemaak sou word, waar die jong lote stadig maar seker reg deur hulle sou groei” (16). In die tweede verhaal, “Dol heuning”, ʼn hallusinogeen wat “half giftig, half hemels” is, word verwys na inwoners van die hoogste dorpies in Nepal wat dié heuning oes – “hulle vleg bamboeslere van honderde meter lank” om dié heuning uit korwe teen die kranse uit te haal. So versigtig kies Naudé sy woorde en so gelaagd is sy verwysings dat ʼn mens kwalik die raakvlakke tussen woorde en verhale en meer nog, die psige van karakters en van mens- én onmenslikheid, kan mis.

By die lees van “Wonderwerk” kon ek nie help nie om aan Bret Easton Ellis se woorde te dink toe hy American Psycho geskryf het: “I was slipping into a consumerist kind of void that was supposed to give me confidence and make me feel good about myself but just made me feel worse and worse and worse about myself.” Dit is min of meer die gewaarwording en daarmee saam ʼn soeke na ʼn soort ekwilibrium wat nie net Naudé se karakters het nie – vergelyk Frans se besluit in die eerste verhaal om af te reken met “hierdie verstikkende wêreld” (24) of Mark wat ʼn tuin wat eeue lank gegroei het “in enkele dae tot verknotte stamme en stingels reduseer” (144) – maar wat die leser ook al lesende ontwikkel.

Die hart van die bundel is die evokatiewe “Twee libretto’s”, twee kort arias, die een vir alt en die ander vir kontratenoor, oor die onteenseglike broosheid van die lewe, oor Naggevare en oor die uiteindelike Nagkoue.

In “Landskappe met figure” (“Berg”, “Vallei” en “Woestyn”), die laaste verhaal in drieluikvorm, is daar nie net ʼn decrescendo ten opsigte van kontoer en landskap nie, maar ook in tipografie met etlike leë bladsye en die eindelike stilte wat dit vergestalt.

Soos met Wightman se getekstureerde vlakke waaruit sy skilderye opgebou word, word Naudé se landskappe (met figure) “duine, soos ʼn reuse-vel papier”. “Teen die weidse woestyn maak alles sin, kan alles aanmekaar geskryf word. En dan waai die wind oornag en is daar die volgende oggend weer ʼn skoon bladsy” (231).

Dol heuning is ʼn verruklike bundel kortverhale wat jou meesleur, oorweldig, troos én ontstem. ʼn Waardige voortsetting van Naudé se skrywerskap wat begin het met die kortverhale Alfabet van die voëls (2011) en die roman Die derde spoel (2017) waarmee hy die Hertzogprys verower het.

SJ Naudé se Dol heuning word uitgegee deur Umuzi. Die boek kos R290.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.