Boek van die maand: ‘Geen engel nie’ deur Andre Krüger

Andre Krüger se jongste roman, Geen engel nie, het al in 2020 verskyn en is streng gesproke seker nie ʼn “nuwe” boek nie. Nietemin is dié roman wat iewers tussen die sogenaamde Bildungsroman en ʼn boeiende spanningsverhaal lê, deur en deur die moeite werd. Dit lees soos ʼn droom, laat jou met heelwat binnepret én gryp jou meteen aan die hart en boonop hou dit jou op die punt van jou stoel.

Nader aan die definisie vir die term Bildungsroman – ʼn genre van die letterkunde met die sielkundige en morele groei van ʼn jong protagonis voorop – kan ʼn mens kwalik kom as in dié roman waarin ʼn anonieme eerstepersoonsverteller, ek skat hom in sy 30’s, aan die woord is oor sy kinderdae en jongmenslewe tot waar hy sit en nadink oor die verloop van sy lewe. Daar is nog een ding wat hy moet afhandel en dan sal hy teenoor homself kan erken: “Daarna is ek nie meer ʼn krimineel nie, bestaan die flentergat hierjy van Randfontein en Germiston nie meer nie.”

As dit kom by ruimte vir groei, sielkundig sowel as moreel, is ons eerstepersoonsverteller ʼn braak land. Die gebruik van die woorde “flentergat hierjy” moet ʼn mens nie gering ag nie. Dit verwys nie net na sy gesin van oorsprong nie – sy pa wat sy ma en die gesin in die steek laat en laat spaander; die ma en haar minnaars, die een na die ander; ʼn jonger boetie en sussie (Johnny en Chantal); sy neef (Markus) en sy niggie (Maggie) – maar ook na die manier waaroor hy oor homself dink. “Ek is nie ʼn goeie mens nie. Moenie my verkeerd verstaan nie, ek is nie so sleg soos Markus nie, maar ek was nooit goed nie. Maggie was goed. Hoe kan ek sê? Sy was suiwerder as ons” (13).

Hoewel die verhaal in die hede aangebied word, is die verteller terugskouend, wetende dat hy geen engel is nie, aan die woord. Heelwat ontwikkeling het reeds plaasgevind, hoewel hy die leser in die eerste sin inlig dat hy besig is om ʼn (laaste) moord te beplan.

Die enigste vernuf waarmee die hoofkarakter as “Randfontein cat” in ʼn nuwe skool in Germiston aankom, is dat hy ʼn “pinball wizard” is – wat hom nie soveel van ʼn prooi van boelie gemaak het nie as wat die geval was met sy kleinboet, Johnny.

Dié deel van die verhaal speel af in die tyd van kadette op hoërskool, die tyd van fotoboekies soos “Grensvegter” en “Mark Condor” en die tyd van jou eerste Chesterfield. Maar dit is ook die tyd waarin die hoofkarakter sy rieme styfloop met misdaad.

Eindelik beland hy, die seun wat ʼn hopelose kadet was, in die weermag, as ʼn soort ontsnappingsroete, net om deur Sunnyside se nagklubs en onderwêreld ingesluk te word, ʼn wêreld waarin hy katvoet moet wees om aan die beweeg te bly.

Dié verhaal word vertel met deernis, humor, nostalgie, fyn kommentaar op die destydse samelewing – toe Portugese nog groentewinkels besit het en gevaar Rooi, Geel en Swart was – en bowenal ʼn stuwing om uit ʼn flentergatbestaan los te breek. Bakens op dié pad is die hoofkarakter se kennismaking met Kasper en sy lewe met boeke, onder meer Animal Farm van George Orwell.

Misdaad, die onderwêreld van Pretoria en “slegte mense” baan die weg vir ʼn spanningsroman met kinkels, skote wat klap, magsvertoon, gierigheid, onderduimsheid en wraak. As jy sien wat ek sê, om die hoofkarakter se refrein te gebruik – ʼn sinsnede wat reg deur die verhaal gebruik word.

Krüger begin sy boek met dié gewaarwording: “Hierdie boek is nie die waarheid nie, maar die waarheid is in hierdie boek.” En dit is waarskynlik die onthutsendste gedagte wat ʼn mens bybly: die maniere waarop mense probeer sin maak van hulle omstandighede. Of dit nou in die veranderende Suid-Afrika van die vroeë 1990’s is of die verwikkelinge in Joego-Slawië van dieselfde tyd. Luka, ʼn vennoot van Kasper en die hoofkarakter, het nie net sy wortels in dié land nie, maar ook in die stryd wat daar besig is om te ontvou.

Op dié manier bring Krüger, soos in sy vorige boeke, ʼn buitelandse verwysingsraamwerk in dié verhaal wat bydra tot ʼn groter konteks waarbinne mense lewe en strewe na die immer ontwykende waarheid.

“Sensitiewe lesers gaan dalk die vlugsout byderhand moet hou vir dié een,” het Kruger by geleentheid voor die publikasie van Geen engel nie gesê. Met of sonder vlugsout, wat ʼn merkwaardige boek.

Krüger het met sy debuutroman, Die twee lewens van Dieter Ondracek (2012), die UJ-debuutprys verower en daarna het gevolg Komplot (2015) en ʼn Redelike hoeveelheid moeilikheid (2019).

Andre Krüger se Geen engel nie word uitgegee deur Penguin. Die boek kos R290.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit van Vrydagaand om 19:30 tot Maandagoggend om 06:00. Kom kuier gerus dan weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.