Boek van die maand: ‘Hierdie land’

Kort op die spore van Ver in die wêreld, ʼn bundel van 23 verhale van Afrikaanse skrywers wat almal in die buiteland woon of gewoon het, saamgestel deur Frederik de Jager, het Hierdie land onlangs verskyn – eweneens ʼn versameling verhale, en enkele gedigte, waarin 56 Suid-Afrikaners aan die woord kom oor hierdie land. Die subtitel van dié bundel, Daar is iets aan Suid-Afrika, dui op die uitsonderlike band wat dié skrywers elkeen op sy en haar eie manier met die vaderland het.

Die laaste boek van dié aard waaraan ek kan dink is waarskynlik André Brink se SA, 27 April 1994: An Authors’ Diary – ʼn Skrywersdagboek wat kort ná die oorgang na die demokratiese bestel in die land verskyn het. Verskille is daar wel. Brink se boek was tweetalig en hy het dus ʼn wyer net kon span om bydraers te kry. Nog ʼn verskil is die euforie van destyds, en bes moontlik die muishondstatus waarvan Suid-Afrika oornag vrygekom het en as’t ware ʼn skoon toekoms tegemoet gestap het.

Heelwat water het in die see geloop en 30 jaar later is hierdie land nie meer so onkreukbaar of sonder ʼn reukie nie.

Wat opval in Hierdie land is dat die skrywers nie voluit fokus op die onraad in die land nie, maar eerder op goed soos landskap, gebruike en verbondenheid met die plek. Moontlik was dit die strekking wat aan die skrywers deurgegee is met die oog op die samestelling van die bundel. Soos Nicol Stassen in sy Voorwoord skryf: “Wat is vir jou uniek en kosbaar aan Suid-Afrika? Wat laat jou verlang? Wat laat jou lag? Wat maak jou trots? Is dit ʼn spesifieke landskap, landmerk, kos, dier, plant, liedjie of tradsie?”

Die bydraes deur gerekende skrywers (van fiksie en niefiksie), digters en kunstenaars (visueel sowel as musiekkunstenaars) lei tot tot verhale en verse wat spreek van die intieme band met hierdie land, dikwels ten opsigte van “klein” en persoonlike ervarings. Gewoon omdat die soort goed wat vir jou kosbaar en snaaks is en trots maak gewoonlik sulke persoonlike belewenisse is – getrou aan die aard van vinjette.

Ja, daar is “jou bedelaars by die robots, jou potholes in die pad, korrupsie in die kabinet, jou vulllis teen die draad…”, soos Riku Lätti dit stel, maar alles is nie sleg nie. En dit word grotendeels die trant van die bydraes. Hans Pienaar noem sy bydrae “Politiek” en hy lê wel lem in, maar dit is eintlik die absurditeite wat hy uitlig, want “bloot as entertainment… het die Suid-Afrikaanse politiek nie sy gelyke nie.”

Opvallend is waarna Stassen verwys as “ons beheptheid met begraafplase en begrafnisse”. ʼn Hele paar skrywers takel uit verskillende hoeke die dood en doodsrituele – moontlik omdat dié bedryf so onlosmaaklik met grond verbind is? Andries Bezuidenhout se verhaal “Die eier-mayonnaise-begrafnistoebroodjie” is een van die juwele in hierdie bundel.

Daar is bydraes deur skrywers wat reeds heelwat prosa op die kerfstok het, soos Lien Botha, Marié Heese, Erika Murray-Theron, Riana Scheepers, Deborah Steinmair en Cas Wepener, en skrywers wat as digters hul merk gemaak het, soos Marius Crous, Tom Dreyer, Louis Esterhuizen, Joan Hambidge, Daniel Hugo, Ronelda S Kampfer en Johann Lodewyk Marais. Skrywers wat dalk meer bekend is vir niefiksie sluit mens in soos Elsabé Brits, Fransjohan Pretorius en Hennie van Deventer.

Hierdie land is ʼn byeenbring van uiteenlopende en wydgeskakeeerde indrukke, so divers as wat die land en die landskap self is. Met Joan-Mari Barendse as redakteur word dié verhale sinvol saamgesnoer om ʼn gawe vloei te bewerkstellig – wat die leser self moet ervaar. Die bundel het genoeg afwisseling en dit is ʼn aangename leeservaring.

Hierdie land – Daar is iets aan Suid-Afrika, uitgegee deur Protea, kos R295. Koop Hierdie land by Graffiti Boeke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

KatjieDeKat ·

Nee wat mense kan maar mooi broodjies bak soos hulle wil – hierdie land is n verrotte, vervalle helhool met geen toekoms. Ek is, soos baie, hier vasgevang en kan nie ontsnap nie. Al die rugby en braai en ouma se moskonfyt staaltjies wat mense ook al aan kan dink, gaan geen verskil maak nie. Ek het dit aanvaar maar ek verstaan dat baie mense “coping mechanisms” nodig het so hulle kleef maar aan die enkele dinge wat hulle deurdra deur elke dag.

Republikein in die Wes Kaap ·

Sommige mense wil maar net nie aanvaar dat ons eintlik besig is om ons tyd te mors nie. Nou probeer ons onself oortuig dat die hool pragtig is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.