Boek van die maand: ‘Johanna’ deur Cas Wepener

johannaDit is drie figure, drie kuns- en letterkundekolosse, wat die skadu’s in Cas Wepener se jongste roman, Johanna, bewoon. Sonder dat ʼn mens hulle openlik teëkom is dit die aanwesigheid van Karel Schoeman, Elizabeth Eybers en Irma Stern waarvan jy deurgaans bewus is. Stern se Eternal Child pryk op die buiteblad, van Eybers se gedig uit Noodluik maak Wepener ʼn motto en die boek word opgedra aan KS.

Stern se skildery word later die gestalte van ʼn “tragies mooi” meisie met groot oë, dik vlegsels en dun lippe. En Eybers se bundeltitels en verwysings na verse begin lewens en verhoudings konstitueer. Net soos wat stilte en huiwering en afwesigheid die aanwesigheid van Schoeman adem.

Hier moet ʼn mens in gedagte hou dat Wepener ook die skrywer is van Die reis gaan inwaarts: Die kuns van sterwe in kreatiewe werke van Karel Schoeman. Hoewel hierdie boek lepel lê met Johanna (en verruiming bring ten opsigte van sterwe en die hantering daarvan) beteken dit nie dat Johanna nie op haar eie bene staan nie. Dieselfde geld Stern en tot ʼn groter mate Eybers. Kennis van Eybers se poësie verhoog die leeservaring, hoewel Johanna dit nie van die leser verg nie.

Die verhaal is dié van die dood van Johanna de Swardt wat, onverwags, haar vriende en familie noop om sin te maak van dié afsterwe en van traumatiese gebeurtenisse in haar lewe as klein dogtertjie.

Die verhaal word beskryf vanuit verskillende perspektiewe: dié van haar geliefde Muriel; haar pittige huishulp, Nonna (Nonkululeko); haar effens verbitterde suster Elize; haar dominee, Pieter; en haar susterskind, Willie, met wie sy ʼn liefde vir letterkunde gedeel het.

Wepener benader dié perspektiewe soos kortverhale, elkeen gesien uit die oogpunt van genoemde karakters (en met die naam van die eerstepersoonsverteller telkens as opskrif van die hoofstuk). Dit is juis met dié meerstemmigheid, en daarmee saam die manier waarop taal oopval in ʼn verskeidenheid stemme (soos byvoorbeeld die eiesoortige seggings van Nonna), wat die verhaal geskakeerd vertel word binne die romanformaat.

Die skakering in vertelling vul Wepener knap aan deur teksture in te weef: onder meer geure (dié van Earl Grey-tee, kaneel, dennenaalde), seisoene en die wind. En stilte.

Wepener het ʼn vermoë om stilte te plooi dat die stilte nie net op papier bestaan nie, maar ook deel word van die leeservaring.

Maar dit is die verhaal van twee bejaarde vroue wat tereg kom, en dié van sterwe (die woord wat Schoeman bó dood verkies het). Met die geoefende oog van ʼn skrywer is dit die fynste besonderhede wat hy weergee, wat die boek so geloofwaardig maak en les bes dit so ʼn heerlike boek maak.

Vergelyk die manier waarop twee bejaarde vroue uit stoele opstaan: “… soos twee gimnaste wat met die landing ná hul optrede stadig en berekend orent kom om hulle balans te verseker, buig ek en Muriel ons bene reguit terwyl ons op die stoele se armleunings druk”.

Dit is die tyd en plek waar die verhaal hom afspeel wat die verhouding tussen Johanna en Muriel grootliks kniehalter. Eweneens met fyn aanvoeling kry ʼn mens ʼn blik op dié haperende verhouding. Vergelyk die versugting van die Engelssprekende Muriel: “In which pew will I be sitting one day at Johanna’s funeral?” In een sin kry die dilemma van ʼn geliefde binne ʼn groter onverdraagsaamheid gestalte.

Wepener onderskat nie sy leser nie. Hy laat genoeg ruimte sodat die leser ook tussen reëls kan lees. Subtiel kom Nonna se politieke bewussyn deurgevleg, en eweso die dominee se satheid vir die gemeente, en kritiek op ʼn samelewing wat eendersdenkendheid so hoog skat.

Hy laat leidrade wat die leser kan opvolg. Op die spoor van Eybers kry die roman heerlike vistas (vergelyk byvoorbeeld die bekende Vondelpark-gedig).

Johanna is die soort boek wat by herlees nog meer vreugde bied.

Cas Wepener het in 2013 gedebuteer met Dubbelfoto (Protea). Daarna het gevolg Syferfontein (Protea) in 2016 en Die reis gaan inwaarts: Die kuns van sterwe in kreatiewe werke van Karel Schoeman (Sun Press). Johanna is uitgegee deur Protea en kos R195.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Gerhard ·

Hierdie een klink voorwaar soos ‘n moet. Ek kan nie wag nie …

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.