Boek van die maand: Met die Vierkleur in Parys

Teen die aanbreek van die 20ste eeu was Parys die middelpunt in die wêreld van kuns en ontwerp. Om hierdie posisie te verstewig is die Exposition Universelle, ook bekend as die Paryse Wêreldskou van 1900, aangebied – ʼn uitstalling wat waarskynlik die kersie op die koek was in ʼn rits soortgelyke uitstallings. So is die Eiffeltoring as aanduiding van triomf in staal byvoorbeeld tydens die uitstalling van 1889 opgerig.

Dit was dié ontwerpvernuf in die dak van staal en glas van die stasiegebou in Parys (waarskynlik die pasvoltooide Gare de Lyon) wat Paul Roux onmiddellik by sy aankoms in dié stad opgeval het. “Paul Roux, hier staan jy in Parys, jou droom,” (11) het hy hardop vir homself gesê.

Paul Roux is die 30-jarige argitek en hoofkarakter in Renée Rautenbach Conradie se debuutroman, Met die Vierkleur in Parys, ʼn histories getroue roman wat nie net in Parys afspeel nie, maar ook rekening hou met die gebeure in die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR), weliswaar uit ʼn Franse perspektief. Roux is in Parys om te help met die voltooiing van die ZAR se tentoonstelling op dié Wêreldskou.

Die Parys waarin hy in Januarie 1900 aanland is die stad waarin art nouveau gevestig geraak het, waarin die Moulin Rouge ʼn boheemse fokuspunt is en ʼn stad waarin absint vloei. Maar vir die land waar Roux vandaan kom, is dit een van die droewigste tye in die geskiedenis. Vroeg in 1900 was daar verskeie bloedige veldslae, in Junie is Pretoria ingeneem en in November het Paul Kruger in Europese ballingskap in Marseilles aangekom.

Die gebeure tussen Januarie en November daardie jaar is nie net die agterdoek waarteen Rautenbach Conradie se roman afspeel nie, maar word ook noukeurige borduurstekies waarmee sy tekstuur en konteks gee. Dit is die dikwels terloopse mededelings wat sy gebruik om lig te gooi op kompleksiteite – soos byvoorbeeld die interne politiek rondom die statige doktor Mansvelt en SJ du Toit (81).

Roux, ʼn jong man wat beskryf word as “maladroit”, as “lomp” en “naïef”, betaal die prys vir sy goedgelowigheid en sien en ervaar ook die nare kant van Parys as “wilde Boer”. Hoewel hy homself regruk, bly hy vir die duur van sy verblyf in Frankryk die buitestander, soos wat die republiek ʼn buitestander is – die ZAR-pawiljoen kry ʼn plek saam met die kolonies “oorkant die rivier by die Trocadéro (37). Dit is waar die Vierkleur wapper en waar ʼn serfyntjie in die pioniershuis wat daar opgerig is beliggaming word van die weemoed van alleenheid in die vreemde.

In haar tekening van Roux sluit Rautenbach Conradie dié jong argitek in by ʼn groter broederskap van eenlinge in die vreemde: Benewens Kruger in ballingskap is daar die Fransman kolonel George de Villebois-Mareuil wat in April by Boshof gesneuwel het en die Rus Nikolai Artisjof wat in Parys is vir die opening van die Alexandre III-brug oor die Seine. Daarby kom die “andersheid” van verskeie kunstenaars ter sprake: Monet en Pisarro, Rodin en Toulouse-Lautrec, die dansers Jane Avril en Mistinguett asook Marguerite Gautier, die hoofkarakter in Dumas se La Dame aux Camélias.

Dit is juis in haar fyn verslag waarmee Rautenbach Conradie beïndruk. In sy kameerol word Willem Leyds, Kruger se gevolmagtigde wat op diplomatieke maniere hulp van lande in Europa moes kry, ekonomies dog deeglik geteken: Die man wat Eugène Marais as “lintjiesjagter” bestempel het, wat verkies het om as “u Eksellensie” aangespreek te word, en wat by Kruger se aankoms in Marseilles ʼn nuwe pluiskeil en jas vir die president gereed gehad het omdat hy hom nie vir die president wou skaam nie.

Rautenbach Conradie se oog vir karakterisering en noukeurigheid val ʼn mens ook elders op – neem nou maar die dikwels terloopse beskrywing van kos, waarmee sy ʼn sintuiglike ervaring van die Franse leefwêreld optower: van vaal sop met ʼn lang brood en ʼn kraf wyn tot geurige pot-au-feu, van die doodgewone baguette met ham, botter en radyse tot consommé Rossini in die Ritz.

Met al meer Suid-Afrikaners in die buiteland is Paul Roux se eerste jaar in Frankryk, 120 jaar gelede, ʼn verkenning van sy nuwe omgewing en gewaarwordings, maar eweneens ʼn verkenning van sy plek van herkoms en ʼn herdefiniëring van wie hy is.

Met die Vierkleur in Parys is ʼn roman van verkenning, van intrige, van geskiedenis en van liefde wat oorwin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.