Boek van die maand: ‘Ons skulde’ deur PP Fourie

Hoewel Ons skulde die skrywer PP Fourie se tweede roman is – sy debuut, die outobiografiese roman ʼn Hart is so groot soos ʼn vuis, het in 2021 verskyn – meen Fourie in verskeie onderhoude dat Ons skulde vir hom in meer as een opsig soos sy eerste werklike roman voel. So, voer hy aan, is die gegewe van sy jongste roman puur fiktief teenoor die gegewens geskoei op ʼn geleefde lewe in ʼn Hart is so groot soos ʼn vuis.

Dié jongste roman was dus ʼn geleentheid om sy verbeelding te laat gaan en karakters, omstandighede en ʼn storielyn volledig te versin. Boonop het hy die geleentheid gehad om die storie van Ons skulde, wat hy reeds in Engels geskryf gehad het, met vars oë te bekyk en te verwerk en eiehandig die verhaal oor te skryf in Afrikaans. Anders as met sy eerste boek wat deur ʼn vertaler van ʼn Afrikaanse teks voorsien is.

By die eerste lees van die titel van Ons skulde kom die woorde uit die gebed wat Christus vir sy dissipels voorgehou het dalk by ʼn mens op: “Vergeef ons ons skulde, soos ons ons skuldenaars vergewe.” Meer as blote oortredings is in die gebed, soos in die roman, sprake van skulde wat vereffen of afbetaal moet word. Nog ʼn teks wat ʼn rol speel in die roman (en wat as een van drie motto’s voor in Ons skulde genoem word) is Nathaniel Hawthorne se The Scarlet Letter (1850) waarin begrippe soos werkheiligheid, sonde en skuld verken word – spesifiek binne ʼn monogame samelewing wat buite-egtelike seks ʼn moontlikheid en tegelyk ʼn probleem maak.

Hester Prynne, die hoofkarakter in The Scarlet Letter, verduur die oordeel van haar Puriteinse omgewing ná ʼn buite-egtelike verhouding (die vrou dra die blaam!) en word aangesê om as straf die rooi letter A (vir “adultery”) te dra.

Hoewel ʼn mens met dié inligting in gedagte en na aanleiding van die inhoud van ʼn Hart is so groot soos ʼn vuis ʼn soort historiese band met Ons skulde sou kon aandui (soos wat wel gedoen word), kan die leser Ons skulde op sigself lees en geniet. As ʼn losstaande roman oor skuld, verwyt, vergifnis en veral wraak.

Die verhaal is dié van Emma Lindgren, ʼn navorser en projekbestuurder by ʼn internasionale ondersoekende tydskrif, wat eers haar man, Simon, verneuk en hom daarna verloor. “Emma Lindgren is ʼn sondaar.” So konstateer die openingsin, en ʼn paragraaf of wat later eggo Emma dié geïnternaliseerde “waarheid”: “Ja, ek is ʼn sondaar.” Maar goed, met dié sosiale konstruksie stewig gevestig onderneem Emma ʼn reis na die Oos-Vrystaat op besoek aan Simon se tante Vera, ʼn komplekse vrou wat geniepsig kan wees en wat duidelik moeite het om haar demone almal op hok te hou. Op Clarens raak Emma bewus van ʼn wyer wêreld van skuld, en veral wraak. En dit is hier waar die leser nuuskierig agter die ontvouende verhaal aan begin lees. Vasgenael om agter die kap van die byl te kom.

Soos vergifnis – wat iets is wat “jy nie net een keer doen nie. Dit is ʼn proses wat jy elke dag moet herhaal, totdat jy vrede het met jouself en die ander” – is wraak duidelik ook nie iets wat ʼn mens in ʼn agtermiddag afhandel nie. Laasgenoemde is weliswaar die soort bedryf wat kwalik die vervulling bied wat dit so rojaal beloof. Soos Hawthorne dit saamgevat het: “Shame, Despair, Solitude! These had been her teachers – stern and wild ones – and they had made her strong, but taught her much amiss.”

ʼn Pluspunt in die roman is die feit dat nie alle vrae beantwoord word nie, en alle rafels nie opgeruim nie. Fourie is ʼn skrywer wat sy leser se verbeelding aktiveer en toelaat om afleidings te maak. Of gewoon te bly wonder. Met so baie wat ons wel verstaan en onder woorde kan bring, is daar inderdaad ʼn magdom emosies en intriges wat ons nooit ten volle sal begryp nie.

  • Ons skulde deur PP Fourie en uitgegee deur Queillerie, is beskikbaar by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.