Boek van die maand: ‘Porseleinskerwe’ deur Marié Blomerus

Hoewel Marié Blomerus in 1975 die novelle Soo-oo-oopwa gepubliseer het, is sy in die Afrikaanse letterkunde bekend as digter. In 1968 het sy gedebuteer met Fosforblom en daarna het gevolg Blou as beginsel van duisternis in 1975, Ithaka in 1985 en Seisoene van terreur in 1988.

Einde verlede jaar het Blomerus die lang publikasiestilte verbreek met Porseleinskerwe, ʼn bundel rubrieke wat tevore in Republikein verskyn het, essays en kortverhale waarna die skrywer as “herinneringe” verwys. Dié herinneringe sluit in jeugherinneringe sowel as plekgebonde herinneringe – van haar geliefde Namibië, maar ook van plekke wat sy op Europese reise aangedoen het.

Soos in Spertyd, Elsa Joubert se outobiografiese vertelling wat sy op 95 gepubliseer het, kyk Blomerus op 88 terug op ʼn lewe en veral op gebeure en ervarings wat sy “soos kleinode bewaar, diep in die holtes van die hart, want hulle het geskitter en ons lewens soos opkomende sonne laat gloei, of selfs soos die aandster” (7).

Een van dié kleinode is die skerwe van ʼn porseleinkoppietjie met daarop geverf “kameeltjies op hulle tog oor die sandduine en die palmboompies met ʼn belofte van water en ʼn lawende oase” (27). Die koppietjie het sy jare gelede as Kersgeskenk ontvang en verteenwoordig “pynlike herinnering aan iets kosbaars wat gebreek is”. Belangriker egter is die bewuswording “dat kosbaarhede breek of verdwyn, maar dat die herinnering in die onbewuste gaan lê om van daar af opgeroep en afgestof te word vir ʼn oomblik se nabetragting omdat alles só vervlietend van aard is” (28). (Jammerte dat dié skerfie nie die voorblad van die boek kon haal nie.)

Dit word derhalwe die vliet van die lewe en veral die oproep daarvan en die nadink daaroor wat die pas aangee in Blomerus se vertellings – van die (voorouerlike) plaas in Afrika tot die woonstelbalkon (vermoedelik in Swakopmund waar die skrywer woon).

Dit is in die laaste essay, dié een waarin kos vir voëls op ʼn balkon uitgesit word en ʼn paar lagduifies nadergelok word, waarin die dood van ʼn duif (met verwysing na John Keats se “I had a dove”) iets vergestalt van die beperkings waaraan ʼn mens onderwerp word, en jouself desnoods onderwerp. En wat jou kanse in die wiele ry om volwaardig vry te wees, “om duif te wees…” (228).

Benewens Keats put Blomerus uit die werk van ʼn hele aantal Europese digters: Willem Kloos, Robert Burns, William Shakespeare, Lord Byron, Miguel de Cervantes, George Seferis en Federico García Lorca. Van Lorca bied sy “met baie eerbied, nederigheid en heel bewoë” verwerkings van drie gedigte aan. Vergelyk uit “Gacela van die donker dood” dié woorde: “Ek wil die droom van appels slaap / ver van die ontreddering van begraafplase. / Ek wil die droom van daardie kind slaap / wat sy hart op die oop see wou breek….” (215).

Maar sy betrek ook die werk van Afrikaanse digters: ouer digters soos C Louis Leipoldt, AG Visser en Eugène Marais, maar ook Chris Pelser, met wie sy getroud was, en Phil du Plessis, saam met wie sy in die 1960’s mederedakteur was van die tydskrif Wurm.

Met die inbring van dié digters en skrywers, verwysings na skilderye, na musiek en bowenal plekke soos Bari, Granada, Madrid en Rome, verruim Blomerus haar vertellings en verhoog sy die tydlose gevoel daarvan. Wat die kort verhale op hul beurt soveel toegankliker maak vir die leser.

Maar bowenal onthou ʼn mens dié vertellings vir die rooi sand van Namibië, die poublou van die Erongo-berge en ʼn vuisvol ooplugsterre van haar geliefde Namibië.

Marié Blomerus se Porseleinskerwe is uitgegee deur Protea en kos R180.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.