Boek van die maand (resensie): ‘558 dae’ deur Yolande Korkie

KorkiePierre en Yolande Korkie van Bloemfontein se ontvoering in 2013 deur die terreurgroep Al Kaïda, het skokgolwe deur die wêreld gestuur. In haar aangrypende nuwe boek vertel Yolande oor hul aanhouding in ʼn afgeleë gebied van Jemen, en hoe sy hul ontvoering, maandelange aanhouding en haar man se dood moes leer hanteer.

Ek kies hierdie boek vandeesmaand om twee redes: dis boeiend en baie goed geskryf, maar dis ook broodnodige inspirasie in ʼn tyd waarin Suid-Afrikaners voel dinge in ons land is besig om hande uit te ruk. Hierdie boek ruk ʼn mens tot stilstand en laat jou opnuut besef: daar ís ʼn Hoër Hand, en hoewel Hy nie vrywaring kan bied teen slegte situasies nie, bied Hy deurentyd bewaring.

588 dae is ʼn eerlike vertelling van die Korkies se belewenis. Myns insiens is die groot gevaar van hierdie tipe boek dat die vertelling maklik kan verval in die spreekwoordelike pienk boekie-anekdotes. Yolande skroom egter nie om eerlik en reguit te skryf oor die hele aaklige ervaring nie, en vertel sonder omhaal ook van die dae waarin dit byna te moeilik was om aan God vas te hou.

Dis ʼn verhaal wat ʼn mens diep raak weens die menslikheid daarvan. Die Korkies het na deeglike navorsing besluit om hulle in Jemen te vestig vir ʼn paar jaar omdat hulle gevoel het hulle kan daar ʼn verskil maak. Pierre deur sy landbouraad aan plaaslike kleinboere en Engels-lesse aan wie ook al die taal wou bemeester, en Yolande deur onder meer vrywilligerswerk by plaaslike hospitale.

Toe hulle Suid-Afrika in 2007 verruil het vir Jemen, is buitelanders nog met oop arms daar ontvang. Maar die Arabiese Lente wat sedert Desember 2010 tot heelwat opstande en burgeroorloë gelei het in talle Arabiese lande, het alles verander. Al Kaïda het die plek-plek onherbergsame, uitgestrekte Jemen as die perfekte wegkruipplek geïdentifiseer, wat gelei het tot verskeie lugaanvalle deur Amerikaanse hommeltuie (drones). Die Korkies het besef dit raak tyd om Jemen dalk tydelik te verlaat totdat dinge veiliger is, maar hul paspoorte het onverklaarbaar verlore geraak in die Jemeense burokrasie. Daarsonder moes hulle noodgedwonge aanbly in die land aanbly. Jemeense vriende met invloed het die paspoorte uiteindelik help opspoor, net betyds sodat hulle Pierre se pa se begrafnis in Suid-Afrika sou kon bywoon. Maar op die dag wat hy en Yolande die paspoorte sou gaan afhaal vir hul reis na Suid-Afrika, is die egpaar in ‘n lokval gelei en ontvoer. Die ontvoering sou eers 558 dae later verby wees, en ongelukkig was Yolande die enigste oorlewende.

Yolande se vertelling bied ʼn ontstellende kykie op dit waaraan gyselaars wêreldwyd daagliks onderwerp word. Die angs, vernedering, magteloosheid en aftakeling word uitstekend verwoord, en die leser kan nie help om te wonder hoe regerings wêreldwyd dit regkry om hul rûe eenvoudig op gyselaars te draai nie. (Suid-Afrika en talle ander lande, insluitende Amerika en Brittanje, het ʼn internasionale verdrag onderteken ingevolge waarvan geen regering ʼn losprys vir gyselaars sal betaal nie.) Hoewel ʼn mens die politieke besluit verstaan – om nie nog geld vir wapens in terreurorganisasies se sakke te laat beland nie – is dit minder maklik om die menslike tragedie van ʼn ontvoering na die lees van hierdie boek uit jou gedagtes te verban.

Die boek gee ook ʼn broodnodige eerstehandse blik op die binnewerkinge van die gevreesde terreurorganisasie, Al Kaïda, en sal ook baie van Jan Publiek se vrae oor die terroristegroep beantwoord.

Uiteraard gaan 558 dae ook oor die Korkies se geloof. Hoewel Yolanda nie doekies omdraai oor die swaar tye nie, bly haar en Pierre se onwrikbare geloof mens nog by lank ná die neersit van die boek. Sy skryf byvoorbeeld oor hoe dit is om nie toegang te hê tot ʼn Bybel nie – iets wat almal van ons as vanselfsprekend aanvaar.

Pierre is doodgeskiet in ʼn mislukte reddingsoperasie deur die Amerikaanse Navy Seals, net enkele ure voordat hy vrygelaat sou word. Intensiewe maandelange onderhandelinge deur die Suid-Afrikaanse noodlenigingsorganisasie Gift of the Givers se Jemeense verteenwoordiger, Anas alHamati, het die terroriste laat instem om Pierre vry te laat. Maar die Amerikaanse regering het opdrag gegee dat Luke Somers, ʼn Amerikaanse joernalis wat saam met hom aangehou is, bevry moet word. Min het hulle geweet dat Pierre en Luke saam aangehou word…

Pierre se persoonlike joernaal is deur die Amerikaanse regering aan Yolanda terugbesorg, en vorm deel van die boek. Dis ʼn hartroerende verhaal van die Korkies se besondere liefde vir mekaar, en Yolande skryf ook oor hoe sy en hul kinders, Pieter-Ben en Lize-Mari, sy dood verwerk.

Alle vrae wat ʼn mens moontlik sou kon hê oor die egpaar se ontvoering, word in die boek beantwoord. Maar dis meer as net die verhaal van twee mense se ontvoering – dit bied ook indirekte antwoorde op die dinge waarmee ons in ons daagliks in ons lewens stoei. Die boek bevat ook 16 bladsye volkleur-foto’s uit Yolande se persoonlike album en haar roerende laaste brief aan Pierre.

Hoogs aanbeveel. Ook beskikbaar in Engels as 558 Days.

Uitgewer: CUM Uitgewers
Uitgewersprys: R300,00.
Spesiale aanbod danksy Graffiti Boeke vir Maroela-lesers: R250,00.
Koop die boek by Graffiti Boeke

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.