Boek van die maand (resensie): ‘Die bergengel’ – Verbeelding wat deurgaans betower

Dit is nie om dowe neute nie dat Carina Stander agter in Die bergengel na haarself as opgeleide beeldhouer verwys. Dit is juis haar vernuf om te verbeeld wat in dié roman, die eerste van drie, so voorop staan. En daarmee saam die vaardigheid om te verbeel.

Maar eers iets meer oor verbeeld.

Stander bring ʼn hele wêreld tot stand, iets van ʼn parallelle werklikheid wat herinner aan ʼn tyd voor motors en vliegtuie. Haar wêreld noem sy Gabriëllië, ʼn vasteland met ʼn hele aantal regio’s met mitiese eienskappe. Afrika neem ʼn stewige plek in die Gabriëlliese mitologie in – wat die leser van meet af help om hom- of haarself te plaas.

Die bekendstelling van Die bergengel vroeër vanjaar in Pretoria het gepaardgegaan met ʼn uitstalling van tekeninge, van vergestaltings van tonele uit die boek. Of ʼn mens dié tekeninge gesien het of nie, die manier waarop die landskap, die lewenswyse en les bes die mense in woorde verbeeld word kry betekenis wat die leser insuig in ʼn fantasiewêreld van goed en sleg, ʼn wêreld weliswaar verwyderd van die alledaagse sodat jy ʼn ander blik kan kry op herkenbare vorms van hebsug, magsug en politieke onbeholpenheid.

Stander span “Faerie” in, soos JRR Tolkien daarna verwys het, om satire, avontuur, moraliteit en fantasie te verbeeld én te verbeel. “Faerie itself may perhaps most nearly be translated by Magic — but it is magic of a peculiar mood and power, at the furthest pole from the vulgar devices of the laborious, scientific, magician,” het Tolkien volgehou.

Die luim en krag wat Stander volhou betrek die verbeelding van die leser in die ontvouende verhaal van die bergengel, “ʼn wese wat op ʼn bonatuurlike wyse ondergronds kan leef, soos een wat in uit spelonke beweeg en sodoende lig te werp op die gemoed van ʼn enkeling of ʼn groep wat verblind is deur die grotbestaan van geheimhouding”.

Die leser kom Eron Verberger teë, enigste kind van Gibor, die klokmaker, en Alida, sy ma wat onder meer die taal van klokke verstaan.

In dié Bildungsroman – waarin Eron se vormingsjare en spirituele opvoeding beskryf word – kom Eron sy nemesis teë in die persoon van Velvel Azazel, ook bekend as die Verbluffende Bluffer. Velvel die vuurblaser en steltstapper is die opperste populis en het, soos alle boosdoeners altyd en in alle verhale, ʼn verborge en gemene agenda.

Maar die leser het geen twyfel oor die uiteinde van die verhaal nie, en onderneem die (geestelike) ontdekkingsreis saam met Eron met genoegdoening, verstom hom of haar aan die verbeelde landskap en gee vrye teuels aan sy of haar verbeelding.

Stander se subtiele vleg van maatskappy- en ekokritiek deur die verhaal is aanduiding van die soort magie wat sy bewerkstellig – die teenpool van die banale towenaar, soos Tolkien daarna verwys het. Dit is juis haar lighandige aanslag wat Die bergengel so ʼn verruimende leeservaring maak.

Digter wat sy is verwag ʼn mens van Stander dié aanslag. En jy kry soveel meer in dié stuk verbeelde werklikheid!

Boonop verruim Stander met Die bergengel die Afrikaanse letterkunde in ʼn genre wat bra beperk is.

Carina Stander se Die bergengel is uitgegee deur Protea.
Prys: R220-00*
Koop die boek nou by Graffiti Boeke vir slegs R176-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae