Boek van die maand (resensie): ‘Die laksman se dogter’ deur Gerda Taljaard

Hoewel die spreekwoord duidelik is dat ʼn mens nie ʼn boek op sy baadjie moet takseer nie, het Gerda Taljaard se jongste roman, Die laksman se dogter, uitgegee deur Penguin, ʼn visuele bekoring wat ʼn mens kwalik kan ignoreer. Dalk is dit die klokglas met die voëls daarin in ʼn gestolde oomblik, dalk die dorings wat dui op prooi.

Dit was die voorblad wat my die boek laat nadertrek het. Met die hoop dat die boek iets van dié noukeurige komposisie sal kan volhou. Wat wel die geval is, en wat die leser wat agter die storie aanlees beloon sowel as dié een wat wil talm in die teks.

Die eerste vyf bladsye met Taljaard se soepel skryfstyl en haar boeiende verteltrant is genoeg om die wip by wyse van spreke bo-oor jou te laat hoor toeval. En ongestoord voort te lees.

Dit is reeds in die eerste vyf bladsye (of dan twee kort hoofstukke) waarin Taljaard haar vernuf so netjies illustreer.

In dié paar paragrawe begin sy ʼn verhaal weef waarin fragmente van ʼn storielyn begin manifesteer. Die leser kry aanduiding van die voortgang van die proses, maar dan gryp sy kort-kort terug na ʼn vroeëre verwysing – dikwels dieselfde woord, maar nou in ʼn ander konteks gebruik – wat die teks soveel hegter maak.

In die beskrywing van die droom op bladsy 7 word verwys na “vingers, wit soos uitloopsels”. Op bladsy 8 word die omgevalle plataan se takke bleek arms wat tot in die kombuis strek “waar die kleiner takkies nes vingers deur ons nuwe stoof se oonddeur gesteek het”. Dieselfde doen sy met miere. Moontlik is dit rysmiere wat tot die boom se ondergang gelei het, meen die verteller se pa. Dieselfde man wat later opdrag gee dat die bome jaarliks met miergif gespuit word. Dit is eweneens “die sameswering van ʼn spul miere” (bladsy 10) wat die verteller se bestaan rysmier en dit broos laat.

Die naderende onheil word eweneens vergestalt in ʼn reeks vergestaltings van die kleur rooi: Soos in die terugkerende dahlias, “so rooi soos maagdebloed” (bladsy 9) en weer op bladsy 10: “en dat Ma se bloed die mure vol sal wees, dieprooi soos haar dahlias”. Net om opgevolg te word met dié brokkie inligting: “Ek het begin menstrueer en Ma se affair met ook Dave het op die lappe gekom.”

Dit is hierdie soort vernuf wat ʼn mens deur die boek teëkom en waarmee die verhaal van dwelms, verlies, verslawing, dood in verskillende gedaantes en bevryding mettertyd geweef word.

Die mengsel van empatie en brutale eerlikheid, geëggo deur die fiskaallaksman se wrede sorgsaamheid, word Taljaard se werkwyse om die gegewe aan die leser deur te gee, én die leser deur ʼn register van emosies stuur. Niks word een- of enkelvoudig bekyk of beskryf nie. Alles het fasette – van aborsie tot genadedood.

Rosaria, die jongste van drie dogters, van dr. Kriel, tronkdokter van Pretoria-Sentraal tydens die apartheidsjare wat onder meer doodsertifikate moes uitreik nadat ʼn gevangene gehang is, en sy Italiaanse (en Rooms-Katolieke) vrou, Marcella. Maar dit is meer as net haar pa wat, vanweë sy werk, ʼn soort laksman is.

Hoewel die karakters en omstandighede van die jare waarin die roman afspeel oortuigend weergegee word binne die konteks van die “ou” Suid-Afrika, gaan die boek nie mank aan nostalgiese of outobiografiese hebbelikehede nie. Herkenning blyk vir Taljaard nie so bepalend te wees dat dit die loop van haar verhaal belemmer nie.

Hoewel die wolstof waarmee Taljaard weef soms swaar is, is haar ligte hand deurgaans versoberend. Die heerlike karakter wat Rosaria se skoonma is beklemtoon die aweregse ondertoon van die roman, én die donker humor.

Taljaard weef én komponeer behendig. Fyn én berekend. En Die laksman se dogter is die behaaglike produk van dié vernuf.

 

Gerda Taljaard se roman Die laksman se dogter het by Penguin verskyn en kos R230.

Taljaard se debuutbundel kortverhale, Maansiek, het in 2002 by Protea Boekhuis verskyn. Daarna het twee romans gevolg, ʼn Engel in die hoenderhok (2009, Tafelberg) en Kelder (2012, Tafelberg).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

E.K. ·

Ek het die boek reeds ruk gelede aangeskaf en gelees – beslis die moeite werd!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.