Boek van die maand (resensie): Die respektabele meneer Hartslief

hartsliefIlse Salzwedel resenseer Maroela Media se boek van die maand, Die respektabele meneer Hartslief (deur Chris Karsten)

Brixton se eie Robin Hood

Hierdie is ʼn ongewone spanningsroman met ʼn baie onwaarskynlike held.

Die hoofkarakter, Eli Hartslief, is nie ʼn speurder nie, maar ʼn valerige man van die verkeerde kant van die treinspoor. Eens ʼn bankklerk, nou die regterhand van een van die Morkel-broers van Morkel Wealth. Dié maatskappy is superskelms en stinkrykes se eerste keuse as dit kom by beleggingsmaatskappye, want Morkel Wealth speel lankal nie meer volgens die reëls nie.

Sonder dat die arme Eli dit weet, natuurlik.

Want al kom hy uit Brixton, het hy inbors en integriteit – daarvoor het sy grootmaakma, Antie Engel, immers gesorg. Sy, wat die voorspooksels oor iemand se naderende dood in drome kry, en wat deesdae te gereeld na almal se smaak droom van gesigte omhul deur ligkranse.

Hoekom sterf die een na die ander lid van die Hartslief-clan? Dis die vraag wat Eli jaag. Want raak jy aan sy mense, raak jy aan hom. Hy is vasgevang in Sandton, padlangs net ʼn paar kilometer van Brixton, maar terselfdertyd ligjare verwyder van sy grootwordplek en die lewe daar. Daarvoor sorg Morkel se aanvallige dogter, én die goeie salaris en gereelde bonusse waarmee Eli vir Antie Engel ʼn sopkombuis kon bou en waarmee hy al sy sibbe en nefies en niggies kan help om van die Brixton-sukkelbestaan te ontsnap.

Sy saggeaarde broer Basie se vreemde dood begin egter vir ʼn kettingreaksie van vreemde sterftes wat Eli dwing om te kies tussen Sandton en Brixton, en wat hom dwing om ʼn huurmoordenaar, ʼn bendebaas én mnr. Morkel te konfronteer en te onbloot vir wie hulle regtig is. Dis byna 400 bladsye van legkaartstukke voordat die goeie uiteindelik seëvier oor die bose, weliswaar op ʼn ander manier as wat die leser gedink het. En Eli word in die proses boonop Brixton se Robin Hood…

Chris Karsten is ʼn formidabele, veelbekroonde skrywer wat homself al in verskeie genres onderskei het. Meneer Hartslief is die voormalige joernalis se 21e boek (kinderverhale, nie-fiksie en Engelse vertalings van sy werk ingesluit). Hy is onder meer twee maal met die gesogte ATKV Prosaprys bekroon.

Vir baie is die Abel Lotz-trilogie sinoniem met die naam Chris Karsten, maar sy talent strek veel wyer as net die verhaal van die oënskynlik saggeaarde maar psigopatiese alleenloper Abel en sy grieselrige obsessie met gesigsmaskers wat van mensvel gemaak word. Hy het dit reeds bewys in 2008 met Frats, ʼn bekroonde roman gegrond op die lewe van Saartjie Baartman. Hy het ook sterk beïndruk met ʼn Man van min belang (Human & Rousseau, 2012) waarmee hy dieselfde jaar ʼn tweede plek losgeskryf het in NB-Uitgewers se Groot Romankompetisie. In Man van Min Belang is een van die hoofkarakters ʼn sielkundige wat namens die apartheidsregering oor die lewe en dood van politieke opponente moes besluit, en Karsten se deeglike navorsing het onder meer dokumentasie van die WVK-verhore ingesluit. Dié leser kon nie onaangeraak staan deur dié dieper kennis van SA se stormagtige verlede nie, maar Karsten het gesorg dat navorsing nooit in die pad kom van ʼn goeie, vloeiende storie nie. Dis waarskynlik een van sy beste eienskappe as skrywer: jy weet jy lees ʼn boek waaraan weke se navorsingstyd gewy is, maar niemand preek of bombardeer jou met stapels feite nie.

Ek het dieselfde ervaring met Meneer Hartslief gehad. Die leser leer meer oor onder meer kuberboelies, geldwassery en die werkinge van die onderwêreld sonder dat ʼn gram se leesgenot ingeboet word. Daarvoor sorg die vele kinkels in die kabel.

Die respektabele meneer Hartslief word uitgegee deur Human en Rousseau.

Spesiaal vir Maroela Media-lesers: Bestel die boek nou by Graffiti Boeke en ontvang 20% afslag! Betaal slegs R176-00* vir hierdie boek.
*Spesiale afslagprys slegs geldig vir twee maande.
Klik hier om nou van hierdie spesiale aanbod gebruik te maak

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.