Boek van die maand (resensie): ‘Die verdwyning van Billy Katz’ deur Chris Karsten

die verdwyning van billy katzIlse Salzwedel resenseer Maroela Media se boek van die maand, Die verdwyning van Billy Katz, deur Chris Karsten (Human & Rousseau).

Min skrywers kan die psige van ‘n reeksmoordenaar so goed dissekteer soos die veelbekroonde Chris Karsten. Soos hy self sê in ‘n onderhoud op www.crimebeat.bookslive.co.za: “I’m intrigued by the complicated and warped mind of a serial killer. In real life some of them are highly intelligent but all of them are highly delusional, qualities that present an interesting challenge to a fiction writer, as opposed to mass murderers and once-off killers.”

In Die verdwyning van Billy Katz maak die leser weer kennis met Ella Neser, die fyn maar rateltaai vrouespeurder wat Abel Lotz dwarsdeur die Abel-trilogie gejag en uiteindelik vasgetrek het, maar byna met haar lewe daarvoor betaal het. Hierdie keer moet Ella uitvind aan wie behoort die vier gemummifiseerde voete wat Stink Attie in ‘n Checkers-sak in die Botaniese Tuine gaan weggooi het. Haar soektog lei nie net tot ‘n string nuwe moorde nie, maar lei haar telkens terug na ‘n onopgeloste moord uit die jare negentigs, ‘n “cold case” wat ook dreig om haar persoonlike lewe op sy kop te keer.

Karsten het homself al oor en oor bewys as ‘n meesterlike storieverteller, ook buite die spanningsverhaalgenre. Hy is die skrywer van twee kinderboeke, verskeie nie-fiksie boeke oor ware misdaadverhale, ‘n boek oor Charlize Theron en hierdie is sy agtste roman. Toekennings op sy kerfstok sluit in twee ATKV Prosapryse, ‘n ATKV-Woordveertjie vir spanningsliteratuur en ‘n Sanlamprys vir Jeugliteratuur.  Die ervaring wat hy in byna vier dekades as joernalis opgedoen het (onder meer by Beeld en Rapport) dra beslis baie by tot die groot sukses van sy maklik leesbare boeke.

In Billy Katz ontmoet ons ‘n hele familie reeksmoordenaars, maar die hoe en hoekom van hulle verhaal hou die leser tot aan die einde aan die raai. Die handel in menslike organe en die bygelowe rondom muti sorg vir ‘n interessante variasie op die reeksmoordenaartema, want hier gaan dit nie net om moord nie, maar ook beslis om geld. Gróót geld. En moenie van wraak vergeet nie…

Ella Neser is beslis nie ‘n tipiese speurder nie. Sy hou nie daarvan dat mense voor haar vloek nie, maar staan haar plek vierkantig vol in ‘n harde manswêreld. Haar bevelvoerder, kolonel Silas Sauls, is ook allermins ‘n cliché-speurder. Hy het nie ‘n drankprobleem nie, glo in die liefde en leef nie van pasteitjies wat hy by die kafee op die hoek koop nie. Trouens, die kos wat hy maak wil die leser summier na ʼn kookboek laat gryp. Soos in Karsten se vorige romans is daar hier ook volop goed nagevorsde feite oor alles van die handel in menslike organe tot geheime militêre operasies in die ou bedeling. Maar soos dit ‘n goeie spanningsverhaalskrywer betaam, laat Karsten nooit toe dat die feite ‘n lekker storie beduiwel of oorheers nie.

Wie sal hiervan hou? Alle Chris Karsten-aanhangers, en enigiemand wat hou van ‘n goeie speurroman. Dis heerlike leesstof vir die vakansieseisoen, ten spyte van die grieselrige tema. As dit jou eerste ervaring van Chris Karsten is en jy is nuuskierig oor Ella Neser se verlede, lees gerus die Abel Lotz-trilogie (Abel se ontwaking, Abel se lot en Die afreis van Abel Lotz).

Gewone prys: R250-00
Maroela-prys (danksy Graffiti Books): R200-00 (jy spaar R50-00)
Koop Die verdwyning van Billy Katz: Graffiti Books

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mentz Karstem ·

As jy die Abel trilogie geniet het gaan jy hierdie een meer geniet

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.