Boek van die maand (resensie): ‘Goeie dood wat saggies byt’ deur Ilse van Staden

goeie-doodwat-saggies-bytJames Herriot se verhale oor sy dae as plattelandse veearts is van my lekkerste leesherinneringe. Herriot se gemaklike, humoristiese styl het nie net my onversadigbare tienerleeslus bevredig nie, maar het my ook met ander, sagter oë na veeartse laat kyk. (En my terselfdertyd ook laat besef ek sal nooit een kan wees nie – nie dat my wetenskap en wiskundepunte naastenby goed genoeg was nie.)

Nou, vir die eerste keer in Afrikaans, is daar ʼn roman wat uit die oogpunt van ʼn veearts geskryf is. Nes met Herriot se boeke, bly Goeie dood wat saggies byt jou by lank nadat jy dit neergesit het, maar om ander redes. Dis ʼn fassinerende verhaal wat deels op Onderstepoort, die enigste veeartsenykundefakulteit in die land, en by ʼn plattelandse praktyk afspeel. Die leser stap die pad van studies tot praktyk saam met Hilda, die hoofkarakter en verteller, wie se oupa ʼn legendariese chirurg by Onderstepoort was. Sy is kunstig en sou maklik ʼn loopbaan daarvan kan maak, maar sy is ook slim genoeg om veearts te word. Maar was dit die regte keuse vir haar teruggetrokke persoonlikheid? En sal sy ooit kan ontsnap uit die skaduwee wat haar beroemde oupa?

Dis ʼn fassinerende roman – nie net vir diereliefhebbers nie, maar ek raai hulle sal beslis die meeste byval hierby vind. Dis ook ʼn wordingsroman, en die leser beleef Hilda se groei as mens én as vrou in ʼn beroep wat steeds deur mans oorheers word. Sy ontwikkel van ʼn teruggetrokke eerstejaartjie tot die eienaar van ʼn plattelandse praktyk, taai en onafhanklik. Maar is dit genoeg vir die uitdagings wat op haar wag?

Hierdie is ʼn besonder treffende debuutroman, maar moenie komiese, romantiese staaltjies oor diere en die werk van ʼn veearts verwag nie. Die roman skets die ander kant van hierdie beroep: harde werk, lang ure, die dood wat maar altyd net ʼn asemteug ver is, en die tol wat dit van veeartse eis om daagliks met soveel lyding te werk.

Van Staden het self agtien jaar lank as veearts gewerk, en die roman bevat waarskynlik ook episodes uit haar eie loopbaan. Dis ʼn meesleurende, uiters realistiese verhaal, en jy sal beslis daarna met ander oë na jou diere se veearts kyk. Die ontstellende slot verduidelik die ongewone titel.

Van Staden is ook ʼn bekroonde digter. Haar debuut Watervlerk is in 2004 met die Eugene Marais-prys vir poësie bekroon, en haar vierde digbundel het verlede maand by Protea Uitgewers verskyn. Haar vaardigheid met woorde help beslis ook om die leser enduit te boei en van die boek ʼn lekker gemaklike leeservaring te maak. Daar is klein leemtes in die verhaal, soos gebrekkige karakterisering by enkele newe-karakters waaroor ek graag meer sou wou weet, maar dit bly steeds ʼn lekker, vloeiende verhaal.

Goeie dood wat saggies byt is met deernis geskryf. Nie net wanneer dit by diere en hul lewens kom nie, maar ook wanneer dit by die menslike psige kom. ʼn Moet-lees vir diereliefhebbers wat hou van goeie Afrikaanse boeke wat nie net vermaak nie, maar ook inlig.

Lees meer oor die boek: Goeie dood wat saggies byt
Uitgewer: Protea
Prys: R220-00*
*Prys onderhewig aan verandering

Koop die boek nou by Graffiti Boeke

Ilse Salzwedel

Meer oor die skrywer: Ilse Salzwedel

Ilse Salzwedel is bekroonde joernalis en skrywer van Johannesburg. Daar het al vyf boeke uit haar pen verskyn. Sy is al met verskeie joernalistieke pryse bekroon, Ilse is ‘n gerespekteerde vryskutjoernalis wie se werk al in feitlik al die groot Afrikaanse tydskrifte en koerante verskyn het, en sy bied sedert Junie 2013 ook die program Skrywers en Boeke op RSG aan.

Deel van: Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Jean ·

Kan iemand asb net die lyding van diere verlig? Daar is nog te veel wette in plek wat die ‘eienaars’ beskerm en te min wat die diere beskerm. Bring weer hondelisensies in, wat nie net die bedryf gaan finansier nie, maar ook eienaars verantwoordelik gaan hou vir hulle honde. Hoekom is daar ‘n staatshospitaal vir mense maar nie vir diere nie? Wat gebeur met ‘n dier wat seergekry het? As hy nie ‘n eienaar het nie, word hy uitgesit! Hoe regverdig is dit? Dink aan al die staatspasiente wat verniet behandeling kry, dink as hulle moes uitgesit word omdat niemand vir die operasie wil betaal of vir behandeling kan betaal nie? Diere het nie gevra om daar te wees nie, onverskillige eienaars teel met die honde of laat hulle maar net toe om nog babas te he en verwaarloos of mishandel hulle diere en weerhou kos en medikasie? Hoekom word daar so min diere-martelaars tronk toe gestuur?

maak-dit-tog-saak ·

Ek is en bly verantwoordelik vir my diere. En ek kan nie sonder hulle nie!!!!!! Soms kan hul nie veearts toe gaan nie. Soms kan ek ook nie dokter toe gaan nie. Alles hang af van vir wie ek moet sorg per maand. Ek SORG letterlik soms vir mense en diere per maand. Die staat vermoor jou in die staatshospitale. VERMOOR. Ek is getuie daarvan. Die arme SPCA. Arme diere. Dis al wat ek kan se.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.