Boek van die maand (resensie): Huisies van papier

huisiesIlse Salzwedel resenseer Maroela Media se boek van die maand, Huisies van papier, deur Dalena Theron (Random House Struik).

Gereelde lesers wonder seker hoekom ek die boeke kies wat ek kies vir hierdie rubriek. Die antwoord is baie eenvoudig: letterkundige boeke kry baie spasie op boekblaaie en heelwat lugtyd in ander media, maar ontspanningsfiksie word dikwels verkeerdelik afgemaak as lig in die broek. Dit gaan ook vir my daaroor om mense bekend te stel aan die groot verskeidenheid Afrikaanse boeke wat maandeliks gepubliseer word, en om hopelik weer ‘n leeskultuur te help vestig in hierdie eeu waar sosiale media en ander vermaak ons leestyd steel. Daarom kies ek lekkerleesboeke wat jou hopelik sal help om weer te onthou hoekom lees so lekker is.

Dalena Theron se Huisies van Papier is vandeesmaand se keuse. Hoewel dit op die eerste vlak ‘n baie ligte, hoogs vermaaklike boek is, is daar baie sterk onderliggende temas wat die leser stem tot nadenke sonder om hoegenaamd te preek. Anna is ‘n groentjiejoernalis wat die truuks van joernalistiek probeer leer by ‘n plattelandse koerant. Haar groot droom is om eendag by ʼn groot dagblad te werk waar sy aan die voorpunt van die nuus sal wees. Sy woon by haar gay pa en sy lewensmaat en ‘n horde honde en katte, en is oënskynlik die mees volwasse karakter van die drie al is sy maar net 22. Anna se verhaal word in die eerste persoon vertel, en die leser word onmiddellik ingetrek by hierdie vrolike, onkonvensionele huishouding met sy uiteenlopende karakters. Deur terugflitse na haar kinderjare beleef mens Anna se ervaring van en reaksie op ernstige kwessies soos egskeiding, ‘n dorp se geskinder oor ‘n pa wat uit die kas klim en ʼn ma wat inderhaas stad toe trek, asook haar ma en grootouers se reaksie op haar pa se ontboeseming.

Anna is ‘n tipiese produk van ʼn egskeiding, en speel haar ouers (dikwels met opset) teen mekaar af. Verder dra sy swaar aan die verantwoordelikheid wat sy voel jeens haar pa, wat uiteindelik die “lekker” ouer word wat vakansies vir niks hoef nee te sê nie. Haar verhouding met haar ma is stram, en ook daarvoor is daar bepaalde redes. Sal hulle dinge kan uitsorteer wanneer haar ma onverwags vir ʼn paar weke kom kuier? Hoe gaan die twee pa’s en haar ma onder een dak funksioneer?

Maar Huisies van papier wys ook die ander kant van die munt: van prettige tye saam met twee pa’s wat hul min aan ander mense steur, van hul uitkyk op die lewe wat geslyp is deur futiele pogings om te konformeer en hoe die dorp se mense hulle uiteindelik aanvaar as net nog twee inwoners wat ‘n unieke bydrae lewer. Uiteindelik leer Anna ook dat dinge nie altyd is soos wat dit lyk nie. Sy leer stadig maar seker dat haar pa se gay-wees dalk nie die enigste rede vir hul egskeiding was nie, en die ware oorsaak dreig om ook Anna se lewe oor te neem. Maar gaan sy dit toelaat?

In ‘n sekere opsig is Huisies van Papier beslis ook ‘n bildungsroman, oftewel ‘n wordingsroman. Die Anna wat ons in die eerste paar blaaie ontmoet, is beslis nie die Anna wat uiteindelik die spreekwoordelike sonsondergang tegemoet ry nie. Sy leer ‘n klomp dinge van haar pa’s, haar eksentrieke ma én haarself, en besef uiteindelik dat sy veel sterker is as wat sy besef het. Die vraag is nou: wat gaan sy met die res van haar lewe maak. En hoe gaan haar keuse die mense om haar raak?

Huisies van papier is ‘n lekkerlees, hoogs vermaaklike boek propvol baie snaakse situasies. Dit speel af op ʼn klein plattelandse dorpie aan die Noordkus van KZN, en dis duidelik dat Theron die omgewing ken waaroor sy skryf. Die boek is nie sonder foute nie, maar Theron se knap, vlot skryfstyl en jarelange ervaring as joernalis maak dat dit nie te veel pla nie. Die boek sal boonop wye byval vind, en hoewel dit gemik is op die volwasse mark, sal jong volwassenes en tieners dit beslis ook geniet.

Gewone prys: R200-00
Maroela-prys (danksy Graffiti Books): R160-00 (jy spaar R40-00)
Koop Huisies van papier: Graffiti Books

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sandra Pretorius ·

Dit maak my so vies as resensente sê ‘n boek “is nie sonder foute nie”, maar dan nie sê WAT daardie foute is nie. Dis darem net ‘n te maklike uitweg en ook onregverdig teenoor die skrywer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.