Boek van die maand (resensie): Judaskus

Judaskus_300dpiIlse Salzwedel resenseer Maroela Media se boek van die maand, Judaskus, deur Rudie van Rensburg (Quellerie)

Judaskus van Rudie van Rensburg is die perfekte spanningsverhaal. Daar is interessante, uiteenlopende storielyne wat uiteindelik netjies saamloop en die leser kan – soos met sy twee vorige misdaadromans –  uitsien na deeglike navorsing wat soomloos met die storielyn integreer.

Sedert Slagyster, sy sterk debuut in 2013, het Van Rensburg hom in my lys van top vyf nuwe Afrikaanse skrywers ingeskryf weens ʼn hele paar redes: geloofbare karakters (selfs die moordenaars), ʼn speurder wat (goddank!) nie met allerhande demone worstel wat die leser later heel bedroef stem/irriteer nie, en vernuftige, seepgladde skryfwerk, iets waarmee sy loopbaan in joernalistiek en korporatiewe kommunikasie beslis baie te doen het. Niks in Judaskus gebeur toevallig nie – selfs die mees onbenullige intrige dra by tot die groter verhaal, en met die lees daarvan is dit asof mens ʼn legkaart uitpak en rondskuif. Van Rensburg mors ook nie met woorde nie – elke woord word deeglik ingespan, op sigself ʼn rare gawe.

Misdaadfiksie is een van die snelgroeiendste genres in Afrikaans (en waarskynlik ook in wêreldliteratuur) en Van Rensburg se werk is ʼn besliste moet-lees as dit jou soort leesstof is. Elkeen van sy drie boeke tot dusver speel af teen agtergronde waarvan ek voor die lees van sy boeke maar min geweet het. Slagyster handel oor wapensmokkelary en speel gedeeltelik af op die olievelde van die Niger-delta.  Dit ondersoek die wêreld van die Nigeriese sluikhandel, wapensmokkelary en  korrupsie binne die SAPD wat sorg dat dinge seepglad verloop vir die skelms. Maar natuurlik net totdat speurder Kassie Kasselman van Kaapstad die spoor vat… Met dié debuut was dit al duidelik dat Kasselman (en Van Rensburg) nog diep spore in Afrikaanse lesersharte gaan trap.

Kopskoot (2014) speel af teen die agtergrond van kunsvervalsing, nog ʼn veld wat Van Rensburg – wat self skilder – deeglik nagevors het. In Judaskus leer ken ons ʼn misdaadkartel, Die Orde van Iskariot. Die Orde het oorspronklik as ʼn soort van helpmekaar-organisasie ontstaan onder ʼn paar Ossewabrandwaglede, maar gierigheid het veroorsaak dat dinge gruwelik verkeerd loop. Menselewens het min waarde vir die hoof van die orde, en Kasselman is die een wat al die uiteenlopende, oënskynlik niksseggende kolletjies moet verbind om al die raaisels op te los.

Kasselman het my van die eerste boek af laat glimlag. In Afrikaanse literatuur was daar nog altyd ʼn oormaat beswaarde, komplekse karakters, en wroegende speurders was daar ook volop. Kasselman is nie een nie. Hy is eksentriek, ja, en boonop ʼn buitestander, maar hy is ook ʼn harde werker wat leef vir sy werk. Hy is ook ʼn bietjie van ʼn nerd, en sy uitgebreide posseëlversameling en boeremusiek is sy groot liefdes. Hy drink nie, en rook ook nie meer so straf soos aan die begin van die reeks nie. Trouens, hy het so groot geskrik vir sy cholesteroltelling dat hy selfs probeer afskaal op sy gunstelingdrankie, Creme Soda. As jy hom in die straat raakloop, sou jy dalk dink die vaal man met die rooi windjekker is ʼn goedige omie, maar pasop: onder die vaal uiterlike skuil ʼn vlymskerp brein en ʼn instink waarmee hy selfs die slimste misdadiger kan uitoorlê. Maar Van Rensburg is slim genoeg om te keer dat Kassie net nóg ʼn cliché word. In Judaskus raak Kassie, ʼn geswore alleenloper, teen al sy instinkte in verlief, iets wat veroorsaak dat hy tydelik sy oog van die misdaadbal afhaal… Met byna rampspoedige gevolge.

As ʼn mens Van Rensburg eers ontdek het, kan jy byna nie wag vir sy volgende boek nie. Die goeie nuus is dat die vierde roman reeds klaar is. Die slegte nuus is egter dat hierdie skrywer se werk nog nie in Engels vertaal is nie, iets wat die uitgewers beslis moet oorweeg. Die res van die wêreld behoort ook te weet van Kassie Kasselman en die unieke misdaadraaisels wat hy en sy span moet oplos. ʼn Mens wens noodwendig dat die regte SAPD oor meer speurders van Kassie Kasselman se kaliber beskik.

Luister na ‘n radio-onderhoud met die skrywer, Rudie van Rensburg.

• Graffiti Boeke stel Judaskus (uitgegee deur Human & Rousseau) oudergewoonte teen ʼn spesiale prys beskikbaar aan Maroela-lesers (R176-00 in plaas van R220-00). Kliek hier om te bestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mary Sadler ·

Pragtig, en bewoord presies wat my teenstaan in baie moderne fiksie.

*…’n speurder wat (goddank!) nie met allerhande demone worstel nie…*
*…’n oormaat beswaarde, komplekse karakters, en wroegende speurders was daar ook volop.*

Hierdie boek gaan ek beslis aanskaf en lees na dié prikkelende resensie!

Mary Sadler ·

Staan toe in die boekwinkel met Judaskus in my hand, sien langsaan die vorige een en besluit mens wil eintlik by die begin begin. Ongelukkig was die eerste boek nie daar nie, toe koop ek Kopskoot. Kan ook nie nou kommentaar lewer nie, want my man het dit gevat en nog nie teruggegee nie. Lyk my Van Rensburg het ‘n kolskoot geskiet!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.