Boek van die maand (resensie): Miles verbluf met verhaal van hond en onthou

Op ʼn dag, ʼn hond is die soort titel wat ewenwel die eerste woorde van ʼn verhaal kon wees, en dan inderdaad die woorde waarmee John Miles se jongste roman as’t ware reeds op die buiteblad begin.

Die “op ʼn dag”, soos in “eendag was daar”, is die manier waarop storievertellers eeue lank al hul lesers nadertrek. By dié tradisie van storievertellers sluit Miles aan om die verhaal van die hond in die titel te vertel, maar soos gekonfyte storievertellers kan, gooi hy draaie, onder meer deur die stories van ander skrywers en die verse van digters.

Volg die gewillige leser al dié kronkels in die boek, is Op ʼn dag, ʼn hond in werklikheid veel dikker as 255 bladsye.

Op ʼn dag, ʼn hond, die roman wat onlangs met die UJ-prys vir letterkunde bekroon is, kan ʼn mens lees as die laaste boek wat die trilogie afsluit wat Miles in 1993 begin het met Buiteveld en opgevolg het met Voetstoots in 2009. In al drie dié boeke kom ʼn mens hoofkarakters met raakvlakke teë: In Buiteveld is dit die jonger Smerski, ʼn Portugese taalkenner, woordeboekmaker, (onsuksesvolle) romanskrywer en samesteller van ʼn bundel verse; in Voetstoots is dit die middeljarige tandarts August Lotz wat hom ná die dood van sy vrou toewy aan ʼn projek om die dagboek van ʼn 18de-eeuse VOC-amptenaar gereed te kry vir publikasie; en in Op ʼn dag ʼn naamlose man, ʼn oudonderwyser in sy 70’s, ʼn vertaler van sy vrou se boeke wat ná haar dood haar nagelate en onvoltooide manuskrip voltooi.

Miles sy naamlose oudonderwyser, “wat te oud is vir enige onderwysdepartement”, met die bynaam Mr Windows en wat ook aangesien word vir ene Reineke – is ʼn man met wysheid en boonop met die besef dat hy nie alle wysheid in pag het nie. ʼn Man met ʼn bra stoïsynse blik op die lewe wat hom in staat stel om te kan onderskei tussen dinge waarby hy kan ingryp, waaraan hy iets kan doen, teenoor dié goed waaroor hy nie beheer het nie.

Aan die hand van die titels van die boeke op die onderwyser se rak – die leser kry ʼn blik op dié rak deur ʼn gordynlose venster van die tuin se kant af – kom verskillende gedaantes van ʼn ou man aan die hand van uiteenlopende skrywers aan die orde, en in verskillende kontekste: Hoe leef ʼn mens nadat jy onreg oorleef het, soos verwoord deur Aharon Appelfeld; wat maak jy met die geheue van verlies wat jy gely het, soos verwoord deur Sándor Márai; wat maak jy as jy gedwing word om te reflekteer/onthou soos verwoord deur Per Petterson; of as jy moeite het met jou gewete, soos Roberto Tabucchi dit beskryf. Dit is die leser wat dié verwysings opvolg, of as dit onbekend sou wees wat bereid is om ywerig te Google, vir wie gordyne oopgetrek word. Hierdie lys kan ʼn mens soveel langer maak: Daar is ook Adorno en Benjamin; Leopardi en Keats; Rilke en die heuningby, Kazantsakis en Paz en via Paz ook Ovidius.

Dit is geheue, herinnering, die slytasie van onthou, verlies en gewete wat Miles in dié roman verken. Ná die dood van sy vrou – sy is vermoor in ʼn aanval in hul huis in ʼn kusdorp – word die onderwyser deur ʼn oudleerling oorreed om aanvullende klasse te kom gee in die stad waar sy die skoolhoof is. Terugflitse roep nie net die onderwyser se verlede op nie, maar bied hom ook die geleentheid om ʼn bestekopname van sy lewe te doen. Sy hart word as’t ware geweeg om sy lewenswaarde te bepaal. Ná ʼn verwoestende storm maak die hond van die titel sy opwagting in sy klaskamer by die skool. Dit is dié verskyning van die hond wat die onderwyser se lewe en dus ook die verhaal in ʼn rigting stuur.

Die roman is welig bevolk deur honde. En elke verwysing na ʼn hond laat die leser se ore spits: Is dít die dag? Is dít die hond? Party van die honde word in die verbygaan genoem – hoewel die ervaring met van dié honde ingrypend en blywend is – terwyl ander name kry (soos Skoert en Mymer en Bluf). Party honde se eienaars is dalk belangriker as die honde (soos Schopenhauer se poedel). En dan is daar natuurlik Anubis, die hond wat ook ʼn jakkals is.

Soos in sy vorige boeke, dink maar aan Kroniek uit die doofpot van 1992 waarvoor Miles die CNA-, M-Net- en die Helgaard Steyn-prys ontvang het, manifesteer geweld, of eerder die reaksie op geweld, in Op ʼn dag, ʼn hond. Die leser kom geregtigheid wat wel geskied teë, maar eweso geknoeide geregtigheid. In ʼn samelewing wat mank gaan aan geweld, misdaad en korrupsie, in die polisie, die onderwys en hospitale waar “ubuntu self ʼn pasiënt is”, is Miles se roman eerder ʼn lamentasie op ʼn potensieel misleidende ligte trant oor die toedrag van sake, ʼn filosofiese besinning wat tegelyk ook stoïsyns kalmerend is. Marcus Aurelius word by meer as een geleentheid aangehaal in die binneoor van die onderwyser: “Wees verdraagsaam, hoflik en nederig, onder alle omstandighede moedig, vermy beuselagtighede en verdra vryheid van spraak…”.

Miles is ʼn knap storieverteller, maar dit is bowenal die interpretasiemoontlikhede wat hy deurgaans as moontlikhede laat (en wat nooit aan die leser opgedwing word nie) wat so aangryp in Op ʼn dag, ʼn hond.

John Miles se Op ʼn dag, ʼn hond is uitgegee deur Human & Rousseau (2016). Die boek kos R289.
Koop die boek nou by Graffiti Boeke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae