Boek van die maand (resensie): ‘Misverstand’ deur Marita van der Vyver

misverstand-marita-van-der-vyverWillem Prins is moedeloos. Van sy jeugdroom om Die Groot Afrikaanse Roman te skryf, het dadels gekom, en tot sy skaamte moet hy erotika onder ʼn skuilnaam skryf om die pot aan die kook te hou. Dis juis die Franse vertaling van een van sy hygboekies wat hom in Parys laat beland, en hy besluit dis die ideale plek om sy lewe te neem. Miskien sal sy boeke na sy dood beter verkoop, en dan kan hy darem iets vir sy twee oorlewende kinders nalaat. Maar eers wil hy darem net wag en hoor of hy Die Groot Prys gewen het vir sy laaste roman. En soort van vrede maak met sy Franse seun – ook in Parys – wat hy jare laas gesien het.

Boonop is daar van die hartebreker Willem Prins, wat drie keer getroud was en enige vrou wat hy begeer kon kry, min oor – dit bevestig die beeld van die middeljarige man met die te min hare en te groot maag wat uit die weerkaatsing van ʼn Paryse winkelvenster na hom terugstaar. Dan ontmoet hy ʼn sexy bruin joernalis, Jackie van der Merwe van Pniel, wat haar oor hom ontferm. Hulle gaan eet by een van die straatrestaurante wat in ʼn bloedbad verander toe Moslem-terroriste op niksvermoedende Parysenaars losbars.

Marita van der Vyver stel beslis nie teleur met haar eerste volwasse roman in vyf jaar nie. Dis ʼn kykie na kwessies waarmee die gemiddelde leser goed kan identifiseer: die liefde, sterflikheid, geloof, verlies, trots, berou oor verpletterde drome en verhoudings.  Om dit te laat afspeel teen die agtergrond van die Paryse terreuraanvalle, gee die roman nie net ʼn baie aktuele gevoel nie, maar dwing die leser ook om te dink oor kwessies soos terrorisme, vreemdelingehaat en identiteit.

Ten spyte van al die gewigtige temas is Misverstand nooit ʼn neerdrukkende boek nie – daarvoor sorg hierdie baie ervare skrywer se kenmerkende humor. Soms gitswart, maar altyd in die kol, nes in haar vorige twaalf romans. ʼn Lekker lees vir die Paasvakansie.

Uitgewer: Penguin Random House
Prys: R250-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Maroela-lesers kan die boek by Graffiti-boeke aankoop teen R200-00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

E.K. - ek sê net! ·

Maroela: Marita se naam is verkeerd gespel in die opskrif sowel as in die berig! EINA!

Janie Monsieur ·

Dagsê E.K. – ek sê net!,

Dankie vir jou kommenataar. Jammer vir die oorsig en dankie dat jy ons daarop gewys het. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Janie nms. Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.