Boek van die maand (resensie): Monstersaad

monstersaad-voorblad.jpgIlse Salzwedel resenseer Maroela Media se boek van die maand, Monstersaad, deur Madelein Rust (Lapa)

Monstersaad is die tweede boek uit die pen van Madeleine Rust.

Reeds met Die 13e Kaart, haar debuut in 2014, het Rust gewys sy het beslis potensiaal as skrywer van spanningslektuur. En dis nie net ek wat so dink nie: Die 13e Kaart is benoem vir ʼn ATKV Woordveertjie, en ons sal op 11 September hoor of dit wegstap met die louere in hierdie genre.

Gereelde lesers van die rubriek sal weet dat spanningsverhale een van my gunstelingmaniere is om van die daaglikse sleur te ontsnap, en daarom is ek altyd opgewonde om nog ʼn Afrikaanse skrywer te ontdek wat weet hoe om ʼn goeie whodunit te skryf. Rust doen dit met gemak en sonder om in resepmatigheid te verval. Haar navorsing is puik, en dis veral verfrissend dat sy vir elkeen van haar twee boeke unieke vroulike hoofkarakters geskep het – nie dat ek iets het teen manlike speurders of ʼn reeks boeke met dieselfde hoofkarakter nie. Dis ook lekker om ʼn Afrikaanse speurverhaal te lees wat nie in Kaapstad afspeel nie, maar dit sommer terloops.

In Monstersaad ontmoet ons vir Renate Malan, ’n forensiese sielkundige en miljoenêrerfgenaam van Leon Malan, ’n eiendomsmagnaat en doktor in die sielkunde. Maar Leon was net haar aanneempa, en Renate worstel haar hele lewe lank met die omstredenheid rondom die reeksmoorde wat deur haar biologiese pa gepleeg is. Is daar monstersaad in haar gene? Sal sy ook so koelbloedig kan doodmaak soos haar pa? En sal sy ooit weer iemand kan vertrou na haar aanneempa se verraad?

Terwyl Renate en haar vennote by Malan en Coetsee Privaatondersoeke probeer uitpluis of die dood van die 17-jarige Melissa Verhoef selfmoord was of nie, moet Renate noodwendig haar eie donker verlede konfronteer. Daar is dus twee storielyne, elkeen met sy eie kinkels. Die leser stap saam met Renate terug op haar spore om die raaisel van haar verlede te probeer ontrafel, en terselfdertyd probeer jy uitwerk hoe die legkaart rondom Melissa se dood inmekaar pas. Albei storielyne lewer interessante waarnemings op rondom die menslike psige en die bron van boosheid.

Monstersaad is ʼn boeiende boek uit die pen van ʼn vaardige verteller. Dit vergelyk uitstekend met enige oorsese boek wat ek al in hierdie genre gelees het, en gee nie voor om enigiets anders as ontspanningsfiksie te wees nie. Rust se kennis van bedryfsielkunde en haar skryfervaring (onder meer as mediese skrywer, maar ook as kortverhaalskrywer) sorg vir ‘n lekker lees. Ek kan nie wag om te sien hoe hierdie skrywer se werk vorentoe ontwikkel nie.

Hoogs aanbeveelbaar, maar wees gewaarsku: jy gaan nie wil ophou lees tot die laaste bladsy nie! Ideale naweekleesstof.

Gewone prys: R220
Maroela-prys: R176
Bestel hier: http://graffitiboeke.co.za/index.php?page-id=book&book-id=19427&title=Monstersaad

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.