Boek van die maand (resensie): Offerlam deur Chanette Paul

offerlamIlse Salzwedel resenseer Maroela Media se boek van die maand, Offerlam, deur Chanette Paul (Lapa Uitgewers).

Hoekom lees jy, liewe leser? Ek lees eerstens om vermaak te word – om deur ‘n storie weggevoer te word na ‘n (vir my) onbekende wêreld. Ontspanning, dus, maar ook ontsnapping. In ‘n mindere mate lees ek ook om te leer. Met Offerlam bied Chanette Paul haar lesers die geleentheid om te leer, te ontspan én te ontsnap.

Die verhaal speel af oor twee tydlyne. Caz Colijn, ‘n Kaapse vertaler, kry op Lentedag ‘n oproep van haar vervreemde suster wat haar meedeel dat hul bejaarde korrelkopma, van wie Caz ook vervreem is, sterwend is en Caz dringend wil sien. Daarvoor moet Caz België toe na die land waar haar familie oorspronklik vandaan gekom het, maar wat sy glad nie ken nie. In België kry sy skokkende nuus: haar biologiese ma wou haar nie hê nie, en het die Colijns betaal om haar groot te maak. Dit verklaar baie dinge waarmee Caz haar lewe lank al sukkel om vrede te maak, maar vrede is die laaste ding wat die ontboeseming tot gevolg het. Deur ‘n sameloop van omstandighede word Caz van moord verdink, moet sy vlug vir haar lewe en moet sy (en die leser) ‘n raaisel ontrafel wat in 1961 in die Kongo begin en voortduur in hedendaagse België én haar volg na Suid-Afrika. Wie is Caz regtig? Hoekom het haar ma haar net weggegooi in ‘n vreemde land? Wie is die mense wat haar agtervolg, en hoekom is hulle bereid om te moor vir wat ook al in die byna vergete bankkluis in Pretoria bewaar word?

My generasie was gelukkig om nog geskiedenis as skoolvak te kon neem, maar wanneer ons oor kolonies en die invloed van kolonialisme geleer het, was dit gewoonlik maar met betrekking tot Suid-Afrika en Namibië. Paul se vernuftige storie belig die houvas wat België gehad het op die Kongo se mense, ekonomie en geskiedenis, en ondersoek temas soos magsug en hebsug. Sentraal tot die storie is die sg. nkisi, handgekerfde houtbeelde wat volgens die mense wat België omkeer en Caz se lewe in chaos dompel op soek daarna, magiese magte het. Of is dit werklik die rede hoekom hulle geen steen onaangeroer sal laat om die nkisi op te spoor nie?

En wat sal ‘n Paul-roman wees sonder romanse? Hierdie keer is die romantiese held die taamlik vaal, oënskynlik oninteressante professor Luc de Reu. Caz krap nie net sy alledaagse vaal bestaan behoorlik om nie, maar dwing hom ook om spoke uit sy kinderjare te konfronteer.

ʼn Groot lekkerte van Offerlam is die reis deur België waarop Paul die leser neem. Sy beskryf dit so goed dat dit voel asof ek self my pad moes vind in mooi (en ander kere neerdrukkende) plekke met vreemdklinkende name soos Doel en Gent. Ander dele van die verhaal speel af in Stanford en Pretoria, beide plekke wat Paul ook goed ken en vernuftig met woorde skilder.

My eerste kennismaking met die skryfwerk van Chanette Paul was in 2007 met Springgety, haar boek wat die term spanningsromanse deeglik onder Afrikaanse lesers se aandag gebring het. Ja, daar is romanse, maar die hoofbestanddeel in ʼn spanningsromanse is spanning. Met Offerlam bevestig Paul net weer dat sy hierdie genre meesterlik beoefen.

Hierdie boek word sterk aanbeveel vir bestaande Paul-aanhangers, maar is myns insiens ook die soort boek wat nuwe aanhangers kan werf vir hierdie baie produktiewe, vernuftige skrywer.  ʼn Groot bonus is dat die avontuur nie ophou na 508 bladsye nie. Offerlam is die eerste van ‘n tweeluik oor Caz Colijn se soektog na die waarheid oor haar verlede.

Gewone prys: R239-00
Maroela-prys (danksy Graffiti Books): R192-00 (jy spaar R47-00)
Koop Offerlam: Graffiti Books

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Tressa Pretorius ·

Ek het drie kort verhale geskryf wat op die waarheid gegrond is deur dat dit werklik met mense wat ek ken gebeur het. Die name en sommige gebeure is fiksie om my bronne te geheim te hou maar die uiteinde en positiewe einde is eg. Ek het “Jesse” se hulp ingeroep om my te help. Die inhoud is om persone daarop te wys dat ons .altyd moet bid , oe moet he om die beste in ander te sien, ‘n hart he om bitterste teleurstellings te oorkom deur te vergewe en om ‘n rotsvaste geloof in God die Vader moet he. Ek het boek ongelukkig self laat druk maar wil graag dit laat resensieer sodat ek dit kan bemark. Kan julle my help asseblief.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.