Boek van die maand (resensie): Openbaring, ʼn reisjoernaal (Johan C. Bakkes)

openbaring bakkesMet Vadersdag een salaristjek weg, het ek gedink om vandeesmaand ʼn aanbeveling te doen spesiaal vir manlike lesers. Maar gelukkig is dit ook ʼn boek wat vroue wat hou van reisverhale en humor, saam met die man in hul lewe sal geniet. (Maar laat hom dit tog maar eerste lees op Vadersdag…)

Johan C. Bakkes is ʼn storieverteller van formaat. Hy is eintlik ʼn professor in rekeningkunde, maar die skrywersbloed vloei dik in sy are. (Sy ma is die baie bekende skrywer Margaret Bakkes, en sy broer Christiaan is ook ʼn bekende skrywer.) Johan en Christiaan het waarskynlik hul skryfgene by hul ma gekry, maar by sy oorlede militaris-pa het hy die heerlikhede van geskiedenis en reis geleer. En moenie hom met ʼn georganiseerde toer probeer verlei nie. Nee, dit moet ʼn reis wees waarvoor min ander sal kans sien. Vir alleenreise is hy ook nie bang nie.

In Openbaring – wat sinspeel op die teksvers wat daarteen waarsku om nie lou te wees nie, maar warm of koud – vertel hy afwisselend van twee baie unieke reise. Reise van absolute uiterstes na onderskeidelik die koudste én die warmste plekke op aarde waar mense nog leef en ʼn bestaan maak. Saam met jarelange vriende wat metterjare ook mede-avonturiers geword het, besoek Johan die ysige en byna altyd donker Siberië in die hartjie van die winter. Die temperatuur in Oymyakon, amptelik die koudste plek op aarde waar omtrent 500 mense nog woon, was met hulle besoek ʼn bevrore -57 grade Celcius. So koud dat daar blitsvinnig foto’s geneem moes word by die dorp se standbeeld om te keer dat die lug in hul longe vries. (Ek het die vertellings oor die Russiese reis besonder interessant en leersaam gevind.)

Die warmste plek op aarde waar mense daagliks werk is die Danakil-depressie in die noordooste van Ethiopië, ook die plek waar sout steeds op dieselfde antieke manier gemyn word as eeue gelede. Soutblokke word met die hand uit die panne gekap en op die rûe van kamele deur die onherbergsame woestynstreek vervoer. Dis ʼn streek wat ʼn inkomste (hoe karig ook al dit mag klink vir ons Westerlinge) verskaf aan baie mense, en daarom hou hulle nie van buitestanders nie. Johan en sy kamerade moes ʼn spesiale regeringsgids kry om hulle te vergesel en hul veiligheid te verseker. Boonop het dit tandekners en hard bid gekos om met ʼn 4×4 veilig oor die berge en dale van die streek te kom. Jy moet weet hoe rof is ʼn roete as Johan Bakkes plek-plek benoud raak! (As jy die vreemde skoonheid van hierdie onherbergsame streek en sy soutmyners wil sien, gaan loer gerus na die foto-artikel).

Al die stories in Openbaring word met die kenmerkende Johan Bakkes-humor en ʼn goeie dosis selfspot vertel. Uit ondervinding weet ek dat hierdie Bakkes homself nie te ernstig opneem nie, een rede hoekom mens so lekker lees aan sy boeke. Nog ʼn rede is dat hy sy lewe met oorgawe leef. Hy noem homself immers ʼn pallieter, “iemand wat die lewe aangryp en dit tot op die laaste droesem geniet”.

Beslis ʼn boek wat op leuenstoel-reisigers se leeslysie hoort, en ʼn lekker geskenk vir die man wat alles het en droom van ver plekke en interessante mense.

Uitgewer: Quellerie
Uitgewersprys: R240-00
Spesiale aanbod vir Maroela-lesers, danksy Graffiti Boeke: R192-00
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ekwilibrium ·

Ek het hierdie boek regtig geniet; in tipiese Bakkes-styl word die leser meegevoer na die wérklik onbekende en oppad word ‘n graaf ‘n graaf genoem. Die ambiance van hierdie eksotiese plekke word treffend, maar in min woorde beskryf; die goed én sleg. Vat die boek, skink ‘n glas wyn en reis saam…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.