Boek van die maand (resensie): ‘Rooi haring’ deur Schalk Schoombie

As “trooskos” in die wêreld van kookkuns vir bedrukte eters ʼn gevoel van gerusstelling inhou, sou ʼn “troosroman” eweso behaaglikheid vir lesers, veral in ʼn tyd van ontgogeling, kan vergestalt; ʼn roman wat die leser wegvoer na ʼn fiktiewe werklikheid met intriges waaraan jy jou kan verlustig sonder om jou te veel te steur aan die druk van die alledaagse werklikheid. ʼn Heerlike ontsnapping dus.

Schalk Schoombie se jongste roman, Rooi haring, is so ʼn “troosroman”, een wat ʼn uitweg bied na ʼn wêreld van kos, glansganse én mediameelopers, gekenmerk deur naywer wat wrewel word en eindelik uitloop op moord.

Soos wat depressiepoeding die bestanddele (van asyn tot appelkooskonfyt) het wat nodig is om ʼn vertroude gunsteling mee op te tower, kies Schoombie sy bestanddele vir sy jongste roman noukeurig en sit ʼn boek voor wat vermaak, wat kan meesleur soos ʼn “whodunit” wat sy sout werd is moet kan doen, en, les bes, wat jou met ʼn behaaglikheid laat. Dit is hoofsaaklik dié bestanddele wat aan Rooi haring ʼn ander gevoel en bedoeling gee as aan Schoombie se Boomkastele (2015), sy prosadebuut.

Benewens die onontbeerlike elemente van ʼn speurroman – in dié geval moord, speurwerk à la Agatha Christie en PD James, en konvensionele sowel as ónkonvensionele speurders ­– meng Schoombie daarby sintuiglike ervarings in soos dit gestalte kry onder meer in ete en drinke (van hoendersult tot sorghumbier, van saggebraaide skaapvleis tot hallusinatoriese sampioene), wêreldletterkunde (van verwysings na Oscar Wilde tot Salman Rushdie) en musiek (van ʼn Beethoven-hobokonsert tot The Eurythmics).

Duidelik het hy die vinger op die pols om dié sensasies te kan registreer, én om ʼn omgewing te skep wat die leser óf herken óf veilig voel om te verken.

Die omgewing van Rooi haring word bevolk deur koskreature van allerlei aard. Daar is onder andere die glanssjef Hartman Swiegers wat sy lewe bevrore in ʼn instapyskas verloor; sy broer Darius, ʼn karakter met heelwat wrewel; Wickus Gericke, die blondekuif reklameman wat onder meer Tydloos, Hartman se nuwe restaurant, moet bemark; die langbeen-kosblogger Greta Burger wat net nie kan loskom van “Kameelperd”, die bynaam wat by haar spook nie; Latoya Jones, skinderskrywer vir ʼn Sondagkoerant; Bruce Sanders, ʼn Australiër met eiesoortige kosbelangstellings; die koskenner Sherman Wilberforce; die span sjefs wat in Tydloos werk: Jimmy Brown, Lina Draai, Willing Dlamini, Marie-Louise Smythe; en Chakalaka die lywag/chauffeur. Die polisiespan is kaptein Viljee Stuurman en sersant Ollie van Zyl.

Sommige lede van dié spulletjie pleeg en verdoesel moord, ander is heeltemal onskuldig (al sou hulle rede genoeg hê om te moor) en ander probeer die moord op Hartman Swiegers uitpluis.

Schoombie bied sy leser ʼn geil feesmaal, met heelwat potte wat teen verskillende temperature prut. Nietemin bly as hy gesoute storieverteller meesterlik en vermaaklik aan die kook, soms wel met gul taalporsies wat aan die ruim kant wees – soms oordadig mooi en té swaar gelaai met (onnodige) inligting (soos byvoorbeeld die verwysings na Zoeloe-danse).

Rooi haring, met al die verskillende gedaantes wat “rooi haring” in die boek aanneem, veral dié van doelbewus op ʼn dwaalspoor stuur, is ʼn boek wat goedig draaksteek met die koswêreld. Dis ʼn boek waaraan ʼn mens sonder meer kan weglê (daar is ook verskeie resepte op die koop toe) en smul – van voorgereg tot by die laaste krummels van die nagereg.

 

Schalk Schoombie se Rooi haring is uitgegee deur Human & Rousseau. Die boek kos R290. Koop die boek nou by Graffiti Boeke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae