Boek van die maand (resensie): Skarlaken

Skarlaken-high-res (1)Ilse Salzwedel resenseer Maroela Media se boek van die maand, Skarlaken, deur Irma Venter (Human & Rousseau)

Skarlaken is die vierde misdaadroman uit die vaardige pen van die joernalis Irma Venter, wat in 2012 gedebuteer het met Skoenlapper. Daarna het Skrapnel en Sondebok gevolg. Hoewel dit nie noodsaaklik is om die boeke in volgorde te lees nie, sal ek dit sterk aanbeveel, want die avonture van Ranna, ‘n vryskutfotograaf, en Alex, ‘n oorlogkorrespondent, boei vandat jy hulle in Skoenlapper ontmoet. (Skoenlapper is in 2013 met ʼn ATKV Woordveertjie vir spanningslektuur bekroon.) Die daaropvolgende drie boeke neem die leser op boeiende en gevaarlike reise saam met Alex en Ranna, maar jy maak ook van nader kennis met interessante newe-karakters: Sarah, ‘n rekenaargenie wat al in die tronk was vir haar kubereskapades, Adriana, ‘n vrou met ‘n geheimsinnige verlede, en Jaap Reyneke, ‘n speurder wat bewerings oor Ranna se betrokkenheid by ‘n moord moes ondersoek. Al vier die boeke is uitstekende leesstof, maar Skarlaken staan vir my kop-en-skouers uit bo die res, dalk omdat mens hierin kan sien hoe Venter die afgelope drie jaar as spanningskrywer gegroei het. Haar fyn oog vir detail en die slim manier waarop sy haar deeglike navorsing in die storie integreer, verstom weer eens.

Skarlaken is die storie van drie moorde wat Jaap en Sarah, onwaarskynlike mede-speurders, op ‘n speurtog kruis en dwars oor Suider-Afrika neem. Elkeen het ‘n interessante storie waarvan daar glimpse was tydens die drie vorige boeke, maar tydens hul reise van Sutherland in die Karoo tot Stellenbosch, Clarence, Walvisbaai in Namibië en Gaborone in Botswana, leer jy hulle intiem ken. Nie Jaap of Sarah is gewoond daaraan – of juis lus – om saam met iemand te werk nie, maar hulle het mekaar nodig om die moorde te ontrafel. Elkeen moet tydens die reis ook persoonlike probleme hanteer en verwerk. Die eerste slagoffer was Jaap se susterskind, wat beteken veel meer as net die moontlikheid van nog slagoffers is op die spel. Jaap se familie dreig om nooit weer met hom te praat nie, juis omdat sy speurtog ‘n donker geheim uit hul eie verlede oopgekrap het. Sarah moet haar pa se dood verwerk, en het haar ma belowe om nooit weer by iets onwettig betrokke te raak nie. Maar sal sy die belofte gestand kan hou sonder dat nog mense sterf?

Die pas in Skarlaken is blitsvinnig, en die vertelstyl vars. Beide Jaap en Sarah tree op as eerstepersoonvertellers. Enige skrywer sal jou vertel dat uitgewers telkens waarsku teen die gebruik van ‘n eerstepersoonverteller omdat dit so maklik kan misluk. Venter gebruik dit egter juis om ekstra spanning en intimiteit te skep. Die leser voel van die eerste bladsy af deel van die verhaal. En sover dit moordtonele aangaan, is die in Skarlaken van die verbeeldingrykste waarvan ek al gelees het, byna soos kunswerke in die kleine. Ook dit is deel van die interessante storielyn.

Op die voorblad van Skarlaken skryf Deon Meyer “Skarlaken bewys net weer Irma Venter is wêreldklas”, presies hoe ek sedert haar tweede boeke oor Venter se werk voel. Myns insiens verdien Venter, nes Rudie van Rensburg, dat hul werk in Engels vertaal moet word sodat die res van die wêreld ook kan sien watter knap misdaadskrywers ons in Afrikaans het.

Gewone prys: R230-00
Maroela-prys: R184-00
Bestel hier: Graffiti Books

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.