Boek van die maand (resensie): ‘Tuisland’ deur Karin Brynard

tuisland karin brynardTuisland is die gesoute oud-joernalis Karin Brynard se derde spanningsroman, en myns insiens ook haar beste. Haar debuut, Plaasmoord, is met die UJ-debuutprys vir letterkunde en die M-Net-prys vir mees verfilmbare teks bekroon, en is in Engels, Nederlands, Frans en Duits vertaal. Haar tweede boek, Onse Vaders, het ook die M-Net-filmprys verower, asook die ATKV-Prosaprys, en word tans in Engels en Duits vertaal.

Ek wil dit waag om te sê dat Tuisland beslis volgende jaar ook met ʼn prys of wat bekroon gaan word. Die ervaring wat sy opgedoen het met die skryf van haar eerste twee romans, wys duidelik in hierdie boek. Sy laat niks aan die toeval oor nie, en die storie is deurdag tot op die laaste bladsy. Haar storielyn en deeglike navorsing oor die San en hul kultuur en geskiedenis, sorg vir ʼn onderhoudende lekkerlees-ervaring.

Kaptein Albertus Beeslaar is nou al vir Brynard-lesers ʼn ou bekende. Hierdie keer moet hy ʼn raaiselagtige moord in die Kgalagadi-oorgrenspark oplos. Hou dit verband met ʼn aanval op ʼn Duitse toeris wat ʼn multimiljoenrandse projek vir die San kan verongeluk? Beeslaar en Koekoes Mentoor, die hardekwas bevelvoerder wat gestuur word om die ondersoek te lei, het hulle hande behoorlik vol om die legkaartstukke te laat pas, veral nadat daar nog ʼn moord gepleeg word. Koekoes word geteister met geheimsinnige telefoonoproepe, en dis duidelik dat die aanvaller haar ook in sy visier het. Boonop bejeën die San-gemeenskap die polisie met taamlike agterdog. Kytie Rooi, ʼn skoonmaakster by ʼn gastehuis in Upington vlug ook Kgalagadi toe met ʼn straatkindjie wat sy van ʼn vreeslike lot gered het en beland onwetend in die middel van al die drama. Voeg hierby ʼn goeie skoot politiek, San-mites en twee eiewyse, interessante hoofkarakters, en jy het die resep vir ʼn boeiende, briljante spanningsverhaal.

Beeslaar is een van my gunstelingspeurders in Afrikaanse fiksie. Hy leef vir sy werk, maar Brynard het nie van hom ʼn cliché gemaak nie. Hy bly ʼn driedimensionele, menslike karakter met ʼn sterk sin vir reg en geregtigheid, en ʼn mens wil hoop dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens nog baie sulke speurders het. Ditto met Mentoor, petite maar rateltaai en baie vasberade. Albei se lojaliteit aan hul werk het ʼn impak op hul persoonlike lewens, en Mentoor moet keer dat spoke uit haar verlede, nie inmeng met haar objektiwiteit in die moordondersoeke nie.

Die een ding wat Brynard uitstekend regkry, is om Tuisland lig en verteerbaar te hou ten spyte van temas wat baie donker kon raak. Dit doen sy deur haar goed gekose karakters – mense soos die speurders Ghaap en Pyl, Kytie Rooi en Antas die medisynevrou. Deur karakters soos Jannas, ʼn wit vrou wat in ʼn ou skoolbus tussen die San woon en ʼn nie-winsgewende organisasie ten bate van hulle bedryf, leer die leser baie van hulle kultuur, vrese en hul stryd om oorlewing. By Antas leer ons van tradisionele veldkos en medisyne, en uiteindelik laat die boek mens met meer begrip vir die San se stryd om erkenning sonder om enige vermaaklikheidswaarde in te boet.

Dit was ook duidelik dat Tuisland nie in ʼn resies met die horlosie geskryf is nie. Ek het onlangs ook twee ander Afrikaanse spanningsromans deur gewilde skrywers gelees, en albei het my laat dink dat die uitgewer in die skrywer se nek geblaas het om ʼn boek gereed te hê teen ʼn sekere datum. Hoe honger ons as lesers ook al vir die opvolgboek is (en die uitgewer en skrywer vir die inkomste): die worsmasjienbenadering kan ʼn boek van ʼn swakker gehalte as sy voorgangers tot gevolg hê, en getroue aanhangers kom dit wel agter. Waak daarteen.

Tuisland is 574 bladsye uiters boeiende, hoogs leesbare vermaak. Hoogs aanbeveel. Koop hierdie boek gerus vir jou versameling Afrikaanse boeke.

Lees meer oor die boek: Tuisland
Uitgewer: Penguin Random House
Prys: R250-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Maroela Media-lesers kry spesiale afslag by Graffiti Boeke. Koop die boek nou vir slegs R200-00

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

NICKEY VAN NIEKERK ·

Baie geluk aan Karin Brynard ,dit wil gedoen word.

NICKEY

E.K. ·

Puik boek – besig om te lees en nes haar vrige werke uitstekend!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.