Boek van die maand (resensie): ‘Tussen die klippe’ deur Hans du Plessis

tussen die klippeTussen die klippe is Hans du Plessis se tiende roman. Hy skryf graag historiese fiksie, maar moenie jou daarteen blindstaar nie. Sy jongste roman, wat afspeel in die era kort na die Groot Trek, kon net sowel in 2016 afgespeel het. Die geskiedkundige gegewe verskaf bloot ʼn interessante agtergrond vir die tonele wat op die lewensverhoog afspeel, maar die temas bly tydloos. Boonop spot Du Plessis op sy fyn humoristiese manier met al die dinge wat die mensdom vandag steeds fassineer (en die adders wat ons steeds graag aan die spreekwoordelike boesem koester sonder om die gevaar te besef): begeerte, skinderstories en halwe waarhede, afguns, dubbele standaarde, veroordeling. Terwyl ons die hele tyd bly vergeet dat liefde (vir God én vir jou naaste) die Groot Gebod is.

Die verhaal is gegrond op ʼn ware hofsaak wat Du Plessis in die argiewe raakgelees het. Die aanklag? Sonde.

Die moderne leser wil dalk lag oor die belaglikheid van so ʼn klag, maar juis dit dwing jou om verder te lees. Susanna Isabella Marais (of is dit inderdaad haar van?) word voor die kerkraad gedaag oor sonde – in hierdie geval veelmannery – en die kerkraad verwys hierdie belangrike saak na die hof. ʼn Dominee, ene Johannes, van die Kaapprovinsie word afgevaardig om as lid van die jurie op te tree tydens die verhoor. Die hof sit weliswaar onder ʼn boom in die veld – en die amptenare op stompe en veldstoeltjies wat skeefweg in die grond insak – maar hof word daar gehou. Al word dit ook telkens onderbreek deur wilde diere of ʼn reënbui, en al is die getuienis teen die arme Susanna maar skraps en al die getuies taamlik traag om teen haar te getuig. Soos die flapteks dit stel: “Of ʼn misdaad en sonde dieselfde ding is, is nie alte duidelik nie, maar die hof het tyd, stompe om op te sit en iemand wat kan skryf.”

En juis daar lê die knoop. Heel gou word dit duidelik dat daar regtig veel belangriker kwessies is as Susanna se sonde, maar ʼn paar lede van die gemeenskap in die Moot het bloed geruik en wil opsluit ʼn skuldigbevinding hê, of Susanna nou skuldig is of nie. Du Plessis slaag daarin om die boek deurgaans ʼn ligte trant te laat behou, maar dwing die leser om introspeksie te hou oor ons eie vooroordele, liefdeloosheid en geneigdheid om eerder die slegte te glo as om die waarheid te probeer uitvind.  Dis ook die verhaal van dominee Johannes wat deur die hofsaak en sy reis soontoe vir die eerste keer besef daar is ook ander soorte liefde as net die tussen mens en God.

Die boek wemel van quotable quotes, ironie en fyn sosiale kommentaar. Soos toe dominee Johannes by homself dink: “Die binneland is nie ʼn plek nie – dis ʼn mentaliteit.” Of: “Daar is min dinge so gevaarlik soos ʼn Calvinis wat Calvyn verkeerd verstaan.”  Hier en daar lag mens hardop, soos toe die een erg meerderwaardige, maar ongeletterde jurielid hoogdrawend by die dominee wil weet wat hy wat dominee Johannes is, nou eintlik van Calvyn weet. “Ek het gelees wat hy geskryf het,” antwoord die dominee rustig. “O, kan dominee dan Engels lees?” vra die slimmerd. “Dit was Latyns,” antwoord Johannes. Waarop die beterweter antwoord: “O ja, Calvyn was mos ʼn Latyn.”

Ek het my verkneukel in die verloop van die hofsaak, en kon danksy Du Plessis elke karakter duidelik in my geestesoog sien. Elkeen verteenwoordig ʼn argetipe, die soort mense wat ons daagliks om ons sien, en dis lekker om te kyk hoe die waarheid (en die liefde in al sy fasette, ook en veral naasteliefde) tog wel seëvier.

Al lees jy nooit historiese fiksie nie, lees hierdie boek, en hou jou oë oop vir elke stukkie detail, soos die dominee wat met Bileam die donkie die pad Transvaal toe aandurf. Niks wat Du Plessis skryf is sonder voorbedagte rade nie – die simboliek, ironie en humor bevat lewenswaarhede wat jou nog lank na die lees sal bybly.

 

Luister ook op RSG na die podsending van Ilse Salzwedel se gesprek met prof. Hans du Plessis (uitgesaai op 1 Junie 2016). Dit bied interessante agtergrond tot die boek.
Lees meer oor die boek
Luister na ‘n podsending van ‘n gesprek tussen Maroela Media en prof. Hans du Plessis

Uitgewer: Lapa Uitgewers
Gewone prys: R220-00
Maroela-prys (danksy Graffiti Boeke): R176-00 (jy spaar R44-00)
Koop Tussen die klippe: Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.