Boek van die maand (resensie): ‘Web’ deur Naomi Meyer

web-naomi-meyerIn hierdie skitterende, lekkerlees debuut ondersoek Naomi Meyer verskeie ernstige kwessies sonder dat die leser dit aanvanklik besef. Sophia en haar man Diederick, wat voorheen vir ʼn ruk in Ierland gewoon het maar juis teruggekom het omdat hulle Suid-Afrika mis, se aangenome dogtertjie Magriet verdwyn by die kleuterskool naby hul huis op Stellenbosch. Sophia se werk by Boekeweb, ʼn letterkundige webwerf, kan in die slag bly weens die ekonomie, en haar werkgewer en vriendin sedert hul universiteitsdae, het min simpatie met Sophia se probleme. Trouw het immers haar eie krisisse – en skuldgevoelens – om uit te sorteer.

Boonop het Sophia en Diederick huweliksprobleme – of is dit wat in hul huwelik aan die gang is, maar die normale gang van dinge sodra minnaars ouers word en die gang van hul lewens skielik deur hul kinders se behoeftes regeer word? Of lê die knoop by Diederick se stresvolle werk as speurder wat hom daagliks blootstel aan tragedie en trauma? Boonop kan hy nie fokus op die ondersoek na sy dogtertjie se verdwyning nie, want opstandige studente en werkers ruk op na die universiteitskampus en die polisie het hul hande vol om te keer dat dinge handuit ruk. Dan verdwyn Sophia ook spoorloos…

Teen die agtergrond van ʼn kampus wat brand tydens die Fees Must Fall-veldtog, word die leser op ʼn subtiele manier gelei om na te dink oor baie fasette van Afrikaans én Suid-Afrikaans wees. Kwessies soos die tentakels van die internet en sosiale media se invloed op ons daaglikse lewe, rassisme, armoede, emigrasie, misdaad, onvervulde drome, die liefde en selfs mensehandel kom onder die loep, sonder enige prekerigheid of spesifieke antwoorde op enige van die vrae waarmee die leser gekonfronteer word. Dis ʼn boek wat mens noodwendig laat nadink, maar jy lees in die eerste plek heerlik aan die storie, wat wissel tussen die hede en terugflitse na die verlede. Dié interessante verteltegniek sorg saam met ʼn onverwagse kinkel of twee dat die spanning tot op die laaste bladsy gehandhaaf word. Sal Magriet lewendig teruggevind word? Wie sit agter Sophia se ontvoering? Gaan hulle ooit weer die saam met die ougat klein Matthys spinnekoppe jag in die tuin? Of gaan hulle soos insekte sterf in die web wat vir hulle gespin is?

Uitgewer: Queillerie
Prys: R250-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Maroela Media-lesers kan die boek teen die spesiale prys van R200-00 by Graffiti-boeke aanskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.