Boek van die maand: ‘Simoelégri, stad van onrus’ deur Jaco Fouché

Aanspreeklikheid, Jaco Fouché se roman wat verlede jaar verskyn het, het ʼn mens bewus gemaak van die distopiese trekke wat die samelewing reeds het, met ander woorde dat distopie nie (net) toekomsmusiek is nie. In dié opsig sou Fouché se Aanspreeklikheid kon resoneer met ʼn onlangse roman soos Die troebel tyd van Ingrid Winterbach.

Dié roman was in 2018 naaswenner in NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd en is beskryf as “ʼn fassinerende ondersoek na aandadigheid en die waarhede wat ʼn mens jouself kan wysmaak”.

Fouché se jongste roman, Simoelégri, stad van onrus, aansienlik skraler as Aanspreeklikheid en nou wenner van die 2021-weergawe van die einste wedstryd, vergestalt troebel tyd as volledige gegewe, meer in die rigting van Eben Venter se Horrelpoot – nadat die een of ander apokaliptiese ingryping die samelewing diepgaande verander het. Wat die ramp was, so 30 jaar voor die tyd waarin die verhaal afspeel (daar word verwys na ʼn virus) bly ʼn oop vraag. Wat wel beskryf word, is ʼn stadsbuurt sonder elektrisiteit en waarin konkavuur binnenshuis as energiebron moet deug (helder sonskyn is iets van die verlede). Kontant beteken weinig en ruilhandel is die stelsel waarheen die wêreld op pad is.

So bekom Lady Die, die transgender hoofkarakter wat in ʼn afgeleefde kerk woon, haar boeke – onder meer “ʼn Bybelkonkordansie vir ʼn halfsakkie aartappels, twee samesweringsteorieë vir ʼn stuiwer”. Lady Die, ook genoem Dame Dood, het met haar sug na boekkennis nog herinnerings aan die voortyd, anders as ʼn karakter soos Dean Louw, ʼn jong man, wat deel is van die mense wat nie lees nie en nie meer in “ou gedagtes nie” belangstel nie en derhalwe boeke wil ruil.

Die enigste gereelde besoeker aan die kerkgebou waar Lady Die woon, is Jack van die Straathoek, ʼn dwelmsmous van haar ouderdom wat haar vir “vierhonderd” toegang tot die gebou bied. “Ek dink dus die plek is nou myne,” sê sy. “Ek dink ek het dit gekoop.” Dié vermeende transaksie vroeg in die boek is reeds aanduiding van die los skroewe waarop die hele bestel staan. Die enigste bedryf wat wel taamlik effektief funksioneer, is die stad se rioolstelsel wat danksy die Rooikoppe, vryheidsvegters wat dié naam vanweë hul rooi bandanas gekry het, die stelsel onderhou.

Lady Die is die buitestander wat in kroeë prentjies van voos mans teken hoewel haar hoofbron van inkomste dalk prostitusie is. Op straat word sy gespot en een van die lieflikste sinne in die boek is: “Dis die ding van ’n prostituut wees: mans dink hulle kan jou soos ’n hoer behandel” (22).

Dat Fouché homself bewys het as uitbeelder van die enkeling wat buite staan en waarneem blyk uit sy vorige skryfwerk net soos die feit dat hy insig bied in ʼn verwordende samelewing (meesterlik gedoen in Aanspreeklikheid). In Simoelégri kry ʼn mens weliswaar aanduiding van dié kwaliteite hoewel deurgekomponeerdheid in die slag bly.

Hoewel die kerk huisvesting bied, is daar van kerk as religieuse hart niks oor nie. Lady Die hoor “asof dit deur die vloer kom” fragmente van godsdienstige oortuigings, maar dit is “onnodige distraksie” waarmee sy niks van kan maak of daarmee doen nie (72). Selfs ʼn gepoogde offer in die kerk loop op niks uit nie.

Dit is egter ʼn muurskildery in die kerk, gemaak deur Vanessa, ma van die Rooikop-aktivis Ronnie Keel, wat die aandag trek. Binne die konteks van die rol wat literatuur (boeke) speel in Lady Die se woonplek sou dit kon lyk asof kuns die draer word van sin. As sy batterye in die hande kan kry luister sy na musiek uit ʼn ou radio-CD-speler en besef sy romans, gedigte en traktaatjies is maniere van uitreik met “bewende hande met smal vingers, na die een of ander betekenis” (79).

Maar dit blyk ook nutteloos te wees. Waarmee die roman afsluit is die appèl op die leser as “biddende wese” om vir Lady Die te bid: “Vra dan genade vir my siel, of die reste daarvan, dit wat oorbly ná my aard van sin geloog is” (126).

Simoelégri, stad van onrus deur Jaco Fouché word uitgegee deur Human & Rousseau. Die boek kos R260.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.