Boek van die maand: ‘Skepsel’ deur Willem Anker

“Boeke word gemaak uit boeke,” het Willem Anker in ʼn kort verklaring gesê ná berigte en verdagmakery verlede jaar oor die toeëiening uit die werk van ander skrywers in sy roman Buys en die Engelse vertaling Red Dog. Dié vertaling deur Michiel Heyns is benoem vir die 2020 Booker International-prys.

Hoewel die werk van Cormack McArthy en Samuel Beckett erkenning gekry het in Red Dog, is Buys sonder dié verwysings die lewe in.

In die einste verklaring het Anker verwys na die proses van “wyd en syd plunder” van ander se tekste “om ʼn verhaal vertel te kry”, en om as’t ware ʼn (nuut)skepping voort te bring. In dié opsig waarin ʼn mens nog heeltemal nuut kan skep.

Skepsel, Willem Anker se jongste boek, is ʼn boek wat uit méér gemaak is as net uit ander boeke – ook die internet, “uit die miseliumdrade en wurmgate van die internet”, soos hy in “Erkennings” agter in Skepsel aandui. Benewens boeke (onder meer Moby Dick en Pinocchio) en rolprente (soos Blade Runner) en verhoogtekste (soos RUR, ook bekend as Karel Čapek se Rossum’s Universal Robots), verwysings na dokumentêre prente, performance kuns en allerlei projekte, is dit die internet – van Google tot Wikipedia (“Wikipedia is ons”, skryf hy) tot YouTube – wat íngeskryf word om uit dié magdom verwysings ʼn skepping (roman) as hibried te voorskyn te bring. Een waarin metamorfose ʼn beduidende rol speel.

Die openingsin van die roman lui nie om dowe neute nie: “Daar is ʼn video op die internet…”. Vergelyk verder ʼn hoofstuk (bladsy 251 ev) wat volledig in die formaat van ʼn drukweergawe van ʼn webwerf – kompleet met foto-onderskrifte – weergegee word.

Samsa-masjien, Anker se dramateks van 2015 waarin hy in gesprek tree met Franz Kafka se Metamorfose, kan gelees word as ʼn soort wegbereider vir Skepsel, maar Anker gaan verder terug as Kafka se verhaal waarin Gregor Samsa een oggend ontdek dat hy in ʼn insek verander het, vir wie almal gril en waarvan almal ontslae wil raak. Hy gaan haal sy verwysing na hibriede en voorwerpe wat van voorkoms verander by Ovidius, die Romeinse digter van die eerste eeu – veral bekend vir sy 15-delige kompendium van gedaanteverwisselings in die Romeinse en Griekse mitologie.

Hoewel Ovide (die swartskaap), ʼn hekwag by die ingang tot ʼn ontwikkeling aan die Weskus wat ook ʼn vreemdeling buite sy vaderland is, ʼn mindere rol speel in een van die drie verhaallyne waaruit Skepsel bestaan, is dié figuur en die feit dat Ovidius se Metamorfose die enigste boek is in Ovide se besit, ʼn manier om ʼn greep te kry op Anker se vergestalting van “skepsel” – of dit nou die bleek beendere is (vermoedelik van ʼn tamaai dier) op die Svalbard-argipel tussen Noorweë en die Noordpool is, of ʼn huis aan die Weskus wat só ontwerp en toegerus is dat argitektuur as’t ware ʼn lewensvorm word, of ʼn kuborg met ʼn bioniese linkerarm en ʼn videokamera as linkeroog.

In plaas daarvan om die verhaalgegewe hier weer te gee of iets te laat glip oor die heerlike verrassings wat die leser in dié roman te wagte kan wees – iets wat resensente toenemend doen – laat ek dít oor aan die leser en meer nog aan die wakker leser wat afdraaipaadjies vat. Afdraaie wat die leeservaring net soveel ryker maak.

Was Ovidius net kompileerder van bestaande mitologieë? Tog nie. As digter (skepper/maker, wat die woord poiētēs beteken) het Ovidius in die gebruik maak van bestaande tekste ʼn nuwe werk tot stand gebring, met nuwe reikwydte, met nuwe dimensies, en straks met ʼn nuwe segging. En dan het ʼn mens nog niks gesê oor sy vernuftige taalgebruik nie.

Niks wat Willem Anker beskryf is dalk nuut nie. Alles bestaan lank al en in verskillende vorme. Hy kom nie vorendag met ʼn begrip soos objektum-seksualiteit nie, of met iets soos ʼn sampioenpak nie. Al dié goed bestaan al lank, soos ander skrywers se boeke. Maar hóé hy dit beskryf. Dit is dalk ʼn belangrike spil (meer as verhaallyn, of karakterbeelding).

Wat Anker doen is om ʼn hibriede vorm te skep, ʼn skepsel, wat in sy somtotaal heerliker is as die onderskeie brokke inligting. Om dit te doen het ʼn mens ʼn kunstenaar nodig. ʼn Skepper soos wat die Grieke dit indertyd bedoel het. Een wat goed byeen kan bring.

Skepsel deur Willem Anker word uitgegee deur Queillerie. Die boek kos R320.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.