Boek van die maand: ‘So byna blou’ deur Emile Joubert

Vir die voorblad van sy jongste bundel kortverhale, So byna blou, maak Emile Joubert en sy uitgewer, Protea, gebruik van ʼn skermskoot uit die Oostenrykse eksperimentele kunstenaar Gustav Deutsch se kortprent Shirley: Visions of Reality (2013). Vir dié projek het Deutsch ʼn rooikop aktrise gekry om die rol van Shirley te vertolk “in” 13 skilderye van die Amerikaanse kunstenaar Edward Hopper en op dié manier lewe in te sny in statiese prente.

Benewens die mooi voorblad word die Deutsch-weergawe van Hopper se 1957-skildery, Western Motel – hier in ʼn spieëlbeeldweergawe aangebied – ʼn besonder gelade wegwyser nog voordat die leser ʼn sin gelees het. Die gestileerde eenvoud wat Hopper so bemeester het en wat Deutsch driedimensioneel vergestalt word ʼn stel gebou vir aksie, ʼn milieu gelaai met sielkundige dimensies.

Buite is daar ʼn helder dag wat verken moet word (só helder dat die strak kamer, asof dit ʼn rolprentstel is, fel verlig word), buite staan ʼn motor gereed vir die verkenning, en binne staan koffers reg om uitgedra te word. Uit die houding van die figuur op die bed weet ʼn mens egter nie of sy pas aangekom het en of sy op die punt is om te vertrek nie.

In ʼn onderhoud oor sy bundel met LitNet het Joubert gesê “die blootstelling aan verskillende geografiese landskappe, kulture, mense, reuke, geure, klanke… dit kleef aan my, en daarvoor is ek dankbaar. Die storie-idee kom altyd eerste. Dan besluit ek waar dit gaan plaasvind, en met wie… baie keer laat ek die storie in ’n vreemde plek afspeel – nie om windgat te probeer wees om te wys dat ek daar was nie, maar omdat ek voel dat die milieu die storie toelaat om tot sy volste reg te kom.”

Soos wat Deutsch sy 13 Hopper-skilderye noukeurig uitgesoek het, kies Joubert 12 plekke – van ʼn huis met ʼn koel binnehof in Seepunt tot ʼn gastehuis op ʼn landgoed in die Douro-vallei in Portugal; van die damaskbedekte tafels van Au Pied de Cochon in Parys tot tant Lenie Etsebeth met die blou rok se kombuistafel – waar sy storie gaan plaasvind. Dié plekke word, soos hy aandui, gestileer met en aan die hand van landskappe, reuke, geure, klanke as milieu waarbinne die storie voltrek kan word. En waarbinne ʼn enkeling (soos die vrou op die bed op die voorblad) ʼn handeling/reis/eskapade begin wat binne die verhaal (filmies) uitspeel.

As motto vir sy kortverhale haal Joubert ʼn karakter in Roman Polanski se 1974-fliek, Chinatown, aan: “To tell you the truth, I lied a little.” Wat dalk belangriker as die direkte spel van feit en fiksie is, is die bagasie wat Chinatown as film noir met dié aanhaling indra. Juis omdat Hopper enersyds sy inspirasie in film noir gevind het en andersyds ʼn aanduibare (Hoppereske) estetika nagelaat het.

Dit is binne dié noir tradisie waar Joubert sy verhale aanbied: met heelwat verrassings in verhaallyne – by geleentheid nader aan ʼn ónwaarskynlike en daarom ʼn soms abrupte uiteinde. Die verhaal “Sout” sou ek hier as voorbeeld noem. Soms oorweldig die wending wat ʼn verhaal neem die verloop daarvan.

In “Op safari”, ʼn verhaal waarin twee skrywers in die Rovio in Johannesburg ontmoet en waarin die grens tussen waarheid en leuen vervaag, is Joubert op sy oortuigendste aan die werk. In die bestek van enkele bladsye gee hy gestalte aan die raad van die een skrywer, ʼn Amerikaner: “Skryf die woorde, en as dit goed is en die storie eg en juis vir jou klink, staan jy die kans om vir altyd te lewe.”

Dit is verhale soos dié, die melancholiese “Skilferkors” en die onthutsende einde van “Korreltjie dagbreek” waarmee Joubert sy vaardigheid as storieverteller en kortverhaalskrywer wys.

So byna blou is ʼn tint wat deur talle van die verhale loop en ʼn grinterige tekstuur daaraan gee wat die filmiese kwaliteit aanvul.

Afgesien van So byna blou het van Joubert ook die kortverhaalbundels Die aptyt van Anna Blow (2000) en Kouefront (2007) verskyn.

So byna blou deur Emile Joubert word deur Protea uitgegee. Die boek is beskikbaar by Protea Boekhuis en kos R225.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.