Boek van die maand: ‘Spertyd’ deur Elsa Joubert

Elsa Joubert was 56 toe sy Die swerfjare van Poppie Nongena in 1978 geskryf het, die roman wat in 13 tale vertaal is en waarmee sy vir talle lesers (moontlik vir ʼn eerste keer) insae gegee het in die lewe en leefwêreld van stedelike swart mense. Dié boek was nie net outentiek en feitelik waar nie, maar, soos die flapteks dit stel, ook “ʼn belangrike stuk hedendaagse geskiedskrywing, opgeteken in ʼn pakkende en strak joernalistieke styl; objektief maar plek-plek so sensitief-persoonlik dat dit die leser diep ontroer.”

Veertig jaar later, op 95, publiseer Joubert Spertyd, ʼn outobiografiese vertelling, waarin sy terugkyk op haar lewe, haar woorde en bowenal op die vraag wat haar “nog steeds kwel”: “Wie is ek?” (121). In ʼn poging om identiteit te peil verwys sy na haar storie “Agterplaas”, wat sy voor Poppie geskryf het. “Oor ʼn huiswerker en die onwettige man wat sonder ons wete saans ingesluip het en vir wie sy op ʼn paraffienstofie kos gekook het” (121). Na aanleiding van dié verhaal vra sy haarself: “Beteken dit dat ek toe reeds geweet het dat sonder ‘haar, meer as my suster’ ek nie sterk staan in my eie identiteit nie? Hoe sterk ʼn rol speel die missies-en-huishulp-verhouding in my skepping van ʼn identiteit? Dat ek slegs my identiteit kry in my rol van oorheerser oor ʼn oorheerste” (122).

Dit is dié trant – die van besinning, van terugkyk, van weeg en oorweeg en aan die hand daarvan vorentoe kyk – wat Joubert in dié memoires aan die woord kom en bly. Gesoute skrywer wat sy is, doen sy dit gestroop van sentimentaliteit, sonder huiwering en steeds met die pakkende styl wat haar werk kenmerk. Of dit nou romans soos Die Wahlerbrug (1969) en Die reise van Isobelle (1995); kortverhale soos Melk (1980) en Dansmaat (1993); reisverhale soos Suid van die wind (1962) en Ons wag op die kaptein (1963) of outobiografiese tekste soos ʼn Wonderlike geweld (2005) en Reisiger (2010) is.

Ná haar man, Klaas Steytler, se dood het sy van hulle groot huis in Oranjezicht verhuis na ʼn woonstel in Berghof, ʼn aftreeoord in Kaapstad, waar sy akuut bewus is van ʼn lewe buite die hoofstroom. “Jy het jou kans gehad. Dis verby” (65). As een van die oudste inwoners is sy omring deur mense wat “dronk in kop, doof in die ore, swak in die oë, kruppel in die bene” (65) is. Verlies is talle gedaantes, word ʼn gegewe en daaroor is sy onomwonde.

Hoewel die boek Spertyd heet, met ʼn geformuleerde bewussyn dat die einde in sig kom en die erkenning dat “ek is nie meer dapper nie” (45), weifel Joubert nie in haar oortuigings nie. “My standpunt het nou helder geword (128),” sluit sy die hoofstuk oor identiteit af. “Los die groepdenke of groepsidentiteit. Bewerk die klein erfie wat jou toebedeel is, en alles sal daarmee saamkom.”

Elsa Joubert bewerk haar erf met mening. Dit het sy nog altyd gedoen en so blyk dit nou weer in Spertyd. Toe ʼn vriendin haar vra: “Kry jy nie end nie,” troef sy haar met ʼn aanhaling uit WG Sebald wat verwys na “the awful tenacity of those who devote their lives to writing” (136). ʼn Lewe wat sy gewy het aan skryfwerk het inderdaad op soveel vlakke ʼn skrikwekkende taaiheid laat blyk. ʼn Verbetenheid wat nooit in politieke betoog ontaard nie, maar nietemin haar leser konfronteer deur vooropgestelde idees en selfs realiteite te bevraagteken. Soos sy nou weer doen met ouderdom en ou mense. Nadenkend en in plaas daarvan om vinger te wys skryf sy van die binne kant af. “Ek praat oor ons oues wat nie weet hoe om ons verlede te hanteer nie,” skryf sy (123).

Spertyd is geen handleiding vir die ouderdom nie. Tog sal dit jammer wees as ʼn mens oud word sonder om kennis te neem van dié jongste boek van Elsa Joubert.

Spertyd deur Elsa Joubert is uitgegee deur Tafelberg. Die boek kos R250.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Markus ·

Die laaste van die groottes van die Grootste Generasie (Greatest Generation).
Wie is daar nog oor van hierdie generasie?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.