Boek van die maand: ‘Ver in die wêreld’ deur Frederik de Jager

Sedert die versamelbundel As almal ver is: Suid-Afrikaners skryf huis toe, saamgestel deur Danie Marais, in 2009 verskyn het, het heelwat water in die see geloop. En het die stroom Suid-Afrikaners wat hulle in die buiteland gevestig het, aangegroei. Hoeveel presies is moeilik om te bepaal, hoewel die syfers wat algemeen genoem word, neerkom op een miljoen Suid-Afrikaners wat die afgelope 30 jaar hul heil elders gaan soek het.

Veertien jaar later bring Frederik de Jager, die skrywer wat verlede jaar die Eugène Marais- en die UJ-debuutprys met sy bundel kortverhale, Man op ’n fiets êrens heen, gekry het, 23 verhale van Afrikaanse skrywers byeen – almal wat in die buiteland woon of gewoon het.

Skrywers was nog altyd reisigers. Ver en eksotiese plekke het hulle nog altyd gelok en in hul skryfwerk het hulle vir lesers tuis vistas oopgemaak van oorsese en buitelandse plekke, het hulle die kleure en geure en klanke van die buitewêreld aanvoelbaar gemaak op papier. Dink maar aan die reisverhale van Elsa Joubert.

Die verhale De Jager se jongste bundel, Ver in die wêreld, is egter nie die neerslag van besoeke of reise nie, maar stories van skrywers wat “in die buiteland woon of gewoon het”, mense wat wortels hierdie kant opgetrek het en iewers ’n bestaan gaan maak het.

Hoewel De Jager “veral politieke en ekonomiese slae” in sy inleidende aantekeninge uitsonder as die oorsaak vir hierdie mensebeweging, val dit ’n mens op dat hierdie oorsake, hierdie oorweegredes, nie voorop staan in die verhale nie. Die gemene deler is eerder die persoonlike ervaring van die omgewing – op ’n manier dalk soos die geval is met reisverhale. Die perspektief is dié van die eerstepersoonsverteller en die aard van die verhale is subjektief, persoonlik en intiem. Op ’n manier bly die skrywer mos voortdurend aan die woord oor sy of haar “binnewêreld”, al is hy of sy waar ook al in die “buitewêreld”. Of dit nou feitelike vertellings is of fiksie.

Die 23 verhale dek nogal die aardbol, 14 lande in totaal – van Kanada tot Australië, van Ysland tot China – en skrywers wat ’n stewige voet in die Afrikaanse letterkunde het, se werk is ingesluit – skrywers soos Zirk van den Berg, Marita van der Vyver en Eben Venter.

“So uiteenlopend as wat die verhale is,” skryf De Jager, “so divers is die skrywers. Aan daardie een soort diversiteit wat die vereiste van ons dag is, kon moeilik voldoen word, bloot omdat verreweg die meeste Afrikaanse skrywers in die diaspora wit is.”

In reisverhale het die skrywer nog dalk die luukse om vreemd en vreemdheid in die omgewing, in die taal van die streek en die leefwyse van die mense te gaan soek. In die verhale van skrywers wat in die buiteland wóón raak ’n mens bewus dat vreemd nie (gewaan) meer ekstern is nie, maar dat die skrywer vreemdelingskap aan die vel voel. Dié verskuiwing en vreemdelingskap noop ’n mens om dalk meer van jouself te verstaan as van inburgering.

Nêrens kom dié gedagte so duidelik aan die orde nie as in Annemarié van Niekerk se verhaal “Goud, wierook en pille” nie. Met geswolle blaas kry sy eerstehandse ervaring van gesondheidsorg in die Eerste Wêreld, wat dikwels vir baie Suid-Afrikaners na nirwana klink. Die gras buite die kampie is nie noodwendig groener of sappiger nie, dit is hoogstens ander gras met ander uitdagings om te trotseer. Tussen skape van ’n ander kudde.

Die verhale in Ver in die wêreld is dié van verliese aan die bekende, die verlange huis toe, maar ook oor die aanpassing in die verre vreemde wat dikwels met ’n goeie skoot humor gepaard gaan.

Ver in die wêreld, saamgestel deur Frederik de Jager word uitgegee deur Tafelberg. Die boek kos R328.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.