Boek van die maand: Voorouer. Pelgrim. Berg. deur Ingrid Winterbach

Ingrid Winterbach se jongste roman, die 13de as ʼn mens die vyf wat sy onder die naam Lettie Viljoen gepubliseer het inreken, bestaan soos die titel aandui uit drie komponente: voorouer, pelgrim en berg. Die duidelikste bindende faktor is Katerina Steenkamp as eerstepersoonverteller, ʼn middeljarige skrywer wat besig is met ʼn prulroman (met die titel “Vlam van wraak”), kranige leser én kunswaardeerder – ʼn vrou met ʼn kop vir die kleinste besonderhede en boonop ʼn ontwikkelde visuele ingestelheid.

Die openingsin is derhalwe nie onvanpas nie: “Ek staan voor my kombuisvenster.” Blik op, uitsig op en veral insig in is wat haar aan die gang hou. Wat Katerina sien, of dit die met die oog waarneembare is of met die geestesoog, of dit terugblik is of herinnering, dit word analiserend en interpreterend betrag.

Die verhaal wat rondom Katerina geweef word stel haar voor as ondersoekend en kordaat, maar dan verkieslik aan hierdie kant van die kombuisvenster, of aan hierdie kant van die rekenaarskerm (met die muis in die hand). So was haar ervaring van die 1980’s ook grotendeels dié van ʼn passasier wat ʼn landskap deur opgerolde ruite gade slaan. Sy verkies ook om dié kant van kontak met voorouers te bly, anders as haar broer wat huidjie en muidjie dié wêreld betree. En as sy op pelgrimstogte gaan, doen sy dit plaasvervangend deur middel van tekste en kunswerke. Vroeg in die roman kom die leser al die Kanadese digter en skrywer Anne Carson se Plainwater (1995) teë, ʼn bundel waarmee Carson die omlynings van taal en literatuurvorm toets én tart. Nodeloos om te sê Winterbach het tot op hede in haar skryfwerk reeds flink op dié (pelgrims)tog gevorder. Daarby moet ook genoem word verwysings na onder andere Walter Benjamin, WG Sebald, Herman Melville (se Moby-Dick) en Edmund de Waal se The White Road: A Journey into Obsession.

In die 1980’s was Katerina getroud met Konrad. Die huwelik het gesneuwel en sy het ʼn verhouding aangeknoop met Jakobus Jonker, ʼn vriend van Konrad. Tans is sy in ʼn verhouding met Simon, ʼn kunskenner, wat dikwels op reis is. Daan, haar broer, “het met een groot sprong die middelklaswêreld van wit gerief en bevoorregting agtergelaat” (40) en hom in ʼn klein nedersetting naby Grabouw loop vestig. Maria, Katerina se dogter wat sy by geleentheid besoek, woon op ʼn ander dorp (11), die dorp waar Alfred, nog ʼn vriend van Konrad en Jacobus Jonker, deesdae woon.

Katerina benut die veilige afstand van WAYOO, “ʼn online chat en dating site” (13), om op ʼn verkenningstog te gaan, een waar sy ʼn magdom kêrels teëkom, elkeen op sy eie pelgrimstog na ʼn vorm van kontak maak.

Katerina se wêreld word as’t ware geanker deur die berg wat sy uit haar werkkamer dophou (een waarheen sy, soos ʼn pelgrim, haar oë opslaan). Hoewel die berg vaste buitelyne het, verander die voorkoms voortdurend, en die tekstuur, en die kleur. Die berg word in etlike paragrawe met woorde beskilder. Soms in waterverf. Soms in dik impasto. Só tasbaar dat ʼn mens die berg nie net in jou verbeelding sien nie, maar straks daaraan kan vat. Winterbach se ontginning van kleur en tekstuur (vergelyk byvoorbeeld die verkenning van beenwit porselein, pienkwit grond, vermiljoen – laasgenoemde die skakering gebruik vir die buiteblad van die boek) is wat ʼn mens sou noem ʼn kragtoer.

Die visuele verwysings wat nóg ʼn laag subteks word, is net so wyd as die literêre subteks en sluit werk in van Holbein tot George Gittoes, die Australiese skilder en rolprentmaker wat meedoënloos omgaan met kwessies soos geweld, wraak en vergelding (vergelyk die titel van die roman waaraan Katerina werk).

In ʼn leserskommentaar op ʼn resensie van Ingrid Winterbach se Voorouer. Pelgrim. Berg. wat onlangs in ʼn koerant verskyn het, voer die leser aan Winterbach het nog nie ʼn boek geskryf wat ʼn mens van lees laat hou nie. “Eerder die teenoorgestelde,” meen die skrywer. “Tog wen sy pryse? ʼn Siniese vriend het gesê dat as die ‘kenners’ nie ʼn boek verstaan nie, dan prys hulle dit ten hemele. Die een meer as die ander om dit tog te laat lyk of hulle wel verstaan het.”

Elke mens het sy en haar siening en dit is reg so. Maar genoemde leser gee met sy/haar kommentaar hoogstens een kant van die saak. Voorouer. Pelgrim. Berg. het my opnuut weer laat besef dat Winterbach my dankbaar maak dat ek van lees hou, al het ek van alles nie terstond ʼn volledige verstaan nie.

As taal en taalgevoeligheid gereken kan word as “turn on” (en ek gebruik die Engels nie by gebrek aan ʼn Afrikaanse gelyke nie) vir ʼn leser wat van lees hou, is Voorouer. Pelgrim. Berg. ʼn boek wat jou tone laat kwispel (van die lekkerkry). Moontlik is dit die rede waarom ek so stadig lees aan Winterbach se boeke: omdat elke woord (so voel dit vir my) met die hand uitgesoek is, gelaai is en bedoel is om ʼn spesifieke lading te dra. So ook elke herhaling (soos tone wat kwispel), soos elke verduideliking (in hakies), soos elke kragwoord en elke leenwoord uit ʼn ander taal.

Wat Winterbach doen met inhoud, vorm, taal en verbeelding is gewoon verbluffend.

Voorouer. Pelgrim. Berg. deur Ingrid Winterbach word uitgegee deur Human & Rousseau. Die boek kos R353.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.