Boek van die maand: ‘Wit leuen’ deur Ruan Kemp

Wit leuen deur Ruan Kemp

In plasings op die blad van ʼn virtuele kuiergroep waar boekliefhebbers saam gesels oor boeke wat hulle geniet het en kan aanbeveel vir ander lesers, het sommige sosialemediagebruikers aangedui dat hulle moeite het om in dié roman, Kemp se tweede, in te kom. En om dié rede moed opgee en terstond die boek neersit.

Dat die roman traag en broksgewys aan die gang kom, is waar. Maar dan is dit ook waar dat ʼn mens oor tye van verbrokkeling kwalik samehangend sal skryf. Wat Kemp bied, is fragmente wat op die oog af onverwant is, maar mettertyd in die leesgeheue van die skrywer ʼn voller prentjie begin vorm. Om blikke van die geheel in die oog te kry, is dit gewoon nodig om aandagtig aan te hou lees. Weldra bou die een filmiese tafereel op die ander en kry die verhaal gestalte. Die boek is nie “moeiliker” as byvoorbeeld Aldous Huxley se Brave New World wat 90 jaar gelede al verskyn het nie – ʼn boek waaraan Wit leuen ʼn mens nogal herinner.

Die verhaal word geplaas in ʼn omgewing waar sekere bakens vir die leser nog herkenbaar is, hoewel die land se naam verander is na Uiopa (wat uitgespreek word as “Jou-pa”) – “…dit is makliker om ʼn naam te verander, nie die land nie” (79). Duidelik herken ʼn mens ook utopie as teenhanger van die distopiese omstandighede waarin die land verkeer. Soms twyfel ʼn mens of die verhaal wel in die toekoms afspeel.

Van die drie hoofkarakters wat ʼn mens in die eerste paar bladsye teëkom – (André) Richter, Gerhard en Neal – is dit Richter wat as “padvinder, handelaar, kansvatter” met bepaalde rigterkwaliteite die Melkweg volg – “die Melkweg,” sê hy by geleentheid, “is eilandjies hoop. Ons ry al langs die Melkweg totdat ons geluk tref” (117). Die gehawende landskap waardeur hy met sy trok met skoonheidsmiddels op pad is, beskryf hy as “ʼn see van ellende” (16).

Wat aanleiding gegee het tot die ellende word in die verbygaan genoem “Nonkwassie se lustrum” (124), “toe die beeskrale sonder beeste meer was…” (127), ʼn verwysing na die soortgelyke ellende wat gevolg het op Nongqawuse se toentertydse profesie.

Om die see van ellende nader aan die huis te bring is daar boonop ʼn aansteeklike siekte in die rondte – stink voete wat skoene verpligtend maak en gerugte (ʼn klug) “dat vleiseet jou vrotvoet gee” (127).

Gerhard is ʼn skrywer wat sonder vrede lewe met sy vrou, Irene, en sonder sy seun, Justice. Soos die seun het geregtigheid ook die pad gevat.

Neal se vrou, Anomie, eggo ook in haar naam iets van die verbrokkeling van morele waardes. Sy is “hoog op” by Buroptieka, die staatsinstelling wat die staatshoof se beeld moet poets. Neal werk vir die Buro Regse Aksie, ʼn vuurvaste bunker onder die Praetorium wat die staat se mangels is (20) en kieme in Uiopa moet uithou. Dit is in die marmervloer op die grondverdieping waar daar in goue letters staan: “Die leuen versteek nie die waarheid nie – dit is die waarheid wat die feit verskuil dat daar nie een is nie. Die leuen is waar” (26).

Neal bou onder meer ʼn helikopter van hout, is ʼn paddaman, en saam met sy jong seun, Champ, bevind hy hom mettertyd in Richter se trok – die einste trok waarmee Richter en verpleegster Margaret op vlug is.

Soos wat distopie nader kom, raak al hoe minder dinge eweneens bisar. ʼn Mens sou wou dink jy het al alles gesien of minstens daarvan gehoor. Nietemin verras Kemp ʼn mens, nie net met sy verbeelding nie, maar ook die uitbeelding (vroeër het ek verwys na die filmiese aard van sy beskrywings) van karakters, plekke en gebeure. Deur dit alles vleg hy kommentaar – sy karakters het almal heelwat te sê oor die samelewing – aan die hand van uiteenlopende tekste. Kemp skryf met ʼn ferm en vindingryke hand (woord- en toespelings is daar heelwat) en kom in dié gefragmenteerde wêreld vorendag met ʼn geflanste woordeskat wat blyke daarvan gee – woorde soos “burokonome”, “vomeratorium” en “knieltyd”.

Opvallend hoeveel karakters in die roman lag. Dié ligte aanslag waarmee Kemp werk bring nie net verposing in dié see van ellende nie, maar herinner ook aan “eilandjies hoop”.

Kemp se eerste roman, Gedeeltelik bewolk (2019), het in 2020 aan hom die UJ-prys vir debuutskrywers besorg.

Ruan Kemp se Wit leuen word uitgegee deur Tafelberg. Die boek kos R297.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.