Boek: Vandat jy weg is

Vandat-Jy-Weg-Is-Voorblad.jpgSantie van der Merwe

Santie van der Merwe is terug. Haar debuut het almal, ook selferkende boeksnobs, aan die praat gehad. Die tweede boek volg op die eerste, so daardie oorrompelende karakters leef nou voort.

Helen Schöer sê in ’n resensie op Netwerk24 die volgende oor Santie se debuut, Gelyke kans:

“Ek voel byna verleë oor hoe baie ek dié boek geniet het, want dis nie my gewone soort leesstof nie. Gewoonlik verkies ek iets meer leersaam en insiggewend. Ja, ek’s ietwat van ’n boeksnob, maar dit was ’n stresvolle week en om in die bad te lê met Gelyke kans was pure ontspanning en daarvoor is ek die skrywer, Santie van der Merwe, dankbaar. Ek gaan nie die einde verklap nie, maar dit is bevredigend. Ag, en as ek nou eerlik is, ook leersaam en insiggewend, selfs vir ’n boeksnob. Gaan koop self die boek en kyk of jy saamstem met Jessica se besluit. Ek het.”

Hier is die tweede boek nou. Jessica en Anton de Lange besef dat die huwelik wat hulle die afgelope paar maande aan mekaar probeer plak het, nie redbaar is nie. Die noodlot gryp in, en ruk Anton finaal weg. Jessica bly agter, van voor af verpletter. Sy moet staande bly ter wille van haar drie kinders en haar florerende besigheid wat soveel ander mense se lewe raak.

Toe sy besef haar jeugliefde, Joe Verster, het moed opgegee om haar liefde te probeer wen, is dit vir haar ’n dubbele verlies. Joe het ’n kontrak geteken om vir ’n jaar lank by ’n kliniek in Kenia te werk. Hy gaan terugkom, verseker hy haar. Dit sal haar tyd gee om haar verlies te verwerk, om haar lewe in oënskou te neem.

Sal Jessica en Joe se liefde die toets van tyd deurstaan? Is dit ooit ware liefde, of bloot versotheid? En sal hulle ooit ontslae wees van die spook van Anton de Lange?

Soos Helen Schöer sê:

“Van der Merwe is nie net ’n goeie skrywer nie, haar sielkundige insigte is ook baie interessant. Almal het ‘bagasie’ wat hulle saamdra uit hul kinderjare en dié bagasie speel ’n rol in enige verhouding. Hoe beter die leser die twee karakters leer ken, hoe beter sien jy hoe, waar en hoekom die huwelik ontspoor het.”

Van der Merwe het op ’n laat ouderdom gedebuteer, en hierdie deurleefdheid skyn oral deur in haar werk.

Vandat jy weg is is ’n volwaardige opvolger op ’n uitstekende debuut.

Uitgewer: LAPA-Uitgewers
Prys: R199,99*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.