Boek: Ver in die wêreld, sushi

Ver-in-die-wêreld-sushi-HRKoos Kombuis

In musiek- en skrywerslegende Koos Kombuis se jongste rubriekeversameling kom ’n verskeidenheid onderwerpe onder die soeklig, soos die stommiteite van politici, die irrasionele vrese van Afrikaners wat nog in die laer skuil, die sensitiewe ego’s van plaaslike musikante, en die wanstaltigheid van amptenare wat die banaalste vorme van burokrasie in stand hou.

Kombuis presteer nie net as satiriese kommentator nie. Sy ode aan sy oorlede moeder en die nostalgiese herinneringe aan sy kinderdae sal lesers diep ontroer. Bowenal verteenwoordig Kombuis se kritiese stem daardie Afrikaners wat hulleself beskou as trotse burgers van die globale dorpie – hulle wat susji kan geniet sonder om ’n gesigspier te vertrek!

Ver in die wêreld, sushi! is ’n keur uit die rubrieke wat tussen 2005 en 2015 verskyn het in publikasies soos Rapport, De Kat, Taalgenoot en op LitNet en Netwerk24. Kombuis-bewonderaars kan nie genoeg kry van die skrywer se sonderlinge humor, verhelderende insigte, kompromislose eerlikheid en meevoerende styl nie.

Oor die outeur

Koos Kombuis/Koos A. Kombuis is die alias van André le Roux du Toit, ook bekend as André Letoit. Nadat hy aan die Hoërskool Menlopark in Pretoria gematrikuleer het, het hy sy nasionale diensplig voltooi en daarna verskeie werke gehad, onder meer as ’n klerk in die openbare sektor, ’n assuransieverkoopsman en ’n brandweerman. In 1980 debuteer hy as André Letoit in die digbundel Brêkfis met vier saam met Daniel Hugo, Peter Snyders en Etienne van Heerden. Hierna het verskeie digbundels gevolg. In die laat tagtigerjare het Kombuis saam met Johannes Kerkorrel betrokke geraak by die alternatiewe Afrikaanse musiekbeweging as leiers van die Voëlvrytoer.

Oor die laaste paar jaar het hy o.m. ’n outobiografie, Seks, drugs & boeremusiek, geskryf, en romans soos Hotel Altantis, The Complete Diaries of God en Raka – die roman. Tydens ’n loopbaan wat oor 34 jaar strek, het hy hom gevestig as een van Suid-Afrika se gewildste en invloedrykste rubriekskrywers. Tydskrifte en internetforums soos Rapport, LitNet, De Kat, Netwerk24 en Thought Leader dien as platforms vir sy opiniestukke.

Uitgewer: Penguin Random House South Africa
Prys: R210,00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eliza-beth ·

Hene tog, daar is letterlik honderde Afrikaanse boeke wat ek so graag wil hê, maar met die prys van boeke… Sal maar vir kersvader ‘n briefie moet skryf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.